Die man sonder naam
Die Man Sonder ‘n Naam
Dit was bibberkoud, daar in die Stad van Goud.
Die trein het pas gestop. Moeg en verdwaal, my mense het vergeet om my te kom haal.
Met koffie in die hand staan die man met ‘n outydse pet, serp en jas.
Snoesig toegedraai, maar die koue kleef aan sy neus.
Met sy sterk kakebeen en helder oë kyk hy tot in my gister.
Hy prop ‘n “boer se troos” in my hand. Warm en sterk.
“Jy het dit nodig. Jy gaan vries.”
Sy stem so koud soos die weer.
Hy draai om en stap weg. Oor sy skouer kom die woorde:
“Sterkte, Japies Raak hier weg.”
Ek probeer sy naam nog kry. Hy waai net en sê:
“As ons weer ontmoet, sal ek jou sê.”
Terug hier op die plaas, met koffie swart, wonder ek steeds wie daardie kalant tog was.
© Ryno du Plessis
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.