Wat as
Wat as
Wat as ek kon vlieg. Nie met vlerke soos ‘n voël nie. Ook nie in een of ander meganiese vlieg masjien nie. Wat as my gedagtes se vlugte werklikheid kon word. Sou ek dan steeds verlang na dit wat kon wees? Na dit wat was?
Maar wat as my gedagte-vlerke my nie hoog genoeg kan dra nie? Hoe sou die storms in my kop vanuit ‘n ander hoogte lyk? Dalk van die stratosfeer of selfs uit ons eie atmosfeer.
Wat as ek sonder die teenwoordigheid van swaartekrag steeds kon vlieg. Sou my storms en gedagtes kon stil word in ‘n paralelle hemelruim? Sou daar iemand wees om mee te gesels? Weet ander planeet of sterrebewoners ook van alleen wees?
Dalk sou ek myself op my eie denkbeeldige planeet bevind. Ek dink ek noem hom, Solsaam. Sol as verwysing na die son, want ek is nie ‘n winter mens nie. Saam omdat niemand op my planeet ooit eensaam sal voel nie. Presies hoe dit werk op Solsaam weet ek nog nie rerig nie, ek sal seker eers tot daar moet kom.
Wat ek wel weet is dat dit plek van vrede sal wees. Ek besef oral moet daar reën val, maar dit sal sagte reën wees. Geen storms nie.
Wat as ek ophou droom en Solsaam binne myself kon skep… Wat as…
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Christa D
Uitstekend. Kan ek saam kom bly op Solsaam.