boetedoening van die onskuld(skuld)iges (Opdrag 2)
elke week een maal word die beste eetservies uitgehaal
die tafel kreun onder oorvloedige voordoen oorbodigheid
as jy klokslag met ‘n witgepleisterde hart
opdaag en met voorgee jou bitter soet plig betaal
ons praat oor dit en dat maar niks wat werklik saak maak
ons samesyn is net skyn…
blink gepoets ons woorde wat bly hang in warrelende offerrook gevang
klaar geëet (maar die honger) en klaargepraat is dit tyd dat jy moet gaan
so bring ons ons offer met ons januskop-lag-maskers op
boetedoening van die onskuld(skuld)iges by die Sondagmaal
binne my leef ‘n bedelaar wat vir ‘n aalmoes van liefde vra
maar jou mondhoeke verstrak as ek aan jou raak
jy kyk ver verby, as ek met jou praat
my hart bloei as my trane agter my masker vloei
jy het my geweeg en van nul en gener waarde bevind
nou is daar net die herinnering aan ons tye saam
ons geniet nie meer saam ons rooiwyn nie
ons sit nie meer langs een vuur
want vir jou het tyd te duur geword
vir my die tyd te kort
© Evanthe 2018
9 Kommentare
-
-

Callie Vermeulen
Pragtig Evanthe. Diep ene vir 'n weer-lees.
-

Viooltjie
Goed geskryf, Evanthe. Hartseer situasie uitgebeeld 😃
-

Loretta Szikra
Ware feite!! Goed geskryf Evanthe
-

Driekie
Dis pragtig, Evanthe, diep uitgehaal.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie