aan die einde (Goud)
aan die einde
die son het oor die westerkim gesink
in kleure soos die vere van ’n vuurvink
ek het asemloos na die skouspel gestaar
want dit het my aan jou laat dink
toe ek die eerste roep van ’n ooruil hoor
het ek geweet die stryd is verloor
die nag het stil oor die veld nader geloop
en die hemel in silwerswart fluweel ontplooi
toe sterre die naglug soos juwele behang
het die dag sag gesterf in tinte van rooi
as jy die felheid van die son kan verduur
is daar skoonheid in elke sterwensuur
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir April 2025 – AARDE projek