Jongste aktiwiteit:

“Rig elke pyl uit jou boog op jou nuwe begin.”

Die landskap van die Kalahari lê soos ’n uitgestrekte ‘kosmiese kraal’ tussen die golwende rooi-rooi duine waarbinne mens, dier, elemente van die natuur en die sand in ’n ewige dialoog met mekaar verkeer.

Binne hierdie ‘kosmiese kraal’, wat die raam vorm waardeur die Kalahari ‘gelees’ moet word, word wysheid as lewensritme deur die Boesmanleier, Buks Appelblaar, aan sy groot vriend, Pieter, oorgedra.

Om die Boesmans in die Kalahari, vanweë hul kosmiese eenheid met die skepping, behoorlik te verstaan, het Pieter besef dat hy ast’ware in die kaalvoete van sy vriend, Buks Appelblaar, moet ‘klim’, saam met hom deur die sand moet loop en saans saam met hom om sy vuurtjie, waar stories vertel word, moet kuier.

Gevolglik sit Pieter oudergewoonte langs Buks Appelblaar op ’n stomp onder ’n ou Kameeldoringboom. Hulle sit albei met verwondering in hul oë en kyk hoe die son die horison pêrelpienk met ’n sagte rooi glans vlek en dan agter die hoë duine van die Kalahariwoestyn verdwyn. Skaduwees begin al langer en groter word soos wat die nag uit die woestyn nader kruip.

Buks gaan sit op sy hurke en steek sy vuurtjie aan met twee stokkies wat hy behendig teen mekaar vryf. Die vlamtonge van die vuur begin kletterend gesels. Vir Pieter klink dit soos babbelende Boesmantonge wat besig is om stories te vertel. Hy kan nie help om te wonder of Buks sit en luister na die storie wat sy vuurtjie besig is om vir hom te vertel nie. Soos Buks altyd sê: “Elke vuurtjie dra ’n geheime storie, elke vlam vertel ’n ander verhaal en waar vuur dans, dans die skadu ook.”

Terwyl hy met sy vingers op sy bors tik, sê Buks: “Pieter, my vriend, alles hier in ons Kalahariland gooi ’n skaduwee. Skaduwee leer ons van lig. Skaduwee en lig is balans; en vlamme praat beter as stemme. Soms as jy stil sit en jy kyk na die vlamme, praat hulle sag in jou hart. Jy kry antwoorde sonder dat iemand iets sê. Dis hoekom ons mense vuurmaak as ons groot besluite moet neem.”

Intussen het die nag in sy volle swang soos ’n skitterende swart fluweelkaros oor die Kalahari kom hang.

Taou, Buks se kleinseun, hom aangestap met ’n hooghartige houding van: “As ék praat móét die wind gaan lê en die sand móét luister … !” so al asof hy bokant die grond ‘sweef’.
Wat ’n windgat seun is hierdie Toau nie; en dit in kontras met die nederige houding van sy oupa Buks, dink Pieter byna hardop.

Taou is ’n frisgeboude jongman. In die lig van die vuur blink sy gespierde koperbruin lyf soos gelooide leer. Hy staan ook kop en skouers uit bokant sy mede-Boesmanmaats in Buks se groep. Gevolglik staar almal, veral die jong vrouens, hom altyd aan met bewondering in hul oë. Dít dra alles daartoe by dat Taou homself groter en beter asook verhewe bo ander ag.

Hierdie einste hoogmoedige houding van jou gaan jou nog duur te staan kom, Taou, dink Pieter.
Om Buks Appelblaar aan te haal: “Die man wat te hoog op sy skadu loop, sien nie die gat voor sy voet nie, want hoogmoed maak jou groot in jou eie oë.”

Taou is egter sy oupa se oogappel. Hy is ook deeglik bewus daarvan, want hy maak dikwels misbruik van sy oupa se liefde vir hom. En ja! liefde is soms blind …

“Pieter, my vriend,” sê Buks terwyl hy opstaan en sy een arm om Taou se skouers sit. “Hierdie kleinseun van my, hy sit by my oog en wanneer ek kyk sien ek vir hom eerste. Taou, is die skadu wat my oë ken as ek hom sien, rus my kyk.”

Met ’n breë glimlag op sy gesig en ’n trotse houding kom sit Buks weer langs Pieter terwyl hy ingenome opkyk na Taou wat voor hom staan.

“Buks, my oupa,” sê Taou, “jy is die een wat my geleer loop het. Nou loop ek in jou spore in die sand en oor die hoë duine. Ek wil … ”
Taou, dink Pieter, jou spoor praat mos nou langer as jou voet. Dit wat jy is en doen, vertel meer van jou as wat jy vir jou oupa Buks sê.
“Ja, my kleinseun,” val Buks vir Taou in die rede, asof hy weet Taou wil iets vra, “wat is jou versoek?” Hy wat nie vra nie, trap verdwaalspore in die donkerste nag wanneer die wind hard praat en die sand nie jou naam fluister nie,” voeg Buks by. Wat op dees aarde sou Buks met híérdie woorde bedoel, dink Pieter.

Asof Buks Pieter se gedagtes kon lees, verduidelik hy. “Jy sien Pieter my vriend, onse Boese’mense hier by die Kalahari ons het nie boeke nie soos julle mense daar vêr by die dorpe nie. Ons het ook baie vrae oor die lewe. As jy nie vra nie, sien jy nie en as jy nie sien nie, trap jy op goed wat jou seermaak. Om vra oor die lewe te vra bring wysheid. Die oumense het altyd gesê: Wysheid groei waar stilte blom.”

“Buks, my oupa,” sê Taou, “jou spoor lê diep binnekant by my hart vandag. Ek vra jou goedkeuring dat ek vandag kan loop by Kaggen se mense anderkant daardie hoë duine,” beduie Taou in die rigting van die hoogste duin in die Kalahariwoestyn.

“Ek wil vir my ’n mooi jonk vrou gaan soek by Kaggen se mense. Hier by ons groep is nie ’n mooi jonk vrou wat ek mee wil trou nie. Ek wil vir jou, my oupa Buks, mooi agterkleinkinders gee,” smeer hy sy oupa heuning om die mond.

Pieter kon die skok en verbasing op Buks Appelblaar se gesig sien. Net toe Pieter sy goeie ou vriend wou begin jammer kry, neem Buks, goeie leier wat hy is, beheer van sy emosies en antwoord Taou kalm met ’n glimlag op sy gesig: “Gaan vir seker, my kleinseun. Onthou net dat Naoea, hy praat nie hard soos Kaggen nie, maar jy voel Hom in die wind tussen die sterre. Luister mooi as Naoea met jou praat.” Buks staan op en hang sy pragtige karos wat hy net tydens spesiale geleenthede dra, om Taou se skouers. “Dít sal jou beskerm as jou bene moeg raak, my kleinseun,” sê hy met ’n glimlag op sy gesig, maar Pieter kan sien dat Buks se oë nie saam glimlag nie. Sy oë getuig eerder van hartseer en kommer. “Die mond kan wegsteek, die oë nie.”

Buks neem sy boog, sy pylkoker vol pyle asook sy eie kalbas vol vars water en gee dit ook vir Taou.

“My oë loop saam met jou,Taou,” sê Buks emosioneel saggies, asof hy met homself praat.

“Onthou Taou, my kleinseun, elke voetspoor wat jy in die sand trap is ook ’n gebed in die asem van die wind waarna Naoea luister. Wees versigtig want as jy te vinnig na Kaggen se mense toe loop, loop jou spore oor die waarheid.”

Pieter kan sien dat hierdie wyse raad en vermaning van Buks by die eiewyse Taou se een oor in is en by die ander oor uit is.

Taou groet sy oupa haastig met die hand op die hart en stap die ongenaakbare Kalahariwoestyn binne. Buks se oë volg Taou totdat hy oor die laaste hoë duin verdwyn op pad na Kaggen se mense toe.

Die volgende paar dae stap Buks elke oggend vroeg en weer teen laatmiddag na daardie hoë duin toe tot op sy hoogste kruin en kyk … en kyk … en kyk … of Taou nie dalk aankom huistoe nie. Keer op keer kom Buks teleurgesteld en bewoë terug met die woorde: “Taou, hy sit by my oog, maar wanneer ek kyk, ek sien vir hom nie.”

Taou lei egter ’n heerlike, altans so het hy gedink, losbandige lewe onder Kaggen se mense. In die proses verloor Taou al sy besittingssy pylkoker met pyle, sy boog asook sy karos en die kalbas wat met vars water gevul was.

’n Groot droogte tref Kaggen se mense. Al die watergate het opgedroog en die diere van die duineveld gaan soek groener weivelde.

Taou bevind homself alleen tussen ’n klomp mak vlakvarke in ’n hok op ’n boer se plaas.
’n Depressiewe en moedverlore Taou sit op ’n klip terwyl hy vir die eerste maal in sy jong lewe nadink oor die wyse woorde van sy oupa Buks: “Twee voëls op dieselfde tak droom nie altyd saam nie …”

“Ek verstaan nou wat Oupa Buks bedoel het met hierdie woorde … “ek en Kaggen se mense het saamgeleef, saamgestap, saam met die jong vrouens geëet, gedrink en vrolik gewees, maar ons het nie dieselfde gedroom nie. Toe die swaartye kom het hulle my alleen agter gelos met niks nie, al my goed gevat en weggetrek.

“My Hoogmoed het my na Kaggen se mense toe gejaag. Ek het te hard gepraat sonder dat ek gekyk het waar ek trap en nie geluister wanneer die sand my waarsku nie. Ek het oor die waarheid geloop,” bely Taou hardop. “Ek het berou. Ek sal op my spore terugloop na my oupa Buks toe. Ek sal die sand weer groet as ek in my spore terugloop na my mense toe.”
Kaggen het die karos wat my oupa Buks vir my gegee het gesteel, maar hy sal nooit my oupa Buks se hart kan steel nie. Ek sal opstaan en teruggaan na my mense toe. Ek mag alles verloor, maar nooit die liefde van my oupa Buks en my eie mense nie.”

Taou staan van sy knieë af op uit die sand en gehardloop terug huistoe na waar Buks Appelblaar hom inwag en van vêr af sien aankom.

Buks se oë blink van vreugde soos ’n watergat waarop die strale van die son dans. Sy hart spring op en af in sy borskas van opgewondenheid soos ’n jong springbok terwyl hy Taou tegemoet hardloop en hom vurig omhels.

Hand om die lyf kom Buks en Taou in die kamp aan onder luide applous van Buks se mense. Terwyl die vrouens ritmies hande klap, sing en dans, sê Buks: “Pieter, my groot vriend, Taou, is die skadu wat my oë ken. As ek hom sien, rus my kyk. Naoea het hom vir my teruggebring.”

Dan draai Buks om en kyk na Taou. Vir ’n paar oomblikke kyk hulle mekaar diep in die oë. Taou buig skaam-verleë soos ’n grashalm in die wind voor sy oupa.

Buks vat sy eie karos, hang dit om Taou se skouers en sê vir hom: “My kleinkind, Kaggen het jou boog gesteel, maar jou oupa Buks gee nou vir jou ’n nuwe een.

Terwyl Buks ’n pragtige nuwe boog aan Taou oorhandig, sê hy: “Taou, my geliefde kleinseun, Rig elke pyl uit jou boog op jou nuwe begin.”

————————————–oooOOooo——————————————–

©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1795]
Voetnotas
Naoea is volgens die Boesmans in die Kalahari die hoogste wese.
Kaggen is volgens die Boesmans in die Kalahari ’n bedrieër-god wat in die gedaantes van ’n mantis, slang of eland kan verskyn.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak