Pelgrimstog
Brons
vir oom Frik Steenberg, ‘n vriend en digter (1943-2018)
Ek wou nog een maal hier huil
waar kleur in blomsaad rus, die lug wegsterf
as rooi katstert en kalkoentjies oor ver stiltes
klim-klim teen ‘n sandknop uit.
Hier word die onthou, sag gebrei op die skraapklip
droëntyd en hartbreek aanmekaar geryg
soos matjiesgoed, steek vir steek,
en ek dink aan jou woorde:
“lei verlaas my terug na diérbare land”.
By bleek velde wou ek nog een maal huil
dorheid verlore in dorheid onder my voete
met die bokfluitjie se pêpê-lied ‘n trae herinnering,
‘n dowwe skittering aan die stekelkleed van haakbos:
“bring my dáár waar ruimtes is”.
Ek het ‘n arend in vlug gesien nietwaarts swewe
sy vlerke ‘n wit kruis gespan hoog bo die klipperse aarde
en gedink aan jou woorde:
“mý skadu is die plek waar pelgrims woon”.
Die vlaktes word ‘n laaste eerbetoon.
Hiér het jy eens pad getrek oor skalie en graniet
leer verstáán om alle dinge lief te hê:
“die land was wyd en dors en heerlik swaar”
en ek bind jou woorde toe in my abbadoek
haal winterreëns nader, laafnis vir halfwoestyn
pluk vir jou die blare van ‘n boegoestruik.
Ons stap terug vanaf duine wat vlamkameel staan
tot waar koeltes karos lê op Ouwerf.
Ek wou nog een maal hier huil, laatdag,
as nypende son versag oor kaiingsgrifrant
en jou woorde tolbos in die laaste warm wind:
“ek is op pad… ek kom net groet…”
Hier ken die alomkaal ou verdriet.
Wanneer ek wegry met die Elandskloofpad langs
proe ek die klewerige sóét van wildeheuning
in jou strofes, weet ek jóú aardse tog
was vir ruimer teks bestem.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek