Waar dit nog in ons leef
Ja, vandag is dit die 6de April, ek sit hier en ek dink met heimwee terug aan hoe ons dit vroeër gevier het. Daar was ’n tyd toe Van Riebeeckdag nog gevier is! Die dag het ook as Stigtingsdag bekend gestaan. Destyds het die dag nog sy plek op die kalender gehad. In die era waarin ons kinders nou leef, is dit heel anders. Baie dinge soos feesviering op sekere dae wat eens vanselfsprekend was, het stilweg uit die openbare lewe verdwyn. Net omdat dit verdwyn het, beteken dit nie dit het uit mense se harte ook verdwyn nie. Ons mag dit dalk nie meer soos vroeër nie vier nie, maar ek glo baie van ons dra die betekenis daarvan nog in ons binneste. Net anders. Stiller. Soos iets wat nie aan die groot klok gehang hoef te word nie.
Dit is snaaks as jy eers begin onthou, dat daar ander dinge sommer ook begin uitkom. Ek dink skielik aan Lentedag op die eerste September, daar by Laerskool Daan Viljoen in Keetmanshoop. Ons het agter op ’n ou oop sleepwa se bak gery, almal bont en vrolik aangetrek, met blomme oral. Dan ry ons deur Keetmanshoop se stofstrate en sing uit volle bors in Afrikaans: “Dis heerlike lente, die winter ‘s verby…” Vandag klink dit amper na iets uit ’n ander wêreld, maar ek kan dit nog helder voor my sien. Die stof wat agter die wiele opslaan. Die son op kindergesiggies. Die gelag. Die gesing. Die gevoel dat Afrikaans nie iets was waaroor ’n mens moes verduidelik of verskoning vra nie. Dit was net daar. Om ons. In ons. So natuurlik soos asem.
Miskien is dit hoekom ek al hoe meer dink ’n mens se eerste vaderland lê nie altyd op ’n kaart nie. Partykeer lê dit in jou hart en jou mond. In die taal waarin jy die eerste keer getroos is. Die woorde waarin jy die eerste keer geskrik het. Die eerste keer geleer het om dankie en asseblief te sê. Geleer is om stil te sit of regop te staan. Nog voor jy enigiets van geskiedenis of politiek kon verstaan, het jy geweet hoe jou eie mense klink. En iets daarvan bly lewenslank binne jou nes skrop.
Dit is nie Afrikaans wat my leer praat het nie. Ek is ingebed in Afrikaans. Dit het my leer leef. In baie ou uitdrukkings sit meer as net slim sêgoed. Daar sit ’n hele manier van menswees in. ’n Manier van vasbyt. ’n Manier van uithou. Wanneer iemand sê: “Stadig oor die klippe,” hoor ek nie net raad nie. Ek hoor mense wat reeds genoeg teen die lewe se skerp klippe gestamp het om te weet haastigheid help jou maar min. Wanneer iemand sê: “Môre is nog ’n dag,” klink dit eenvoudig, maar onder daardie eenvoud lê iets taai. Iets wat nie sommer tou opgooi nie. Dit is nie blink taal nie. Dit is dra-taal. ’n Taal wat nie daar is vir vertoon nie, maar ’n taal wat hou.
Van die diepste wortels van daardie taal lê vir my by gebed. Ek onthou as baie klein dogtertjie hoe Oupa Koos van Rooyen by die tafel in Nederlands vir ons kon bid. Ek het nie alles verstaan nie, maar ek het sit en luister na die eerbiedige woorde. “Heer God, hemelse Vader, zegen ons en deze uwe gaven…” het uit sy mond gekom met só ’n groot eerbied dat die hele vertrek anders geklink het. Dit is asof selfs die borde en lepels stiller geraak het wanneer hy begin bid. En saans met aandgodsdiens, het hy vir ons uit die groot ou Familiebybel voorgelees. Ek sien dit nou nog voor my. Die groot, swaar Bybel. Die vergeelde blaaie. Die sagte lig. Sy stem wat oud was, maar seker en vas. Dalk is dit hoekom taal vir my nooit net iets geword het waarmee ’n mens jouself uitdruk nie. Dit was van vroeg af ook eerbied vir my. ’n Geborgenheid en orde. Die besef dat woorde heilig kan voel.
’n Mens besef eers later hoe diep die taal van jou kinderdae in jou ingrawe is. Later mag jy fyner woorde leer ken. Jy mag meer geleerde mense hoor praat. Maar wanneer jou hart seer of bang is, of jy skielik dankbaar voel, loop dit dikwels terug na die eerste taal waarin jy geleer bid het. Na die taal van die tafelgebed. Na die stem van ’n oupa. Na die ou Bybel wat oopgevou is onder sagte lig. Dalk is dit juis daar waar die liefde vir jou eie begin het. Nie in groot verduidelikings nie, maar in die klein heilige oomblikke wat ’n kind se binneste help vorm.
Dieselfde geld natuurlik ook vir die goed wat baie mense maklik gering skat. Kinderrympies. Skoolliedere. Oggendbyeenkomste. Jong stemme wat nog effens raserig teen ’n saal se dak uitstyg. Op daardie stadium voel dit na niks besonders nie. Dit is net nog ’n lied of nog ’n rympie. Maar jare later besef jy daardie klanke het saam met jou grootgeword. Hulle het vroeg reeds iets van ritme en behoort in jou kom sit. Jy onthou dalk nie meer elke woord nie, maar jy onthou die gevoel. Daardie rympie wat jy voor in die klas voorgedra het: “Ta ra ra boemdery. Oupa het ‘n vark gery. Afgeval en seergekry. Opgeklim en weer gery. Ta ra ra boemdery!” Dit laat ’n knop in my keel.
Selfs jou familienaam dra meer as net letters. Jou familienaam kom met sy eie verhale. Met swaarkry. Met koppigheid. Met gebede wat lankal klaar gebid is, maar nog iewers deurskemer in die bloed van dié wat oorbly. Om jou naam met trots te dra, is om te erken dat jy nie uit niks uit kom nie. Daar was mense voor jou. Jou voorgeslagte. Mense wat gebou het. Mense wat bewaar het. Mense wat soms ook geval het, maar weer opgestaan het. Ek dink nie patriotisme beteken ’n mens moet die verlede blindelings ophemel nie. Maar dit beteken ook dat jy wel met waardigheid mag onthou. Jy mag erken dat daar in jou erfenis dinge is wat kosbaar is. Vandag mag jy besluit om nie die goeie in jou hande te laat verarm nie.
Daarom is liefde vir Afrikaans vir my baie meer as liefde vir klank. Dit is liefde vir ons erfenis. Vir die manier waarop hierdie taal saam met mense deur ons kombuise en kerkbanke gekom het. Dit het ook deur droogtes, oorlog, gebed en talle skooldae voort bly staan. Dit is ’n taal met stof aan sy skoene en geloof in sy borskas. En juis daarom is dit vir my deel van hoe ek vandag vir Suid-Afrika beleef. Nie die hele verhaal nie. Maar my deel daarvan. Die deel waarin ek my mense hoor. Die deel waarin ek hul volharding erken. Om Afrikaans lief te hê, is nie om ander tale minder belangrik te maak nie. Vir my is dit bloot om eerlik te wees oor wat my gevorm het, en oor die land wat deur hierdie taal in my kom woon het.
Miskien is dit hoekom dae soos 6 April nog saak maak, al staan dit nie meer amptelik op ’n kalender nie. Nie omdat ’n mens bloot aan ’n datum vasklou nie, maar omdat dit jou herinner aan iets wat baie dieper lê as openbare vieringe. Dit gaan oor herkoms. Dit gaan oor die stil manier waarop identiteit in mense bly leef, selfs wanneer die wêreld reeds aanbeweeg het. Party dinge word nie meer met toesprake of seremonies oorgedra nie. Hulle word oorgedra in huise. In ons gesprekke of in ons stories. In gebede wat vandag nog gebid word. In die taal wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Patriotisme word nie hardop uitgeskree nie. Partykeer lê dit juis in die stilte. In ’n ou uitdrukking wat skielik weer by jou opkom. In ’n tafelgebed. Of dit praat deur ’n kind wat nog ’n ou Afrikaanse rympie opsê. In die besef dat taal nie net iets is wat jy gebruik nie, maar iets wat aan jou toevertrou is. Iets wat ek en jy moet oppas. Iets wat jy moet oordra, lewend en waardig, aan dié wat ná jou kom.
Want uiteindelik begin ’n land nie altyd by afgebakende grense nie. Soms begin hy by geheue. By klank. In die taal wat in jou wortel geskiet het, lank voordat jy geweet het hoe om dit te benoem. En dalk is dit hoe ons vandag nog sekere dae vier. Nie meer soos vroeër nie, maar steeds in ons harte. Ons vier dit in ons taal. Ons vier dit in dit wat ons kies om nooit verlore te laat gaan nie.
Mag ons uit volle bors saam met C.J. Langenhoven sing:
“In die merg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
in ons roem op ons verlede,
in ons hoop op wat sal wees.
Deel geen ander land ons liefde,
trek geen ander trou ons af.
Vaderland! ons sal die juk dra,
al die jare, al die dae –
Ons sal bou, ons sal bewaar –
Ons vir jou, Suid-Afrika.”
©MarleneErasmus
(1451 woorde – Lied se woorde nie saamgetel nie.)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.