Terug na die begin
Terug na die begin
Die beste ding van ouer word is dat jou storie ’n begin, ’n middel en ’n einde kan hê. Ons het mos op skool geleer dat dit die bouvorm van ’n goeie storie is. En nog ’n lekker ding is dat jy kan terugkyk en sien dat alles wat die slimmes vir ons gesê het is reg, toe verkeerd geraak het, maar nou weer skielik reg is. Ons het dus foute gemaak en daaruit geleer.
My buurman kla nou die dag dat daar nie meer genoeg bestuiwers is vir sy tamatieplante nie. Hulle dra swak. Dieselfde ding waaroor my skoonma kla. Sy het ook opgelet dat ons goggas verdwyn het. Wat het van die swerms heuningbye geword? Waar is die muggies en vlieë en skoenlappers? Die motte en die torre? Wel, ons het hulle vermoor. Hulle is almal vrek.
’n Klompie jaar gelede kon jy die allervreeslikste giwwe van die winkelrak af koop. Daarmee kon jy enige iets doodmaak – ongediertes, onkruid, goggas, geitjies, jou wederhelf … Dink maar aan Aldicarb, of soos dit algemeen bekend is: Two Step. Gelukkig is daar ’n stokkie voor gesteek. Chemiese gifstowwe was eens opgehemel as die antwoord op al jou kwelvrae. Toe dit so goed werk soos hulle belowe het, is die eindresultaat ’n dooie natuur. Alle goggas is dood, maar net soos met mense, kry jy mos goeies en slegtes. Die gif het geen onderskeid getref nie.
Vandag se jonges is gelukkig meer sensitief vir nagevolge. Nou maak hulle soos ons oumas gemaak het. Hulle plant stinkafrikanertjies om slegte goggas weg te hou en alyssums om die goeie goggas te lok.
Dieselfde pad is geloop met grasperke. In ons oumas en oupas se dae was dit onsinnig. Byna ondenkbaar. Die grond is gebruik vir groentetuine en vrugtebome. Toe kom die mode vir groot, lowergroen grasperke, en alles wat leef word uitgehaal en doodgespuit. Ons koop mos sommer ons vars produkte van groot supermarkte wat hulle vir ons in netjiese hopies pak. Vandag is dit besig om stadigaan weer te verdwyn, want so lieflik as wat ’n grasperk mag wees, is dit grootliks net ’n sondaar. Dit drink te veel kosbare water en voorsien niks wat die moeite werd is nie. Dit vat sonder om iets terug te gee. Behalwe natuurlik estetiese waarde, maar Ouma het ons ook geleer dat skoonheid vergaan, maar deug bly staan. Vandag se jonges haal grasperke uit en plant tamaties en blaarslaai en wortels. En hulle verryk die grond met kompos wat hulle self maak. Lekker!
Daar was ’n tyd toe jongmense hulle neuse opgetrek het vir Ouma se ou meubels wat saam met haar oor die Drakensberge gesleep is. O nee, dit was uit die oudedoos. Niemand wou dit erf nie. Dit was antiek, lelik, swaar en donker. Almal wou wit, glas en chroom hê. Ek ook. Vandag betaal ons meer vir ouma se ou hangkas as wat die kas, die ossewa en die osse, wat dit gesleep het, werd is. Ouma se hekelwerk? Die ou erdebeker en waskom wat in die gastekamer op die outydse kassie gestaan het? Daar word basies vuis geslaan daaroor!
So kan ek aangaan oor eiers, rooivleis, pasta en ’n magdom ander goed wat eens goed was, toe skielik gif was, en nou weer goed is.
Dinge het nie verander nie. Dit het bloot volsirkel gegaan en ons is terug by die begin waar dinge nog gewerk het. Meer beteken nie noodwendig groter nie en duurder beteken ook nie beter nie. Ouma was toe nie so agter die klip nie. Ouma het geweet. Sy het geweet wat ons eers weer self moes leer.
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek