Jongste aktiwiteit:

Glimlag, jy kry nou hulp

“…moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie…”
Matteus 6:3-4

Daar is ’n sekere soort glimlag wat mens nie in familiealbums kry nie.

Dit is nie die glimlag van verjaarsdae, vakansies of ’n kind wat sy eerste tand vir die tandmuis gegee het nie. Dit is die glimlag van iemand wat ’n brood of kospakkie in die hand hou en nie mooi weet of hy dankie moet sê of net wegkyk nie. Die glimlag van iemand wat hulp ontvang terwyl ’n selfoon op hom gerig is.

“Kom staan net gou nader. Hou die pakkie só. Ja, dit is reg, kyk hierdie kant toe. Glimlag net gou.”

Net gou.

Daardie twee woorde is amper altyd die begin van iets wat langer tyd vat as wat dit behoort te vat.

Verstaan my nie verkeerd nie, want die brood sal geëet word. Die komberse sal gebruik word. Die blikkieskos sal oopgemaak word. Maar die foto bly bestaan; op Facebook. Of op WhatsApp-groepe. In jaarverslae. Soms selfs in iemand anders se goeie naam.

En iewers, agter daardie pakkie, staan ’n mens wat dalk nooit gevra het om die gesig van nood te word nie.

Laat ons eerlik wees: daar is baie mense wat met opregte harte gee. Baie van hulle. Hulle koop brood uit hul eie sak. Hulle ry stofpaaie. Hulle pak komberse tot laatnag. Hulle vra nie vergoeding nie. Hulle sien nood raak waar ander net verbyry. Hulle is dikwels die mense wat ’n dorp aan die gang hou wanneer amptelike stelsels stadig, stukkend of heeltemal afwesig is.

Daarom is hierdie nie ’n aanklag teen hulp nie. Ons het hulp nodig. Ons het mense nodig wat omgee. Ons het hande nodig wat oopgaan.

Maar miskien moet ons begin vra hoekom daardie hande so dikwels ook ’n kamera wil vashou.

Daar is mos ’n verskil tussen gee en wys dat jy gegee het. Daar is ’n verskil tussen verantwoordbaarheid en vertoon. Ja, mense wat skenk, wil weet waarheen hul geld gaan. Dit is ook reg so. Niemand wil hê komberse moet in iemand se garage verdwyn of voedselpakkies in ’n politieke toesprakie verander nie. Maar ’n mens kan tog bewys lewer sonder om iemand se kwesbaarheid saam te publiseer.

Neem foto’s van die pakkies op die tafel. Neem foto’s van die kartonne op die bakkie. Skryf hoeveel gesinne gehelp is. Hou boek en wys kwitansies. Maak ’n kort verslag. Wees eerlik en wees deeglik.

Maar moet die mens se gesig altyd die kwitansie wees?

Ons doen dit nie met almal nie. Wanneer iemand by die apteek hulp kry met medisyne, vra ons nie dat hy met sy pille moet glimlag nie. Wanneer iemand by familie geld leen vir petrol, sit niemand hom op Facebook met die onderskrif: “Dankbaar dat ons vandag vir hom kon help om by die werk uit te kom” nie. Wanneer ’n welgestelde mens ’n guns ontvang, noem ons dit netwerk. Wanneer ’n arm mens hulp ontvang, noem ons dit ’n mooi storie.

En mooi stories het glo foto’s nodig.

Die probleem is nie die pakkie nie. Die probleem is die oomblik wanneer die ontvanger se waardigheid deel van die mooi storie word. Wanneer die kind met te groot skoene, die ou vrou voor haar sinkhuis, die man met sy moeë hande, die “bewys” word dat iemand anders goed gedoen het.

Armoede steel reeds genoeg by mense. Dit steel jou gemak. Dit steel talle keuses. Dit steel soms selfs ’n mens se stem. As jy honger is, is dit nie maklik om vir die kamera nee te sê nie. As jou kinders vanaand kos nodig het, gaan jy waarskynlik nie vra of jou foto asseblief nie geplaas moet word nie. Jy gaan glimlag en dankie sê. Jy gaan die pakkie stywer vashou.

Want wat as hulle volgende keer nie kom nie?

Dít is die deel wat ons nie graag hardop sê nie: iemand wat afhanklik is van hulp, is nie altyd vry om toestemming te gee nie. Daar is ’n ongelykheid in daardie oomblik. Die een gee. Die ander ontvang. Die een hou die kamera. Die ander hou die brood.

En miskien moet die een met die kamera daarom die versigtigste wees.

Nie skuld nie, skaamte. Daardie ou, nuttige soort skaamte wat ’n mens keer voordat jy iets doen wat nie heeltemal mooi is nie. Die soort skaamte wat vra: “Sou ek hierdie foto neem as dit my ma was? My kind? My broer? Ek self?”

As die antwoord nee is, moet die foto dalk nie geneem word nie.

Ons lewe in ’n tyd waarin alles moet gebeur waar ander dit kan sien. Selfs goedheid het deesdae goeie beligting nodig. Ons gee nie net nie, ons dokumenteer. Ons help nie net nie, ons plaas. Ons barmhartigheid kom met ’n onderskrif, drie hutsmerke en ’n dankie aan die borg.

En tog is die mooiste hulp dikwels die een waarvan niemand weet nie.

Die sakkie wat stil by ’n deur gelos word. Die skoolgeld wat betaal word sonder dat die kind uitvind wie dit gedoen het. Die kos wat afgelewer word sonder ’n toespraak. Die hand wat help sonder om die ander hand te vra om te kyk.

Daar is iets heiligs aan hulp wat nie applous soek nie. Dit is iets skoon, iets mensliks. Dit laat die ontvanger steeds mens bly, nie net ’n projek nie. Nie inhoud nie. Nie bewysmateriaal vir die skares nie.

Want ’n brood is nie net brood wanneer jy honger is nie. Dit is vanaand se gemoedsrus. ’n Kombers is nie net ’n kombers nie, dit is ’n kind wat nie koud slaap nie. ’n Paar skoene is nie net ’n skenking nie. Dit is iemand wat môre met minder skaamte skool toe kan stap.

Gee dan. Gee ruim. Gee sonder om te tel hoeveel dankbaarheid jy terugkry. Gee met goeie hart en skoon hande. Gee só dat die persoon wat ontvang, môre nog by jou kan verbyloop sonder om sy oë neer te slaan.

En as daar regtig ’n foto moet wees, neem dalk die brood, of neem die pakkies. Neem die hande wat pak.

Maar los die gesig by jou goeie daad uit. Want die vraag is nie net of ons gehelp het nie.

Die vraag is wat ons saam met die foto teruggevat het.

©MarleneErasmus

22/05/2026

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed