Die eerste tree
Die ketel fluit sag op die stoof, lekker sterk rooibostee is altyd ’n troos vir ’n mens se siel. Lien Meiring haal stadig asem en leun liggies teen die koue marmertoonbank, net lank genoeg om nie so verlore te voel nie. Skielik voel haar bene swaar en haar asem minder as wat dit ooit vir ’n 55-jarige behoort te wees! Die teekoppie voor haar op die tafel staan geduldig en wag vir haar aandag. Agter die deur hang Leo se camo-jagbaadjie – stil, onaangeraak, soos hy steeds op Leo wag. Sy manlike naskeermiddel se geur nog heel duidelik te bespeur. Sy dink hartseer terug aan die dag toe hy haar gegroet het voor daardie noodlottige jaguitstappie: sy sagte glimlag en sterk arms om haar toe hy gesê het, “Jy is my alles, Lien.”
Sy beweeg nie na die baadjie toe nie; selfs net om aan dit te raak sou die herinnering nog meer ondraaglik maak. Buite lê die veld stil in die oggendson, maar haar gedagtes trek vanoggend na iets wat sy al jare net in drome en tydskrifbladsye gesien het: die Maledives, ’n plek wat niks van haar weet nie en tog al haar gedagtes gevange hou. Die stilte in die kombuis voel nie meer so versmorend nie; iets in haar bewe opgewonde. Sy dink ook aan iets wat sy al lank nie meer gedoen het nie – sy kyk nie net na die wêreld nie as ’n buitestaander nie, sy wil weer voluit leef.
Lien staan lank by die toonbank en kyk na die koppie tee, maar sy voel effens onrustig, sy wonder of haar plan so slim is. Haar pille op die tafel lyk vreemd in hul netjiese ry; sy weet sy moet hulle drink, maar haar vingers sukkel om die klein botteltjie oop te maak. Haar hartklop versnel sommer en die stilte om haar voel skielik swaar. Sy gaan sit met haar koppie tee en tik haar been onrustig op en af. Die botteltjie glip telkens uit haar hande. Haar been tik steeds onrustig. Dan tref die gedagte haar: die besef dat sy lankal net geleef het in die veiligheid van haar eie doodgewone lewe. En tog trek iets haar, ’n stemmetjie in haar binneste wat sê: “Jy móét gaan. Jy kan nie langer sit en wag vir ’n nuwe lewe nie.”
Sy sit en laat die stilte haar omvou. Sy dink aan die Maldives, haar droom van baie jare, al die foto’s in tydskrifte en op Facebook. Sy neem nog ’n slukkie tee en blaas haar asem uit. Hierdie keer sê sy dit hardop, net vir haarself:
“Ek gaan dit doen. Ek kan nie langer wag nie… ek móét gaan.”
Die woorde klink half vreemd in haar ore, maar dit maak die besluit skielik werklik. Sy staan op en stap stadig na die huistelefoon, kies die nommer wat sy al dae lank probeer skakel het. Die stem van die vroutjie van die reiskantoor klink sag en professioneel aan die ander kant, maar sy voel net die spanning in haar:
“Hallo, ek wil ’n vlug bespreek… na die Maldives,” sê sy, haar stem effens huiwerig.
“Natuurlik. Het u ’n spesifieke datum in gedagte? Kan u net u besonderhede vir ons gee?”
“So gou moontlik,” antwoord sy, haar hand bewerig.
Ek… ek moet net gaan.
Sy sit die telefoon neer en voel ’n mengsel van vrees en opwinding, die eerste stap van haar avontuur begin reeds. Die kombuis lyk nog dieselfde, maar in haar binneste hoor sy ’n stemmetjie wat sê: “Jy is op pad. Jy gaan leef nou jou droom.”
Die vliegtuig het lankal geland toe sit Lien steeds doodstil, haar hande styf om die armleuning met haar hart wat binne haar galop. Sy stoei steeds met haarself, ’n mengsel van vrees en die herinneringe aan Leo. Dit is die drang om iets nuuts te beleef wat haar lyf en kop nie heeltemal in lyn kan bring nie.
Sy hoor die lughawe – lewe van ’n ander soort. ’n Stem kraak oor die luidsprekers, eers onverstaanbaar, dan duidelik genoeg om te hoor hoe word iemand se van uitgeroep om aan te meld by toonbank 3. Trollies ratel oor die blink vloere, wiele wat teen ’n skewe teël klap-klap-klap. ’n Kind begin huil en die lug word gevul met ’n vrolike gegroet.
Die lug ruik na heerlike sterk Starbucks koffie. Dit meng met die reuk van parfuum, ontsmettingsmiddel en kosse wat verkoop word. Mense beweeg vinnig, doelgerig met hul oë op skerms vasgenael waar vlugte flikker tussen vertrek en arriveer-tye. ’n Man praat hard in sy selfoon, ’n vrou trek haar groen jas stywer om haar skouers, haar skoen gly effens oor die gladde vloer.
Lien hou haar handtassie sommer nog stywer vas. Die geraas druk teen haar ore, maar onder dit alles hoor sy haar eie asem – kort en oneweredig, soos iemand wat probeer bybly by ’n vreemde nuwe wêreld. Sy staan vir ’n oomblik doodstil tussen al die beweging. Sy staan soos ’n boom geplant by ’n waterstroom, terwyl die stroom mense om haar vloei.
Sy sien die koddige kort mannetjie wat ’n bord hoog hou met haar naam daarop. Hy neem haar na haar plek waar sy bespreek het.
Die man by die ontvangs glimlag, sy stem sag en vriendelik:
“Welkom by Coral Breeze Resort. Mevrou Meiring?”
Sy knik, glimlag en gee haar paspoort en ontvang die sleutelkaart. Terwyl sy in die gang opstap, haar tas styf teen haar skouer, voel sy die effense swaarheid van die reis en die werklikheid van die besluit wat sy geneem het. By haar kamer met die gordyne half oop glinster die son op die turkoois see. Die stilte van die huis en die jagbaadjie is nou ver agter haar, en iets in haar sê: “Jy het regtig hierdie stap geneem.”
Sy laat haar tas sak, stap na die balkon. Die see lê wyd voor haar, golwe baljaar teen die goue strand. Vir die eerste keer in ’n lang tyd, trek sy haar asem diep in en glimlag stil. Sy voel regtig vry.
Lien stap af na die strand. ’n Kind lag vrolik en die golwe spoel oor haar kaal voete. Sy voel die ritme van die eiland deur haar lyf vloei. Die hartklop van haar vrese vermeng met die vonk van die lieflike strand – sy voel nuwe lewenslus deur haar vloei, iets wat sy lankal net in drome geken het.
Sy buk en laat haar vingers oor die sand gly. ’n Golf spoel oor haar voete en trek ’n lag van vreugde uit haar. Die wind speel deur haar hare, die see borrel teen die strand; elke tree druk die sand lig teen haar voete. Sy strek haar arms effens, draai haar gesig na die son, en die lig vang haar oë. Die wêreld lê wyd voor haar, blink en onbekend en die ritme van die eiland vloei deur haar, stadig, vol lewe en eindeloos.
©MarleneErasmus
17/01/2026
( 1152 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek