Jongste aktiwiteit:

Jan en die kewer
vir

Jan en die kewer

Nou ja, ek het nou al soveel stories geskryf oor my vriend Jan en sy winderige gedragpatrone dat ek al begin skuldig voel dat Jan altyd uigemaak word as die een wat moeilikheid maak. Ek praat toe nou die dag met die ou oor die verknorsing en die beeld wat ek oor hom skep. Hy lag dat hy skud en wys dit van die hand, want hy het mos ingestem dat ek oor hom kan skryf. Uiteindelik vertel Jan my die storie van die kewer en sy reddingsdaad.

Hy sê my hy was nie altyd so rond soos hy nou is nie, hy was destyds ‘n nommer of drie kleiner en ook ‘n paar kilogram ligter, maar sy maagtalente was toe reeds goed ontwikkel.

Daar was destyds ‘n baie mooi blonde meisie op die dorp waar Jan gewoon het, en hy het nogal belang gestel en hulle het vriende geword. So gebeur dit toe dat die meisie verjaar en haar pa koop vir haar ‘n kewer, ‘n Volkswagen met blomme op die deure en sulke uitpeul ogies vir ligte. Jan reken so tussen die vertel deur dat enigeen se oë sal uitpeul as iemand ‘n enjin in jou agterend indruk, maar dit nou eers daar gelaat.

Jan reken hul gunsteling tydverdryf was om op Sondae naby die rivier te gaan piekniek hou. Hy vertel dat hulle ‘n blou blokkiekombersie gehad het en daarop het hulle die heerlikste lekkernye gesit en dan rustig gesit en gesels en eet en partymaal self ‘n bietjie gedut. Ons weet mos almal dat Jan ‘n bobaas eter is en soos dit my klink was die blondekoppie ook nie skaam vir eet nie, so ek kan my net voorstel, maar ek sê niks.

Die plek waar hulle altyd gaan rustigheid vind het was so ‘n entjie van die pad af, langs ‘n rivier met ‘n bietjie van ‘n helling. Hulle het altyd die kewer so parkeer dat hul darem ‘n mate van privaatheid kon geniet, met oop deure en die radio saggies aan, al te romanties.

Eendag, vertel Jan, het hulle lekker kos gehad en veral die hoederboudjies en vleisballetjies was tog te heerlik en hulle het toe te lekker ontspan en aan die slaap geraak. Jan sê hy skrik skielik wakker net betyds om te sien hoe die kewer in die rivier inrol en begin sink soos die water by die deure instroom. Nou ons weet almal ‘n kewer kan dryf, maar as die deure oop is help dit nie.

Jan sê hy spring daar op en sommerso in die hardloop trek hy hempe en skoene uit en hy’s agter die motortjie in die water in. Teen die tyd is die kewertjie al halfpad gesink, maar tipies Jan, het hy ‘n plan. Jan reken hy klouter toe sommer in die kewer en maak vinnig soos hy nou kan die deure en vensters toe. Daar sit hy toe halflyf in die water binne-in die motor in die rivier, en hulle dryf stadig stroom-af na die drif. Net daar besluit Jan die water wat binne is moet uit en hy begin sommer dadelik  so ‘n ligte “force” toepas en laat loop met ‘n wind wat so intens is dat sy eie ore toeslaan. Die verhoogde druk in die motor forseer toe blykbaar ‘n groot deel van die water by al die gaatjies uit en so dryf hy en die motor toe so bietjie hoër in die rivier af. Nou ek wil nou nie my goeie vriend se woord betwyfel nie, so ek luister maar rustig soos hy vertel.

Jan sê toe hy voel die wiele skraap op die pad wat deur die drif loop, toe maak hy die deure oop om die laaste water uit te kry en hy draai hoopvol die sleutel, maar die enjin wil nie vat nie. Hy stoot toe maar gou die kewertjie sodat die darem op vaste grond staan. Toe kyk hy of daar nou te werskaf is in die enjin, maar dis maar ‘n onbegonne taak, want daar is toe water in die vergasser. Dis toe dat hy aan die vergasser dink dat nog ‘n plan hom byval en hy loer gou of daar iemand is wat hom kan sien, maar hy gewaar niemand.

Jan vertel dat hy eers die lugfilter losgemaak het sodat die water uit die vergasser kan kom, want daar was toe darem ‘n skroewedraaier beskikbaar. Toe maak hy die petroldop los en druk sy agterend daarop, amper soos mond tot mond, en laat ‘n tweede ene in die pyp af met ook so bietjie “force”, en so uit die hoek van sy oog sien hy hoe die vergasser water uitspoeg soos ‘n drenkeling. Met die, en gretig om ook van die gepaardgaande plofbare gasse gebruik te maak, hardloop hy om na die bestuurderkant en draai die sleutel.

Die kewer het net so twee draaie en ‘n knor gegee toe vat hy, maar dit proes en hoes vreeslik. Hy sit toe gou die lugfilter terug en die enjin begin toe al beter klink, maar nog nie reg nie. Jan sê hy spring toe agter die stuur in en gee bietjie vet en vlieg daar met ‘n geblaas en geborrel weg, maar soos die enjin warmer word, so loop hy al hoe beter.

Na so tien minute se ryery klink dinge vir hom toe heel reg en hy is terug na die piekniekplek en die blonde meisie. Die het intussen wakker geword en gewonder of Jan en die kewer ontvoer is, maar toe hy daar stop het sy darem weer kalmeer.

Die kewer was na ‘n dag in die son sommer kurkdroog binne-in, maar Jan weet nie wat van haar geword het nie, want hulle het kort na die episode na ‘n ander dorp getrek en Jan het haar en die kewertjie wat hy gered het, nooit weer gesien nie. Die arme Jan, kewer-redder van formaat.

 

© Grootvissie

Augustus 2017




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed