
Laaste Groet
As my laaste groet se wasem
van die ruit se glas verdwyn
moenie gaan sit en treur nie.
Kyk ‘n wyle na die oggenddou
en weet, ek is altyd deel van jou.
Die son wat oor die rantjie kop uitsteek
is ek wat loer vir jou,
en vrolik vir jou lag.
Onthou dan hoe ons jongenstyd
soos kaalvoetklonkies teen
Magalies uitgeklouter het,
die pers amatis kristalle
wat ons uit die rowwe klip gehaal het
as ons piekniek hou en afkyk
oor ou Rietfontein.
Onthou die stofstrate van Lindley
hoe ons kaalbas
in die Valsrivier baljaar het,
op ons fietse sommer plaas
se kant toe uitgery het.
Sokkiejol in die sysaal van die stadsaal
met die ligte dof en ons jong lywe
natgesweet van ‘two-step’
op ‘The Midnight Special’
voor ons ‘close’ dans op Niel Diamond
of Gene Rockwell se ou bekende ‘Heart’.
Skink vir jou ‘n koppie boeretroos
en maak die ou herinneringe bymekaar,
ryg hul saam en hang dit
soos ‘n halssnoer om jou nek
Dan lê dit teen jou bors
Sodat jy nooit nie sal vergeet nie
Maak ons loskop gedagtes bymekaar
in ‘n kaleidoskoop van malse kleure,
skilder dan ‘n doek daarmee
en hang dit teen jou muur,
geraam in ons geselsies
sawens as ons bakhand sit
voor ‘n hardekoolhout vuur.
So as ek eendag weg is
moet ‘seblief dan net nie treur nie
sing ‘n liedjie vol van vreugde
met ‘n glimlag om jou mond
want waar ek is, is daar geen trane nie,
of hartseer, vrees of pyn.
Onthou my lewe, nie my sterwe nie,
vier fees vir my, want ek is tuis,
my werk was klaar!
© Anton Bosch 06/05/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.