#geliefde selfoon euwel
Met die tik van ‘n vinger vertoon towerbeelde
en ‘n wonderwêreld , data spoed deur optiese kabels
met die spoed van lig versamel almal se wonderdade
in wolke wat nie eens een druppel reën gaan bring
hutsmerke en deesdae ook potgooiery verskyn
in werwe waar geen skepe sal anker gooi
Gesigte, drome , stories, nuus word aan die draad gehang
en agies loer oor mure , geen skaamte , verloor beheer,
niks is verborge, soek net nog ‘n werf
blitsvinnig word jy verbind en praat met min ontsag
tot aan die einde van die aarde
Selffondaan stuur jy jou prestasies die wêreld in
en wag jy vir vindingryke kommentaar
of selfs net ‘n duim na bo of selfs ‘n hartjie
wat hou van liefde verklaar
Met pieringoë staar jy na die wonderwerk
die werklikheid vervaag met krom duime
en vinniger as die beste pianis tokkel jy jou alfabet,
geen woordeboek of spelreël dirigeer of dikteer …..
Geliefde euwel, steler van tyd verwoester van bande
kondukteur van onwerklikhede en valse vriende
onontbeerlike slim euwel wie jou koester is dom
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.