
Februarie 2025 – WATER projek – Kommentaar en uitslae
Baie geluk aan hierdie 12 lede!
Wenners:
GEDIGTE:
BRONS:
- (11) Christa Diederiks met Akwakooi
- (12) Aniki Joseph met Moedertaal
- Geen
SILWER:
- (29) Marlene Erasmus met Druppeldans
- (26) Colin Steyn met Waterskeiding
- (27) Retha van Deventer met Oranje Poseidon-soene
GOUD:
- (24) Elize Kruger met Elikser
- (18) Loretta Szikra met Spoelsand
- (8) Anzé Bezuidenhout met Bottelbrief
PROSA:
- (8) Marlene Erasmus met Wanneer die aarde sug
- (3) Ano met Dag zero
- (4) Ano met Dam sonder water
VERHALE:
- (2) Pieter Mostert met Rotstekeninge van vriendskap
- (5) Rika Gerryts met As die berge roep
- (1) Marlene Erasmus met Ben en Generaal Brul
KOMMENTAAR:
Gedigte
BRONS
- Eish…ja met ys
Ek sukkel om die titel van jou vers met die inhoud inverband te bring. Alhoewel jy van selektiewe interne- en gebrokerym (wees/vrees en leeg/beweeg) gebruik gemaak het is ek nie oortuig dat jy aan die opdrag gehoor gegee het nie. Ek gee jou egter die voordeel van die twyfel. Jy spreek `n probleem in ons samelewing aan wat baie nodig is. Let daarop dat jy nie lukraak van hoofletters gebruik kan maak sonder dat daar motivering daarvoor is nie. Hoofletters in die skelet van jou vers moet voorafgegaan word deur een of ander vorm van punktuasie. Die vers is keurig.
- Magtige dreuning
Altyd as ek die woorde (in jou titel en eerste sin) raaklees dan dink ek aan Marthie Hauptfleish se lied “Die lied van jong Suid-Afrika) en dit stem my nostalgies.
Soek die “alt-skakels” op jou sleutelbord sodat jy die korrekte manier kan vind om byvoorbeeld “reën” te skryf. (In jou eerste strofe is dit verkeerd maar dan korregeer jy dit later).
Ek is dankbaar dat jy gepoog het om aan die rym-opdrag gehoor te gee, maar dit het jou laat kleitrap met die inhoud van jou vers. Die konstruksie, woordkeuse en woordordes het skipbreuk gely en jou aanbieding kripties en slordig laat klink.
- khun mee khaa (คุณมีค่า)
Jou titel is interessant. Ek het gou gaan naslaan wat dit beteken. Miskien kan jy in die toekoms `n voetnota plaas sodat jou leser die inligting het sonder om te gaan soek daarvoor. Ek is dankbaar jy het jou vers gedeel maar die rym-opdrag is nie nagekom nie. Alhoewel ek dink jou vers is keurig, kan ek dit ongelukkig nie evalueer nie.
- Siel van `n digter in `n watergraf
Ingrid Jonker en haar wel en wee is al tot vervelens toe verdig. Jy het `n effe vars greep hierop, maar die inhoud is verwarrend op sekere plekke. Kyk veral strofe 2. Jy het nie aan die rympatroon-opdrag gehoor gegee nie en daarom kan jou vers nie in aanmerking kom vir `n wenplek nie.
- Akwakooi
Dit is `n besonderse mooi vers wat die wonders en skoonheid van die see besing. Jy is getrou aan die volledige opdrag wat lengte en rympatroon betref. Die inhoud is beeldryk en pragtig en die aanbieding is besonders. Welgedaan.
- Moedertaal
Kort en kragtige vers. Reël 4 en 5 rym mooi en ek dink jy het die opdrag se funksionele rymptroon so geïnterpreteer. Ek dink die inhoud is keurig. Die onderwerp is mooi verweef tussen die veerkragtigheid van Afrikaans en die water tema. Mooi gedoen.
- Afrika Bloekoms
Tipografies is jou vers `n juweel. Ek kan amper die bome in die landskap sien. Die inhoud is keurig en funksioneel bondig. Jy het ongelukkig nie aan die rymskema opdrag voldoen nie. Dit hou jou van die podium af, tóg is jou vers keurig en ritmies.
- Tydelike reën
Die vers verwar my in totaliteit. Wat is die boodskap in die laaste strofe? Woordekeuse en -orde hierin is seer verwarrend. Jy het ook nie aan die rymskema-opdrag gehoor gegee nie.
- Lafenis resep
Jou rympatroon in die 1ste strofe is gebroke en omarmde rym in die volgende 2 strofes. Jy sluit met `n koeplet wat van paarrym gebruik maak. Jy het dus mooi gehoor gegee aan die rym-opdrag. Ek het effe voorbehoud op van die woordkeuses wat jy ingespan het om jou rymskema te bewerk, maar ek gaan jou die voordeel gee. Ek het ook vrae oor van die begrippe hierin nl. “strome wat koers hou met wyse begrip”, “die oeroue gees van die maan”, en “swyende gevoelente”. Vreemde “samewerking” van die tasbare en ontasbare in poësie is nie ongehoord nie, maar dit moet tog `n funksionele middel wees om `n doel te bereik. As voorbeeld: die “wyse begrip van die stroom” moet deurgetrek kan word om `n vergelykende doel te dien. Jou vers wend hom nie werklik na `n vergelyking nie, ek verstaan dit, maar ek probeer jou daarop wys dat sulke konsepte deurgetrek en gemotiveerd behoort te wees. Ek weet nie of ek my mening in geheel duidelik genoeg verwoord het nie. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com dan gesels ons verder hieroor. Ter wille van kontinuïteit, sluit asseblief jou vers en my kommentaar by jou epos in.
SILWER
- Berou
Ek haal jou hele vers hier aan en plaas my kommentaar in hakies na elke sin:
“soos water op ‘n eend se rug
(het geen impak nie: verstaanbaar)
watertand-traan vergifnis
(wat sal watertand-traan hier beteken? Dat die een wat trane stort dit uit lekkerkry doen? Ek dink nie dit is `n geslaagde metafoor nie.)
uit edel gedagtes geklug
(ek sou dié sin en die volgende omruil, want jou rympatroon verander in elk geval in die volgende strofe)
leë beloftes van deernis
druppel-kringend wedywer
(wat bedoel jy hiermee? Waaroor gaan die wedywering?)
oortuiging al wyer en wyer
(hier meld jy dat oortuiging “groter” word, maar dan in die volgende sin syfer woorde weg?)
syfer woorde weg soos water
in leë poele van hoop op later
maar herhaling tru-spieël
gedragspatrone van gisters
en eergisters se spieël”
Ek verstaan die sentensie hierin, maar daar is gedeeltes van die gedagtegang wat sonder motivering inkruip. Jou vers het baie potensiaal. My voorstel is dat jy effe daaraan skaaf.
- Ek sien
Ek is stout deur genadeloos aan jou vers te krap, maar die potensiaal en skoonheid hierin lei my in versoeking.
Jou rympatroon is:
ababc deed
Dit laat my wonder of daar nie funksioneel ontslae geraak kan word van die 5de reël in die eerste strofe nie? Ek bedink jou vers soos volg (dit is bloot `n voorstel en nie evangelie nie)
“in mirre van jou oë se blou
spieël-prentjie reënboë
wat jou hart se water hou
en sewe-kleur jou oë bewoë
tóg, as ek dieper kyk
in die venster van jou oë
sien ek hoe die reënboë
oor die ark van ons liefde pryk”
Dan verder:
- Mirre is `n lym (hegmiddel soos gom) en daarom wonder ek of dit die beste keuse vir `n metafoor is?
- Die tweede sin: “spieëljie-prentjie reënboë” is amper `n tongknoper. Die verkleiningsvorme neem vir my weg van die erns van die onderwerp
- Die herhaling van “reënboë” en “oë” in strofe 1 en 2 pla my oor ook, maar ek het nie op die stadium `n gepaste oplossing daarvoor, sonder om verder aan die rymskema te krap nie.
- Die gebruik van “ark” is pragtig want dit simboliseer oorlewing.
Die vers is besonder. Ek hou baie hiervan.
- Vloedsvaart
Al die “s’e” wat so by die woorde ingesluip het, nl. “Vloedsvaart, wolkswatte, blinksdonkerte, stapskaart, drenksdood” laat my wonder: wat gaan hier aan? Is dit met opset, `n vingerglips of bloot digterlike vryheid? Dit hoort natuurlik almal sonder die koppel-“s” geskryf te word. Die beeldspraak hierin is oorweldigend. Ek probeer verstaan dat die digter die trauma van `n vloed probeer verwoord, maar ek, selfs as `n gesoute leser sukkel om elke nuanse hierin te verteer. Die vers sluit baie sterk maar ek dink die aanloop kan baie funksioneel lesersvriendelik gemaak word. Ek help jou graag as jy vir my `n epos stuur na inkmoderator@gmail.com. As jy van my aanbod gebruik maak, heg asseblief jou vers en my kommentaar aan. Dit maak net die navraag meer stroombelyn.
Jou vers het geweldige potensiaal.
- Somerstorms
Ek het ‘n hele paar opmerkings hieroor:
- Dit wil voorkom asof sekere woorde en begrippe gebruik en geskep is SLEGS om die rympatroon te skep en dit maak nie werklik `n bydra tot die vers nie;
- Jy skep twee voltas in jou vers, in die 2de en 3de strofe;
- Die “spasie” (plek) waar die gedig “afspeel” verwar ook. Strofes 1 verwys na winde wat om hoeke huil en strofe 2 verwys na `n kuslyn.
- Woordkeuse en -orde laat ook vrae ontstaan.
Die gedig het potensiaal. Kontak my op inkmoderator@gmail.com as jy wil hê ons daardeur moet werk. Heg asseblief jou vers en my kommentaar aan in die epos. Dit maak die omdraaityd vir navrae makliker.
- Strome
Ek vind sommige van die beelde hierin aangrypend (woudsale, bergkatedrale). Dit skep `n majestieuse prent in die gedagtes van die leser. Ek hou van die ritmiese aanbieding en die rymskema, tóg het ek reservasie oor die eerlikheid van die woordkeuses. Dit wil amper voel asof sekere woorde slegs gekies is om te rym.
Ek noem `n paar voorbeelde:
“aarselend oor klippies heen
koel strelend oor voet en been
geen doel om te (vervreem)”
Wat sou die laaste sin beteken? Wie of wat behoort nie vervreem te word nie?
Wat van “in `n mooie ekosisteem”? Ek kan ander menige ander woorde dink wat sal bydra tot `n beter ongeforseerde rymskema.
“eers dan herken jy die stem
wat almal maar sukkel om te (tem)
dit baat nie om aan hom te (rem)”
Beide “tem” en “rem” pla die oor en oog. Ek kan die keuse van “stem” verstaan want dit spruit uit die vorige strofe waar die karakter in die spieëlbeeld van die water hom/haarself innerlik “raaksien”, maar om gepaste rymwoorde vir stem te vind in hierdie opsig is moeilik.
Ek sien hierdie strofe so:
“eers dan herken jy die self
wat ander sukkel om uit te delf
om hul opinie sag te verwelf”
Alles is voorstelle en jy kan dit deurwerk. Rymskemas is baie moeilik en kan maklik geforseerd voel, maar hoe meer ons oefen en ons woordeskat vergroot, hoe makliker word `n eerlike vers.
Ek hou van jou vers, al my kritiek ten spyt.
- Waterskeiding
Die onderwerp van water word baie interressant in jou vers verweef. Dit is vir seker `n baie vars invalshoek. Ek het egter `n paar aanmerkings:
- Waak teen die gebruik van hoofletters in jou vers wat nie meriete het nie;
- In die 2de strofe, laaste sin, lees so: “en jou strome van lewe vloei in die woestyn”. Hoort “jou” daar, en na wie verwys dit? As dit water is waarna verwys word dink ek die gebruik is onnodig;
- Die gebruik van “gedompel” en “oorrompel” is bloot net lelik. Ek is seker jy kan dieselfde “boodskap” oordra met ander woorskeuses.
Soos ek reeds genoem het: die vers is vars en slim. Daar is klein uitdagings maar dit is herstelbaar.
- Oranje Poseidon-soene
Ek dink jou titel is onnodig dramaties. Dit kon maklik “Groot Oranje” heet en dan `n beter beskrywing wees van die inhoud. Die klem is mos op die rivier en die uitloop in die see is maar `n klein deel van die geheel.
Beelde soos “erosie-natgetuig”, “hidro-stem” en “maanblank-strand” is vir my pragtig.
Die rympatroon abab cdcdefe ghg is mooi. Ek dink op sekere plekke is die vers bietjie oorbeskrywend, maar dit hinder nie die ritme nie. Die vers is mooi keurig en goed ontwikkel. Pragtige werk.
- Druisryk
Ek het nougesette voorbehoud oor die “eerlike” gebruik van sekere woordkeuses ter ondersteuning van jou rymskema. Jou rympatroon werk, tóg wil dit voel of sekere keuses geforseerd is en nie die beste keuse is nie. Jy sal alleen weet of dit presies is wat jy wou skryf en of die keuses nie alleenlik gemaak is om te rym nie. Ek gee jou egter die voordeel van die twyfel. Jou vers is beeldryk. Jou titel, Druisryk (wat ook in die vers voorkom) neem ek aan is `n nuutskepping. Ek dink ek verstaan wat jy daarmee bedoel maar ter wille van duidelikheid sal dit goed wees as jy in die toekoms `n voetnota skep om dit aan jou leser te verduidelik. Die vers lees ritmies en is sonder twyfel geslaagd in alle opsigte van die opdrag.
- Druppeldans
Jou vers lees so mooi ritmies soos die titel aandui dit sou. Ek hou baie hiervan. Ek wil egter paar voorstelle maak:
- In die tweede sin (str. 1) sou ek maklik “uitkoms” met een of ander musiekterm kon vervang:
“Teen sink se silwer speel `n sagte lied
opus in tik-tak, tik-tak aangebied…”
- Str 2, lyn 3 en 4:
“Tik-tik, tok-tok asof `n harde skoot
kletterend soos `n donder-musieknoot”
Twee klein voorstelle.
Die res van die gedig is `n heerlike ervaring. Baie dankie. Mooi gedoen.
GOUD
- Watermerk
Die eerste 6 sinne hierin het potensiaal, en ek sien hul so (om die ritme te verbeter):
“Hoog bo seevlak waar windstrepe dwaal
vertel Moeder Natuur, in `n lied, haar verhaal
van strome dreunend uit klippe se mond
spoel dit oor rotse bruisend tot teen die grond.
Op die rivierbank, my tone in die sand
sien ek hoe riete buig in haar silwer hand”
Hierna verloor jy my aandag. Die res van die gedig maak vir my geen sin nie, en ek kan op geen manier die inhoud daarvan inverband bring met die eerste 6 sinne nie. Dit is nie eens `n volta nie, maar amper `n eiesoortige vers op sy eie. Gesels gerus met my op inkmoderator@gmail.com
- Die sout in haar trane
Wat, in jou mening, is “verwerpte smart”?
Verwerp = weier, afkeur, teëstaan ens.
Smart = pyn, trane, verlies ens.
So, in die geval van jou vers (str 1) voel die karakter “die seer van afgekeurde pyn/verlies?”
Behoort daar nie geen pyn te wees as dit smart verwerp is nie? Die woordkeuse is nie korrek nie. Sou jy skryf:
“voel die seer van
verwerping en smart”
werk dit. In jou woordkeuse, nie!
Ek besef dit is `n teer en persoonlike ervaring wat verwoord word, maar die vers is nie goudstandaard nie.
- In `n oogwink
Lieflike en praktiese tipografie in jou vers. Daar is nie `n vasgestelde rympatroon nie, maar die selektiewe aanwesigheid is keurig. Die inhoud is teer en die “boodskap” is baie mooi oorgedra. Netjiese vers.
- Bottelbrief
Die konsep van `n “bottelbrief” bestaan reeds, en veral seker in die Anglo-Amerikaanse dialek as “message in a bottle”, maar kan jou gelyk gee (omdat jy dit as neologisme aangedui het): dit is nêrens in enige Afrikaanse bron so oogeneem nie.
Die endrympatroon (abcdedfgd) is keurig.
Jy het ook van Intere (en/of middelrym) gebruik gemaak deur Alliterasie:
kelpblaar ; koraal, bottelbrief ; bied ; lied ; giet, wees ; seester ; seën.
Die simboliek van die seester ontgaan my ook nie, want dit word wyd geglo dat dit “hernuwing” verteenwoordig.
Dit is `n baie teer, omgee vers.
- As dit reën in die Boland
Alhoewel dit nie `n baie ernstige vers is nie, eerder effe speels, is dit pragtig ritmies met lieflike beelde. Die verpersonifisering hierin is opvallend, gepas en keurig.
Dit is `n heerlike leesvers wat die leser se sintuie behoorlik stimuleer. Goeie werk.
- Verhemeldekanse
Die vers is sensueel en smaaklik aangebied. Die leser kan maar selfs die toneel verbeel in watter mate dit ookal vir die individu van pas is. Dit is regtig smaaklik en die beelde (die kolganse en berge, nie noodwendig die naaktheid nie is pragtig. Die slot is vir my baie mooi.
- Spoelsand
Wat `n aangrype mooi vers! Ek het absoluut geen kritiek hierop te lewer nie. Ek kan net sê: Meesterlik en onoortroffe. Jy het ook funksionele nuutskeppinge ingesluit.
- Ongetiteld: Senryu gedig
Jy het aan al die voorskrifte voldoen. 17 lettergrepe in in 3 versreëls. Jou neologisme is funksioneel. Anders as in die Haiku waar die onderwerpklem gewoonlik die natuur is, vra `n Senryu vir `n siniese, amper donker humoristiese blik op die mens. Jy het veral vir my daarin geslaag deur na die “koperkomme” te verwys wat so `n half sarkastiese verwysing is na “klatergoud”. Die menslike toestand is ongelukkig een van om maklik te wond maar moeilik daarvoor verantwoordelikheid (verskoning) te vat. Skerpsinnige vers.
- Woestynreën
Ek hou van die emosie wat jy ondersoek omdat die “mens” in die droogte op reën smag. Dan die volta (ommekeer) waar die reën `n verandering bring en die droë grond in kleure kan ontplof. Die menslike psige wat jy in die 3de strofe ondersoek, deur na beide kante van die emosionele munt te kyk, en die emosionele verandering te verwoord, is besonders mooi. Dit is `n heerlike, ritmiese en goed ontwikkelde vers wat baie lekker lees. Welgedaan.
- Elikser
Ek kan sien hoekom jy in die goueklas deelneem. Genade! dit is so `n treffervers die! Die besonderse beelde, die woordorde en -groeperinge, ritme, metrum, en die ongelooflike teer-lieflikheid hiervan is doodeenvoudig net meesterlik. Ek haal my hoed af en buig voor die skoonheid hiervan. Ek het slegs een klein kritiek: sluit jou vers met `n punt en nie `n ellips nie.
- Die windpomp het gedraai
`n Digter wat in die goudklas deelneem, doen so omdat hulle `n bo-gemiddelde begrip het van poësie, die nuanses, digvorme en belangrik ook: opdragte. Die opdrag was so mooi duidelik (en nogal nr. 1) Nie meer as 16 reëls nie. Jy het dit totaal geïgnoreer en daarom is dit nie regverdig teenoor jou kollegas op INK as ek jou vers evalueer nie. Jammer.
PROSA
- Misreën-genade
Jou skrywe begin deur `n entiteit, wat ongeïdentifeerd bly, aan te spreek. Die leser kan nie onderskei of dit sardonies verwys na `n anekdote uit die skrywer se eie ervaring nie, en of dit `n algemene verwysing is. In welke genre van prosa skrywers ookal deelneem, behoort die inhoud tog vir die leser sin te maak. Daar is `n verwysing na “sluise van die hemel”, wat natuurlik op stortreën dui. Ek as leser verstaan nie waarom die skrywer so `n beeld in hierdie verband gebruik nie. Dit maak nie sin nie. Die algemene draad in die skrywe is verstaanbaar, maar die beeldspraak is nie sinvol nie.
- Vrees
Pendanties van my en eintlik maar net semantiek, maar ek dink vrees (selfstandige naamwoord) sal eerder `n karakter hê as `n persoonlikheid. Miskien in jou geval, waar vrees eintlik verpersonifiseer word (horings en `n stert) kan geredeneer word dat dit wel `n persoonlikheid het, maar ek dink dit is bietjie vergesog. Ek lees onlangs op die INK Facebookblad `n gedig “Mobiele plaas, met permissie…” en skielik herinner jou skrywe my daaraan. Die boer wat kos tafel toe bring in die meeste huise in ons land, se pleidooi vir reën en goeie oeste val nie op dowe ore nie. Daar is `n diepgewortelde respek en liefde vir die boer in ons DNS verweef. Terwyl julle die 15de Maart van julle knieë opstaan en gaan weiding soek, sal ons, wat van jul vreeslose uithou en aanhou afhanklik is, op ons knieë bly. Mag dit reën en mag die oes en die kudde gedy. Baie netjiese teer skryfstuk.
- Dag zero
Ek het werklik geen kritiek hierop te lewer nie. Die inhoud is keurig aangebied. Die belangrikste les is die blywende goeie gewoontes wat gekweek is, al is buurvrou se CV nie so “watersparend” soos die res nie. Baie netjies geskryf met goeie sinkonstruksie, geen spel- of woordordelike foute nie. Welgedaan.
- Dam sonder water
Dit is sulke skrywes wat my opgewonde maak. Nie nét is dit netjies en keurig aangebied nie, maar dit is ook leersaam. Ek het ook nooit hiervan geweet nie. Baie dankie vir `n smaakvolle aanbieding en ook dat jy die leser verrassend ingelig het.
- Daar’s iets in jou kraan
Daar blyk slegs leegheid in die kraan te wees. Let daarop dat jy na twee verskillende dorpe in jou skrywe verwys. Een lê nié langs die Gariepdam nie. Sulke foute behoort nie in te kruip as jy jou werk hersien voor jy plaas nie.
Jy spreek natuurlik `n groot probleem aan want dienslewering blyk nie `n prioriteit te wees nie. Water is egter `n reg, en hoe dié probleme opgelos gaan word is seker die grootste vraagstuk in die moderne Suid-Afrika. En die ironie ontgaan my nie wanneer ek na `n moderne SA verwys nie. Jou skrywe is keurig.
- Die naaldekoker in my
Dit is mooi hoe jy die gefladder van die naaldkoker gebruik om jou eie filosofiese gedagtes te verwoord. Ja raak natuurlik flietend aan sekere dinge (soos dorp dag, kinders ens.) maar jy brei nie genoegsaam uit sodat jou leser weet waarom jy die inligting ingesluit het nie. Die skrywe is egter keurig en netjies aangebied. Mooi gedoen.
- `n Onverwagse oplossing vir pyn
Jou plasing is keurig. Let net op `n paar klein jakkalsies:
Woordorde:
- “…hoe meer maak dit sin…”
- “…ek het soos `n nuwe mens gevoel…”
Woordkeuse:
- “…regtig die moeite werd is…”
- “…verras met minder pyn…”
Dankie vir jou deelname.
- Wanneer die aarde sug
Lieflike beelde soos “Daar kom lê `n stilte oor die gemeenskappe soos `n wag wat nie weet wanneer sy diens verby is nie.” ; “water is `n trooster sonder woorde” ensovoorts. Die skryfstuk is werklik lieflik ontwikkel, pragtige beelde en sorgsame versorging. Ongelooflik netjies.
VERHALE
- Ben en Generaal Bul
Dit is `n keurige kinderverhaal wat `n mooi les vir kinders (en volwassenes) vervat.
Ek wil jou tog daarop wys, en ek gebruik 2 van jou sinne as voorbeeld, dat sinkonstruksie baie belangrik is by die oorvertel van `n storie.
“Daardie dag het sy liefde vir water vir Ben verander.”
In die bostaande is die woorde “vir Ben…” totaal oorbodig. Die leser is reeds bewus wie betrokke is.
“Daardie dag het sy liefde vir water verander.” Klink en lees baie beter.
Verder, kyk na die volgende sin:
“Versigtig het hy stadig nader gestap, sy hart het vinnig begin klop en sy gedagtes het hom amper laat weghardloop van die dam af.”
“Versigtig” in hierdie verband beteken reeds “stadig” en is dit dus totaal onnodig om dit te herhaal.
Die geheim is om jou leser te boei, en ongelukkig, het onnodige herhaling of woordoorbodigheid (wat nie funksioneel is nie) juis die teenoorgestelde uitwerking.
Jou verhaal is egter keurig en netjies aangebied.
- Rotstekeninge van vriendskap
Toe ek hierdie verhaal begin lees het ek dadelik die karakter en die “storie” herken. Ek gaan krap toe in my ou menings en vind dat die gedig “Die Melkweg” wat reeds in Julie 2023 gemodireer is, dieselfde karakter(s) en “storielyn” bevat. Ek neem aan jy is die outeur van beide die werke. Dit staan jou dus vry om jou vers in `n kortverhaal te ontwikkel. Soos ek in my kommentaar gemeld het met die terugvoer op “Die Melkweg” is dat die gedig woordswaar is. Ek het nie dieselfde mening aangaande die verhaal nie. `n Verhaalspasie leun hom tot hierdie storie en dit is heerlik en aangrypend. Hierdie “storie” is gebou vir `n verhaal en nie vir `n gedig nie. Jy het mooi hieraan geskryf en ek is baie beïndruk hoe behendig jy die vers in `n verhaal ontwikkel het. Welgedaan.
- Watermoles
Vermy onnodige herhaling nl. “verdien hulle `n blaaskansie…” Die “manne” herhaling is onnodig. Waak teen té lang sinne sonder punktuasie.
Spelling is `n uitdaging: “besluitl, n`, lê” Gebruik die ALT kodes op jou sleutelbord om die aksente (hakies, deeltekens ens.) korrek op jou woorde te gebruik.
Waak daarteen om jou leser nie te lepelvoer nie. As voorbeeld: “Die rivier se water blink soos die son daarop skyn”
Die leser weet dat die water blink agv die son. Dit is onnodig om dit te noem.
Sinkonatruksie: “Douglas sien kort-kort flitsende ligte tussen die bosse verder af gewaar” ???
Punktuasie gebruik in die verhaal is slordig. Die storie ontsluit stomp. Miskien kon jy voorsiening gemaak het vroeër in jou storie om die ontsluiting meer egalig te maak. Ek is nie baie oogewonde oor die kwaliteit hiervan nie.
- God loop op water
Ek dink die storie is keurig genoeg. Die onderwerp is natuurlik nie baie oorspronklik nie, maar die invalshoek daarvan bring `n greintjie varsheid.
- As die berge roep
Die storie is mooi ontwikkel. Die karakters speel `n nodige rol in die storielyn. Dit is, alhoewel hartseer, `n goeie en mooi verhaal. Netjies aangebied.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.