Jongste aktiwiteit:

Vandag, vir vandag geleen #silwer

Vandag, vir vandag geleen

Vanoggend het die nuwe dag se gloed my uit die bed kom haal. ‘n Goue straaltjie het saggies sy weg gevind tot teen my kas se deur. Dis asof hy wou sê: “Ontwaak jy wat slaap, en staan op uit die nag se dood; vir jou wil ek iets nuuts wys.” Ek wikkel uit onder die snoesige komberse in dankbaarheid dat ek leef. Die nuwe dag lê voor my soos ‘n geskenk wat wag om oopgemaak te word.

‘n Liedjie van lank gelede, geskryf deur Tientjie du Toit, vorm in die gange van my onthou, en ek neurie dit saggies:
“Die skemeruur voor sonop hou ‘n stil belofte in
en ‘n tortelduif se liedjie maak my bly.
Dit vul die vroeë more,
ek wil dankie sê aan Hom
en ek wonder wat die nuwe dag my bring.”

Ek wikkel my toe in my kamerjas, maak die sitkamer deur oop en ontmoet die nuwe dag in volle glorie. Ek ruik, proe, hoor en voel die varsheid van lewe. Ek voel die koue kielie my wange en my neus. Druppels glinster soos diamante tussen die grasspriete. Die natuur se koor sing uit volle bors in perfekte harmonie.

Ek kyk op na die horison en sien wat die spreekwoord so mooi beskryf as “elke donker wolk het ‘n goue randjie.” Gister se storms is verby. In die doodsnikke van die nag het die hemele oopgebreek en die aarde se vuil en seer van gister weggewas. Teen die blou lug hang ‘n spierwit wolk soos vars geplukte katoen.

Dit laat my dink aan die dae wat ek as kind op die harde banke van die kerk moes sit en luister na woorde wat met passie en vurigheid gespreek is, en wat toe nie werklik vir my sin gemaak het nie. Jesaja 1:18 sê: “Kom nou, laat ons die saak uitmaak, sê die Here. Al was jul sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”

Ek leun teen die glasdeur se raam en sê dankie vir ‘n nuwe oggend. Dankie dat ook my sondes skoongewas is. Dankie dat ek weet, dat al ruk en pluk die storms aan my gemoed en al voel dit of die donker vir ewig aanhou, hou elke nuwe dag soveel beloftes in. Ek weet die son sal wel weer skyn, al voel dit of die reën aanhou bly ween.

Ek hoor die tortelduif koer, en die vinke wat vrolik in die bome gesels. Ek hoor die paddas in die stroompie en die water wat kabbel in die verte. ‘n Vars vrede word weer gebore. ‘n Belofte van goue hoop omraam die spierwit wolk. Elke dag is so uniek. Gister nog het die swanger wolke trane gestort; vandag sweef die voëls in die vars blou lug.

Ek vertoef vir ‘n wyle in die oomblik van stilte, weg van die geroesemoes van ‘n stukkende wêreld, en ek weet Hy maak heel wat stukkend is. My nuwedaggeskenk lê nou in my hande. Wat ek daarmee maak, is wat saak maak, nie wat ander van my sê of hoe èk voel nie. Maar dis ‘n aksie, dis ‘n daad. Ek moet net dit wat Hy my vandag gee, vandag gebruik, om Sy belofte in Jesaja aan ander oor te dra. Dis al wat Hy van my verwag.

Die volgende 24 uur is myne om te leef. Sonder gister se verwyt, sonder môre se bekommernisse.

Vandag, is my splinternuwe dag, toegedraai in Sy unieke geskenkpapier.

Christa Diederiks ©




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed