Jongste aktiwiteit:

Nuwe begin

Brons gradering (nuwe lid)

Woordetal: 996 woorde

Prosa;

Nuwe begin

Die eerste Saterdag van elke maand is spesiaal vir ons gesin. Op hierdie dag, elke maand, voed ons die sluimerende reisiger binne ons, en word storielyne uit reise na verre lande in ons verbeelding geskep. Vroeg uit die vere maak ma die lekkerste kondensmelk koffie in die groot termosfles. Ouma se frikadelle en vleispasteitjies word uit die vrieskas gehaal en in die piekniekmandjie gepak. Die huis staan behóórlik op sy kop! Bestemming: die lughawe.
Miskien is dit ‘n vreemde uithangplek. Maar vir óns is dit ʼn avontuur wat wag!
So al met RSG se “Brêkfis met Derrick” en die “Vat vyf” vir die dag drink ons glasies vol stomende kondensmelk koffie en druk ons kieste vol snoepgoed. Ons gesels ‘n hond uit ‘n bos. Watter ervarings wag vir ons?
Ek en pa kan lank staan en kyk na die gewoel by die waarnemings gebied. Ons kyk hoe hartseer geliefdes hulle laaste koebaai sê, of hoe blydskap die gesigte inkleur van die gelukkiges wat mekaar na ‘n lang tyd weer kan raakvat. Soms is die oomblike so intiem dat ons skuldig wegkyk en self sluk aan ‘n knop in ons keel. Hierdie oomblike is heilig. Ons wonder hoe daardie mense voel. Wat dwarrel deur hul gedagtes wanneer hulle afskeid? Alleen-alleen stoot hul volgepakte trollies die gang af. Waarheen gaan almal, en waarom verlaat hulle sonnige Suid-Afrika?
Ma pik hier en daar ‘n traan as verdwaasde ouers die laaste groet waai voordat hul kroos die laaste maal om die draai gaan. Hoe rou moet ‘n ouer se hart nie wees om sy kind vir ‘n onbepaalde tyd nie te kan sien nie. Ma sê altyd dat haar kinders ver genoeg van haar af moet wees sodat sy altyd hulle onder een kombers kan toemaak – soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke toemaak.
Daarna sal ons met die trappe opstap na die groot vensters vanwaar ons die vliegtuie kan sien aankom en vertrek. Pa is nou in sy element. Hy was in sy jongdae mos polisieman. Ek sal nooit die stories vergeet wat hy vertel het van sy avonture in die mag nie! My gunsteling storie is die van die vliegtuig wat vertraag was sodat hulle ‘n verdagte wat wou landuit vlug kon arresteer. Pa vertel die storie elke maand.
Dan gaan eet ons by die lughawe se Spur. Hier hou ek en ma die mense dop. Ons probeer mense rondom ons se vreemde gesprekke afluister. Ons lag hand voor die mond vir die uitlanders se vreemde dialekte en kleredrag – om nie van hul manurismes te praat nie! Pa moet ons altyd stilmaak, want ons vergeet onsself van die lekkerkry!
Tog is ons altyddeur ook bewus van die ma wat die seun se hand bly vryf wanneer hulle die laaste maaltyd saam nuttig, of die blink oë van ‘n pa wat homself verdrink in die beeld van sy dogter wat hy hy netnou gaan moet koebaai sê…
Ons staan lank en kyk na die aankoms en vertrek borde wat flikker en wink. Ons kyk na ouers, oupas en oumas en vriende se wisselende emosies soos wat hulle deur die groot deure in en uitgaan. Dis ‘n gebeurtenis wat baie emosies loslaat, en ma se kraantjies is baie oop! In my stilligheid wonder ek hoe dit moet voel om op jou eentjie vreemde lande te moet ontdek?
Oppad terug word alles tot op die been bespreek. Soos ‘n nikkerbol word dit om en om gerol tot daar niks van oor is nie. Daar is ook stiltes, as ons meegevoel het met dié wat hartseer alleen huiswaarts moet keer. Hoe moet die atmosfeer wees in die voertuig met sy lëe maag? Praat ma en pa? Kan ma die pad sien deur haar tranevloed? Peuter pa met die sakdoek voor sy oë?
Hiérdie Saterdag oggend is anders.
Ma is vroeg op – het sy ooit geslaap? Daar is ‘n knop in my keel en ‘n wilde draai in my maag. Ek vind ma in die kombuis waar sy tranerig die termosfles laat oorloop. Ek draai kortom en storm terug kamertoe. My asem jaag en my hart klop in my ore. Ek kyk na my klerekas. Dis leeg. Net my gunsteling paar vellies steek tong uit in die hoek.
Pa pak my tasse in ons voertuig. Selfs hy is stil en sonder lag. Toe hy omdraai en my sien, klap hy die kattebak toe. “So begin ‘n nuwe hoofstuk ook in joú lewe”.
Die rit na die lughawe is stil. Derrick speel een of ander vrou se vyf aangevraagde liedjies.
Vandag sing ons nie saam nie. Die kondensmelk koffie word koud in die termosfles en ouma se frikadelle en vleistertjies loer onaangeraak in die piekniekmandjie.
Vandag sê ék koebaai aan liewe Suid-Afrika. Nooit het ek gedink ek sal nie! Ek – kind van son en bos!
Vandag is dit ék wat met my swaar gelaaide trollie, ma en pa aan weerskante, die groot glasdeure van die lughawe oopmaak. Dit is ek wat my bagasie inweeg. Ons het dit vantevore al so baie gesien – ons weet presies waarheen om te gaan en wat om te doen…
Dan staan ons voor Spur. Vandag is dit ék wat die laaste maaltyd saam met ma en pa gaan eet. Ek bly sluk aan die knop in my keel. Die eier wurg my. Ma vryf-vryf my hand die heeltyd en pa se oë bly blink. Hy probeer so hier en daar ‘n grappie inwerk, ek sien ma probeer moedig sterk bly…dis die pyn van verlies gemeng met die opgewondenheid oor wat voorlê wat maak dat alles so…onderstebo voel vandag…
Toe word dit tyd dat ek in die lang gang moet afstap. Alléén. Ma wil nie laat los nie. Pa druk die wind amper uit my uit. Ek wonder of hulle ook sal blý kyk soos ek ander ouers sien doen het. Ek loer oor my skouer..Ja hulle doen!
En ek wonder …Is ek reg vir my nuwe begin?

 

 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Braam het n geregistreerde lid geword

  • Paul Kloppers het n geregistreerde lid geword

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak