Eugene Marais
Winternag
O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!
Skoppensboer
‘n Druppel gal is in die soetste wyn;
‘n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ‘n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag
is Skoppensboer.
Gewis en seker is die woord:
die skatte wat opvergaar ,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.
Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in ‘n goue gloed:
die dagbreek op elk’ sagte wang
en oge vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
want swart en droef
is die hoogste troef
oor àl wat roer,
is Skoppensboer
L’Envoi
Gewis is alles net ‘n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ‘n lanfer-lap
wat selfs die son ‘n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar
mee met elke toer
van Skoppensboer!
Waar Tebes in die stil woestyn
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig’ rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;
Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend’ hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;
Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
Soos skadu’s in ‘n stofwolk maal;
En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend’ mis die veld beslaat.
O Land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van U hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.
Sou ek een guns nog hier verdien,
– Nog een gebed omhoog verhoord –
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: –
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend’ mag berei
U groter stilte te aanvaar.
Laat uitlok deur geen suil of steen
‘n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt’liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend’ sterrebeeld van U kruis.
Elk’ ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig’ rotswerk hoog verhef.
Die dans van die reën
O, die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies,
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy,
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof is groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore in die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies;
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
Sonder betaling
Dis kleine dingetjies wat meeste vreugde bring:
van kindertjies wat speel, dié bly gelag;
‘n lewerik wat in wolke sing;
die sag’ bedruis van druppels in die nag.
Swart doringbome teen die Westegloed;
die groen van wuiwend’ gras wat hoog die bult omsoom;
lang lelies in die gras, nes druppels bloed;
die dof’ gemurmel van ‘n waterstroom.
‘n Sware werk goed afgedaan;
‘n wandeling met ‘n vriend wat ons bemin;
die eerste groen langs muur en laan;
die gloed van uit ‘n liefdevolle huisgesin;
die blydskap, uitgestort en vry,
loop on op eensaam’ wege raak.
Dit kos alleen die soek om te verkry:
die dinge wat die Lewe ‘n vreugde maak.
Wanneer dit reën op Rietfontein
Wanneer dit reën op Rietfontein
en deur die stof ‘n straal van groen verskyn…
dan sit oom Gysbert op die stoep alleen
Hy adem sag die geur
gemeng van stof en reën…
Van agter uit die groot kombuis
Kom daar aanhoudend die gesuis
Van kole op die vuurherd aangeblaas
Van pot en pan die klinkende geraas –
Dis net so seker as die boek,
Tant Malie bak nou pannekoek!
Mabalêl
Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
vrolik klink die liedjie
wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
Op die voetpad sy alleen,
met die skadu’s om haar heen;
op haar kop die kruik gelig
in gedienstig’ ewewig.
Golwend kleur die hemelboog,
stadig sterf die laaste lig,
en van verre deur die skermmure
winkend blink die eerste vure.
Wydgestrek in eensaam’ vrede
lê Rakwen’, die stille, brede;
glansend in die westerpraal,
met ‘n ceintuur in sy diepte van koraal.
En die witgepluimde riet
sing ‘n treurig’ wiegelied,
en buigend vleg ‘n wilwersoom al om
die diepgespieëlde hemelkom.
Wag, wag, Mabelêl!
Is daar niks wat jou vertel-
is daar niks wat deur die duister
bang en dringend in jou ore fluister
van die vreeslike gesel
wat jou vrolik’ lied beluister,
wat jou spoor hou, Mabalêl?
Word jy niks gewaar
van ‘n dreigende gevaar?
Voel jy nog nie, kil en snood,
Om jou hart die skadu van die dood?
Ver benee die palmietstele
in die bloue duister wag Lalele,
kwintessens van alles boos,
die Wreedheid self, meedoënloos;
met lydsaamheid wat alles kan ontbeer,
wat tyd en toeval kan trotseer;
wat seker as die Noodlot van sy dag
stil-wakker in die diepte op sy ure wag.
Deur winterkou en somergloed,
deur blankend’ droogte en swelgend’ vloed,
deur al die kerende taf’rele,
in sy diepte wag Lalele.
As die straaltjie in die sand
deur ‘n vlam-geskroeide land
tussen walle dor en vaal
skaars die rotse van Rakwena haal,
en die hulsels van die riet
‘n rouband bind van swart verdriet
om die groenbedekte kuil
waar die laaste water skuil
en die sugtend’ wind versmag
deur ‘n woedend’ son verkrag, –
roerloos by die skepplek hou Lalele wag!
En wanneer in donker nagte
rasend losbreek al die magte
van geweld en storm en vloed,
en Rakwen’ omring van angsgeskreeu,
smagtend sig nog eens te wreek,
soos ‘n swaar gekweste leeu
swart en brullend deur die bome breek; –
blinkend uit die donker kolk, –
vlieg ‘n vlammend’ dolk, –
wat deur stormbanke dig
‘n wêreld van verwoeste loof verlig –
ongeroer deur al die groot krakele
in sy diepte wag Lalele!
Droom sy op die kantjie, Mabalêl,
tot haar hart verlangend swel;
in haar peinse ongedeer,
staar sy in die diepte neer,
staar sy in die spieëlgewelf
met die donker reeds omsoom –
tot sy, dromend, self
deel word van ‘n salig’ droom;
uit die wêreld omgekeer
lokkend lag haar beeldjie weer.
Stadig deur die rietpensele
opwaarts uit die diepte rys Lalele.
Skud jou wakker, Mabalêl!
Sien jy nie die skadu opwaarts wel?
Naar die hoogwal, Mabalêl!
Hou jou mymering vir later –
nooit had vyg of wilg in water
so ‘n gespieëlde metgesel!
Nooit ‘n skrikbeeld uit die holte van die nag,
wat die dromer sug doen na die dag;
nooit onheilige gedaante uit die diepte van die hel
half so dreigend, half so fel
as dié skadu, Mabalêl,
as dié skadu, wat benee jou
uit die diepte opwaarts wel.
Voor jou voete, Mabalêl,
deur die westergloor verhel,
waar jy onbedagsaam staar,
sonder ooit gedagte van gevaar,
uit die stroomweg stadig
dryf ‘n halfverdrinkte blaar.
Had jy spiere van ‘n tier,
of die vlerke van ‘n gier,
meidjie, niks sou dit jou baar,
want te lank het jy gewag – te laat!
Uit die spieëlvlak omhoog
bars ‘n skuimend’ waterboog;
Oor Rakwena, kalm en breed,
Galm ‘n enkel angsvol’ kreet;
en dan saggies weer
oor alles sak die stilte neer.
Winkend deur die skermmure
helder blink die voornagvure.
Uit die donker stilte, skel,
klink geroep na Mabalêl
en die rotse antwoord weer;
maar terugkom sal sy … nimmermeer.
Stadig deur die rietpensele
naar die diepte sak Lalele.
Die spinnerak-rokkie
‘n Feetjie het vir haar
uit spinnerak ‘n doek vergaar;
‘n rokkie wit as heuningwas
het sy toe aanmekaargelas.
Maar nouliks was dit om haar lyf,
toe kom ‘n windjie, vlug en styf,
en met die uiting van sy sug
daar trek ons Feetjie deur die lug!
Haar maatjies staar haar treurig aan,
hoe sy hoog oor die bome gaan,
tot sy met heel haar rokkie fyn
daar in die verte glad verdwyn!
As jy ‘n rokkie ooit besit
van spinnerak of iets soos dit,
pas op hoe jy jou dan verroer,
‘n windjie mag jou glad vervoer!
Is daar nog trane?
Is daar nog trane?
Sal ooit weer skyn van smart,
deur sinsbedrog en ydel wane,
‘n enkel’ sug roep uit die hart?
Is daar nog trane?
Is daar nog bly gelag?
– waar kleintjies speel in tuine
vol van sonneskyn en blommeprag?
Is daar nog bly gelag,
in huise warm en hel verlig,
– gesondheid op elk’ klein gesig –
waar moederliefde as ‘n gloed
teen elke smart beskerm, verhoed,
elk’ vreug vergroot, elk’ leed versag –
is daar nog bly gelag?
Is daar gebede nog
wat in die Hemel nuut sal klink?
Wat in vuurwoorde, ongesog,
dié weeklaag in Gods oor sal skink?
Is daar gebede nog
wat alle vreugde daar sal stoor?
Met onweerstaanbare gewrog
dwing tot verhoor?
Is daar gebede nog?
Diep rivier
“0, Diep Rivier, 0 Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
In jou omhelsing eindig al my smart;
Blus uit, 0 Diep Rivier, die vlam van haat,
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag’ gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ‘n droom,
Kom snel, 0 Diep Rivier, 0 Donker Stroom.