My hart is waar my tuin is
Ek sit op die lowergroen grasperk in my tuin
tussen blinkblaar- karee- en olienhoutbome
en kyk hoe die blougrys oumans baard
hul dooie takke versier, omring met
’n verskeidenheid komplimenterende vetplante,
gekontoer in netjiese blombeddings.
Die dag roep na stilte terwyl skaduwees
tot reuse groei en die laaste strale van die son
vleiend blink op die blare van my versameling
bonsaiboompies
geïntegreer met die landskapering
van my ekologies voël-vriendelike tuin.
Híér is my huis; híér is my hart; híér is my heimat;
vir die afgelope veertig jaar is my hart híér;
híér waar my tuin is.
Maar; nou moet ek afsaal; of liewer afskaal,
na ’n ander tuiste verhuis
na wie weet waar; gaan ek weer moet opsaal?
Op die skouer van my heimat het ek
my afskeidstrane gestort, skitterblink
soos ryp in die winter het hulle
aan haar lowergroen kleed gehang.
Soos ’n ster in die hemelruim het my lewe
in ’n oogwink, voor my oë verskiet;
terwyl ek bewoë deur die dagboek
van my hartseer blaai opsoek
na ’n nuwe begin; wie weet waar … ?
———–oo00oo————
©Pieter Mostert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek