Jongste aktiwiteit:

Wanneer Laas?

Wanneer laas het jy gekyk
hoe die son se eerste strale
oor ‘n bergtop vir jou loer,
of geluister as die tortelduif sy
liefdeslied in die laatmiddag koer?

Het jy al ver weg van die stad se lig
jou hand uitgestrek om ‘n ster te pluk
as die swart gewelf oor die hemel span
en die sterre binne jou bereik kom hang?

Ken jy die ruik van gewaste grond
as die son deurbreek na
die laatmiddagreën op ‘n warm dag,
of die lag van kinders wat in modder speel
en sorgeloos vir die lewe lag?

Wanneer laas het jy tyd gemaak
om net stil te raak in die oggenduur
en miskien op die strand op ‘n rots te sit
en ver oor die diepblou see te tuur?

Of jaag jy ook maar net na wind,
na die klatergoud wat die lewe bied
en sing jy saam met die wêreldskoor
wat stadigaan jou vreugde steel
en voor jy weet het jy jou lied verloor

©Anton Bosch 01/10/2018




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed