Is ’n ‘Digitaal-algoritmiese Jesus’ die nuwe begin?
Ek sit voor my skootrekenaar, besig om te werk aan ’n artikel vir ’n christelike tydskrif. Skielik pop daar ’n venstertjie op wat sê: Its time to upgrade … ! (Dit is tyd om op te gradeer).
Dít het my denke geprikkel met die vraag of Jesus ook “opgegradeer” moet word; en of ons net deur ’n nuwe stel lense na Hom kyk?
Ons leef tans in ’n tyd waar die wêreld in jou sak pas. Jou Bybel, jou musiek, jou gesprekke, alles gebeur deur ’n skerm. Jesus is as’t ware altyd en oral op jou skerm. Jy hoef nie meer ’n kerkgebou binne te stap om van Jesus te hoor nie. Jou foon is jou “kansel”. Verder is daar ook preke op YouTube, kort boodskappe op TikTok, digitale Bybels, aanlyn Teologie-kursusse, ensovoorts, beskikbaar. “Toegang” tot Jesus word letterlik verkry met die druk van ’n knoppie.
Hierdie toeganklikheid het, so word beweer, tot gevolg dat mense Jesus vinniger en makliker ontdek. Die vraag wat noodwendig ontstaan is of dit ook beteken dat almal hul eie “weergawe” of beeld van Jesus kan vorm.
Digitale platforms is daarvoor verantwoordelik dat die manier waarop ons geloof verstaan verander, omdat ons dit op ons eie manier, in ons eie tyd, verwerk.
Die internet en meer spesifiek Kunsmatige Intelligensie, (KI/AI), wys vir jou net dit waarvan jy hou. Die implikasie hiervan is dat die mens begin praat van ’n sogenaamde “Digitaal-algoritmiese Jesus”. Met ander woorde ’n Jesus sóós wat jy hom verkies.
Laat ek verduidelik. Indien jy van barmhartigheid hou, wys jou algoritme vir jou ’n sagte, liefdevolle Jesus. Indien jy van sterk stellings hou, kry jy die ‘profetiese’ Jesus. Sou jou liefde in geskiedenis lê, kry jy die Joodse Rabbi Jesus.
Hierdie tipes van ’n “Digitaal-algoritmiese Jesus” help blykbaar mense om makliker met Jesus te identifiseer.
Ongelukkig kan dit ook lei tot ’n gevaarlike verskynsel in die sin dat jy ’n verhouding met ’n persoonlike Jesus opbou wat nooit vir jou ’n persoonlike verlosser en Saligmaker word nie.
In sy boek Algorithms of Oppression: How Search Engines Reinforce Racism opper S.J. Noble egter ’n woord van waarskuwing dat algoritmes ons in borrels plaas met die gevolg dat ons slegs dit sien wat ons reeds glo. Dit is amper soos om jou eie “opgegradeerde” Jesus te skep, een wat by jou smaak pas.
Kunsmatige Intelligensie kan ongelooflik vinnig Bybeltekste vergelyk, historiese agtergrond gee en selfs vir jou opsommings maak. Dit maak studie makliker en eenvoudiger.
Tog herinner A.E. McGrath ons in Theology: An Introduction, daaraan dat tegnologie die data van geloof kan help verstaan, maar nie die diepte daarvan nie. ’n Skerm kan vir jou ’n verduideliking gee, maar nie ’n ontmoeting met Jesus bewerkstellig nie.
Die vraag is egter of Jesus in die digitale era as realisties of geromantiseer voorgestel word? Films, virtuele realiteit en digitale kunsgenerators maak dit moontlik om Jesus se wêreld hiper-realisties uit te beeld, in die sin dát die klipstrate van Galilea, die warm stofpaaie na Judea, die vissersbote op die See van Galilea ensovoorts op die groot skerms vertoon word.
Dít maak Jesus vir baie mense meer “werklik” en naby. Inteendeel hou dit ook die gevaar in dat Jesus ’n “filmheld” of die een of ander estetiese karakter word ’n beeld wat meer oor ons fantasie gaan as oor die historiese Christus.
Teen die agtergrond in hierdie artikel geskets, is die vraag nou: “Is die moderne tegnologiese era ’n Digitaal-algoritmiese inleiding tot ’n nuwe begin van hoe Jesus vandag ontdek en verstaan moet word?
—————————-oooOooo—————————–
©Pieter Mostert
[Aantal versreëls = 627]
Bronne
• Campbell, H.A. (2018). ‘Digital Religion and the Shifting Boundaries of Spiritual Authority’, Social Compass.
• Mostert, P. (2026), God, Mens en Masjien: ’n Teologiese reis deur die Era van Kunsmatige Intelligensie (Konsep manuskrip).
• Noble, S.U. (2018). Algorithms of Oppression: How Search Engines Reinforce Racism. New York: NYU Press.
• McGrath, A.E. (2017). Christian Theology: An Introduction. Oxford.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek