Jongste aktiwiteit:

’n Nuwe bladsy in die sand

Hoe lees die spreekwoord nou weer? Die een se dood is die ander se brood. Sal ons in dieselfde asem ook kan sê: Die een se einde is die ander een se begin?

Johan sit op ’n ou boomstomp onder ’n reuse Kameeldoringboom op sy pa se plaas in die Kalahari. Die son hang laag oor die duine soos ’n groot rooi wond wat stadig besig is om te genees.

“Dit lyk kompleet of die son die horison met hartseer traandruppels vlek. Ek het nog nooit voorheen só ’n sonsondergang aanskou in al die jare wat ek hier op die plaas deurgebring het nie. Ek wonder of die son treur,” vra Johan saggies vir homself.

Johan se pa is ’n week gelede oorlede en Johan is die erfgenaam van die plaas. Hy sit en terugdink oor die verloop van sy eie lewe op hiérdie einste plaas. Sy ma is oorlede toe hy vyf jaar oud was. Gevolglik moes sy pa as alleen ouer toesien tot sy grootmaak en opvoeding. Sy pa het die benadering tot Johan se opvoeding gehad van: Jy leer ’n kind met jou voete, nie jou mond nie.
Met ander woorde leer jou kind om deur jou voorbeeld in die lewe in jou voetspore te stap.
Johan voel letterlik platgeslaan en op moedverlore se vlaktes, want sy Pa was alles in sy lewe gewees.

Voor Johan lê ’n houtkissie met sy pa se persoonlike dokumente daarin. Hy is besig om daardeur te gaan. Tussen ’n klomp ou foto’s en ’n magdom notas op papiertjies, kry hy ook ’n dagboek wat sy pa deur die jare bygehou het. Op die omslag van die boek staan die woorde in verweerde letters: As jy val vang die grond jou nie. Dít leer jou om self op te staan. Wat sou Pa met hierdie woorde bedoel wonder, Johan terwyl hy aandagtig en met groot belangstelling deur sy Pa se dagboek gaan.

Dan kom hy op ’n inskrywing van sy pa af wat lyk soos ’n briefie of tipe ode aan sy oupa gedateer 10 Mei 1973. As hy reg onthou is dit die datum waarop Oupa oorlede is, dink Johan en lees die inskrywing
hardop:

Liewe Pa
In u spore het my kaalvoetjies rigting gevind as kind. Saam het ons hoë duine gekruin deur woestyne van vreugde en pyn en kon ek met u leiding my toekoms trotseer.
Ek het Pa altyd sien glimlag met ’n nuwe dag en die hemelblou van u oë was nooit-nooit bewoë, nie, al was u gemoed soms laag as die son oor die duine verdaag.
U vermanings het ek nie altyd verstaan nie, maar ek kon voel daarin was altyd ’n doel. En Pa, baie dankie dat ek altyd my hartseer asook my diepste geheime met u kon deel, in die wysheid van u oë die antwoorde op my teleurstellings kon kry; en ook in die krag van u arms as kind beskerming kon vind.
Al het die lewe soms duister gelyk, het u nooit my vrae oor die toekoms ontwyk, en het ek elke onderrig van u oor my toekoms in my geheue gestoor.
Ook baie dankie, my pa, dat ek saam met u kon kyk hoe die sterre aan die naghemel wemel.
Nou het die lewensjare grys bedek soos ryp ook aan u slape gekom lek; en u toegevou
tussen ruwe plooie van die tyd in fyn plooitjies om die bleekblou van u oë en is die jare met blou-besnaarde are soos padkaarte op die arbeid van my hande gevlek.
Al het die ongenaakbare ploegskaar van die lewe vandag u liggaam met omgesooie lewensplooie in die skoot van die aarde gelaat, lê al my toekomsdrome nou in herinneringe aan u raad en leiding toegevou op horisonne van onthou.
Dankie, my pa.”

Johan kon nie help om ’n traan weg te vee nie, want, dít is presies die woorde, hoewel meer in digvorm geformuleer, wat hy op sy pa se begrafnis afgelees het as huldeblyk aan sy hom.

Terwyl Johan met trane in sy oë oor die duineveld staar, besef hy dat sy pa se ervaring hier blywende spore vir hom nagelaat het. “Pa, die sand mag u spore vergeet, maar in my hart is hul diep getrap,” sê hy hardop asof hy werklik besig is om met sy pa te praat.
In sy geestesoog sien Johan hoe die uitgestrekte rooi sand van die Kalahari, ’n ‘bladsy’ word waarop hy sy nuwe begin as boer gaan skryf.
“Hoe lui die ou Boesman-gesegdes nou weer?” vra Johan hardop vir hy homself: “As jy nie jou naam met jou vinger in die sand kan skryf nie, hoort jy nie hier in die Kalahari nie. Die wind dra meer as net die stof van die rooi sand. Alles het betekenis,” fluister Johan ingedagte vir homself.
Hy gaan sit op sy hurke en skryf sy naam met sy vinger in die rooi sand. Dan kyk hy op en sê: “Dankie Pa, dat u vir my hierdie ‘bladsy’ tot my nuwe begin nagelaat het.”
—————————————-oooOooo———————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 848]

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak