Modderoë (Goud)
hy’s in verset teen haar alleendors
koud teen haar klipfonteine
in haar bitterwaterwêreld sonder hom
sy liggie skyn vergeteflou
in sy sonversaakte vakuum
verbete soos ‘n herfsvergane blom
sy vredes tuimel halsoorkop
soos ‘n veertjie in die wind
swymelend ligswewend sonder sin
in die halflig reik sy roephande
soos rankende laat skadu’s
om sy liefde terug te win
en soos ‘n ou geroeste lamppaal
se geel gedempte strale
‘n stofstraatpad belig
flikker sy gedagtes
in klassieke stilfliek-grepe
haar gesig na hom toe terug
dit was eers net hy en sy
in volkome vrye vlug
op ‘n eros-waansinwind
nou’s dit net die ou onthou
en stofvlokke van verwyt
wat sy kyk se blik verblind
hy sluit sy modderoë moeg
teen ‘n sterre-labirint
en droom haar teen sy arms vas
verby die marges van die nag
verflenterd en verslind …
net soos ‘n veldverdwaalde kind
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek