Jongste aktiwiteit:

“Ek sál deur die waarheid kyk na my nuwe begin …”

Aan die voet van die Outeniqua-berge waar stiltes deur die eggo’s van die kranse asemhaal, aan die koepelblou van die ewigheid vasklou en die horison jou van albei kante in sy eindelose arms toevou, boer oom Hendrik en tannie Kotie Joubert.

Hulle is die trotse ouers van ’n sewentienjarige seun, Tian. Tian is ’n leerling aan die Outeniqua hoërskool op George, waar hy in die koshuis is. Hy bring net naweke en vakansietye op sy ouers se plaas deur.

Tian is ’n skrander leerling en presteer bogemiddeld op skool, waarvoor hy dan ook met ere-klere beloon is. Verder dien hy ook op sy skool se leerlingraad en is hy volgens praatjies ook geoormerk om die jaar na volgende jaar hoofseun te wees. Op sportgebied het Tian ook uitstaande prestasies behaal in veral rugby en krieket.

Nodeloos om te sê dat Tian sy pa se oogappel is. Oom Hendrik het dan ook groot planne vir hierdie modelseun van hom.

Nou is dit ongelukkig ook so dat, soos wat Langenhoven gesê het, ‘die lewe ’n spel is wat jy speel sonder om die reëls te ken …’

Tydens een skoolvakansie op sy ouers se plaas, was Tian besig om vuurmaakhout vir die aand se braai te kap. Soos die duiwel dit wou hê, skiet daar ’n splinter op en steek hom reg in die kyker van sy een oog. Die gevolg was dat hy die gebruik van daardie oog verloor het.

Almal, veral Tian se ouers, was uiters geskok deur hierdie katastrofiese gebeure wat hul seun se lewe drasties verander het van selfverseker tot emosionele depressiewe wrak. Hy het oornag verander van selfversekerd tot depressiewe introvert en homself van alle aktiwiteite op skool onttrek. Hy het ook nie meer op akademiese terrein presteer nie.

Die verlies van sy een oog het noodwendig daartoe gelei dat Tian met minder visuele data moes klaarkom wat sy diepte-persepsie en gesigsveld betref.

Tian het tot die besef gekom dat om een oog te verloor ook in ’n groot mate sy siening van hoe die wêreld lyk verander het. Daarbenewens het hy ook tot die besef gekom dat die wêreld waarin hy leef onsimpatiek is.

Een Vrydag na skool ry Tian en drie van sy goeie vriende vir die naweek na sy ouers toe op die plaas.

Op pad, naby die plaas, is daar ’n kontant-winkeltjie. Tian stop daar om verversings te koop vir die aand se braai op die plaas. Hulle stap haastig vanuit die skerp sonlig die swak verligte kontant-winkeltjie binne.

Tian het egter nie besef dat wanneer hy skielik vanuit skerp sonlig in ’n donker vertrek instap, sy oog en brein by die verandering van lig moet aanpas nie. Die tragiese feit is dat, omdat Tian net die gebruik van een oog het, hierdie proses merkbaar stadiger en meer ontwrigtend is. Die gevolg was dat Tian vir ’n oomblik gedisoriënteerd en onseker op sy voete gevoel het. Vir ’n paar sekondes was hy behoorlik sienend blind en het hy desperaat in die donker rondgetas.

In die proses het Tian aan iets gestamp en gedink dat dit een van die ornamentele houtbeelde was wat die plaaslike bevolking maak en daar verkoop.

Omdat Tian bang was dat hy die waardevolle houtbeeld gaan omstamp en dit in skerwe gaan breek, het hy in sy tydelike blinde staat besluit om die houtpop te omhels, sodat dit tog net nie omval en breek nie.

Intussen het Tian se oog weer aangepas by die donker vertrek en het hy sy sig herwin. Tot groot vermaak van almal in die winkeltjie staan Tian daar met een van die plaaslike bevolking se dames stewig in sy arms vasgeklem.

Sy vriende skater van die lag, terwyl een spottenderwys sê: “Ja nee! In die land van die blindes is eenoog koning. “Ka …ka …ka …,” kraai almal van die lag.

Vir Tian wat skaam-verleë daar gestaan het, was die situasie onder die luide gelag en spot van sy vriende eerder ’n vernederende situasie. Boonop het een van sy vriende verder gespot: “Tian, ou maat, jy was nie eers onder die prop nie, wat het jou besiel om daardie vet tannie so inniglik te omhels?” Weereens het almal geskater van die lag en hom luidrugtig op die skouer geklop.

Tian en sy vriende het in die motor geklim en in ’n ongemaklike stilte verder gery na sy ouers se plaas toe.

Toe hulle op die plaas aankom, groet Tian sy ouers met ’n hartseer trek in sy oë, verskoon homself en stap die veld in met sy verkyker en kamera, sonder om om te kyk. Tian se ma het geweet dat daar iets nie pluis is nie. ’n Ma weet mos alles, selfs dit wat sy ook liefs nie moet weet nie.

Tian gaan sit selfbejammerend en mismoedig langs die sementdam waar ’n verroeste windpomp hakkel-hakkel antwoord op die stem van die wind.
Dan kyk hy op na die blou-blou lug en sien twee Witkruisarende wat sorgloos en vry sweef op die strome in die lug. Skielik duik hulle af en kom sit op ’n tak naby waar Tian sit.

Tian vat sy verkyker. Terwyl hy daardeur kyk kom hy agter dat sy oog wat nie blind is nie, skerper word in die sin dat hy visuele leidrade beter as voorheen interpreteer.

Hy kyk … en hy kyk … en hy kyk weer … deur die verkyker. Hy kan nie glo wat sy oog sien nie. Een van die arende het ook net een oog, en dit lyk nie of dit vir hom ’n hindernis is nie. Hy funksioneer net so normaal soos sy maat wat albei oë het.

Dan sê Tian hardop vir homself: “My oog kyk nie verkeerd nie, my oog is skerper in gebruik. Van vandag af sal ek vorentoe kyk … Ek sal deur my gebrek kyk … Buig of bars, ek sál my kop oplig . Ek sál deur die waarheid kyk … Ek sál na my nuwe begin kyk …”
——————–oo0O0oo———————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1015]

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak