Jongste aktiwiteit:

Repatriasie Kadot

Brons

Repatriasie kadot

 

Spyt kom te laat. Ouer gardes beweer dat ‘n mens eers besef wát jy gehad het wanneer jy dit nie meer het nie.

Soos braai op ‘n Saterdag aand.

Mense oorkant die blou water bráái net nie! Die bekende reuk wat diep in jou klere intrek wanneer daar om die kole gegrap word – wat soos ‘n walm om jou hang wanneer jy later in diep stoele neerval om die Springbokke te ondersteun – dis moedersmelk vir ons mense oorkant die blou water.

Hier kyk ons rugby op harde houtstoeltjies in muwwe kroëe stampvol anderlanders. Ons sit yl gesaai in ons groen en goud truitjies en voel vreemd en wanaangepas. Pa se kommetaar oor die wedstryd, of boeta se stry met die skydsregter – stuk droëwors in die hand – gly in groot slukke bitter bier in ons keelgate af. Rugby kyk is nie dieselfde as in ons land nie.

Bygesê – hoe maak mens ‘n “vuil coke” met “cola”?

Ek lig my kadot vir elke mens wat terugkeer vir Springbok rugby en ‘n lekke braai!

Duisendene kilometers vanaf óns land is alles anders! Die nuwe kultuur, die beter werksgeleenthede en rooskleurige toekoms vir ons kinders was ‘n magtige trekpleister.

Ons het nie die fynskrif gelees nie.

Ons mis ons eie SAUK. Ons mis “Vetkoek paleis”, “Voetspore” en “Orkney Snork nie”. Die aande in die sitkamer waar ons as gesin saam lag vir ons eie mense se menslikheid word soos nickerbols in ons kieste rondgerol en opgesuig. Hel, ons mis selfs die advertensie breuke van borrelende OMO waspoeier en die pittigge sêgoed van ons Nando’s!

Mense van Suid-Afrika, lig maar jul kadotjies vir die petroljoggie wat vinnig jou motor se voorruit vir jou was en jou olie en jou water toets terwyl jy brandstof ingooi. Gee maar gerus ‘n footjie vir sy diens of koop vir hom ‘n coke. Hier is so ‘n gebeurtenis skaars soos hoendertande!

Hier doen ons alles self. Kan eensaamheid so erg raak dat jy die malle gejaag by ‘n “One-Stop” mis? Ja. Ons staan en tande tel terwyl ons siels-alleen ons motors vol brandstof gooi. Daar is niemand wat glimlaggend ‘n geselsie probeer aankoop terwyl die kaartmasjien sy werk doen nie. Die man wat langs jou brandstof ingooi lig nie sy kadot in ‘n eg boeregroet nie. Jou voorruit bly vuil.

Inkopietyd is stresvol.

Waar is die tannies by die betaalpunte? Hoe maak ons as ons nie kry wat ons soek nie? Vir wie vra ons hulp? Ons het so graag geselsies aangeknoop terwyl die vals naels van die betaalpunt tannies kliek-kliek op die skakels om later baie belangrik vir ons te vra: “plastiek?” Dan het vlytige hande ons produkte netjies in kleurvolle plastieksakkies gepak, skoonmaakmiddels apart van kosprodukte nogal! Hier loop ons in vreemde winkels in verlate gangetjies stampvol volksvreemde produkte en koop maar net die nodigste, dit wat bekend lýk. Ons loop ure en soek na rooibostee, oros, zoo-koekies en milo. Ons vind dit nie. Traag stap ons aan na die AI inleser. Dan kom die inlees van die kodes – ons doen dit alléén. Ons vat ons eie sakke saam en pak ons goedjies maar so saam-saam in – alleen. Ons lig ons kadotjies vandag vir elke vriendelike tannie by ‘n betaalpunt. Julle is kosbare mense.

Anderland het miskien sy tulpe maar Suid-Afrika het sy Sonneblomme! Watter volheid het ons nie ervaar wanneer ons diep in die Vrystaat al agter stadige trekkers aangekruie het tussen plate geel sonneblomme nie!

Anderland het miskien sy rose maar Suid-Afrika het sy Kosmos! Niks kan vergelyk met die panorama van kosmoskleure wat die paaie inkleur in Noord-Wes soos wat ons van dorpie tot dorpie kon ry nie!

‘n Karos vol klein dinge soos hierdie laat ons harte bollemakiese slaan van verlange na ons vaderland. Patriotisme lê gemessel in die fynskrif van ‘n land. Nie alleen in groot geskiedkundige gebeure nie.

Vir sommige van ons is Repatriasie nie moontlik nie. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Vir die wat kán, lig ons ons repatriasie kadot in ‘n eg boeregroet. Julle dra ons harte met julle saam oor die blou water, terug na waar dit hoort. Nou ken ons die waarheid agter die grysaards se rede: “Ons weet nie wat ons het totdat ons dit nie meer het nie.”

Juanri

 

 

 

 

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed