Jongste aktiwiteit:

Alleen

BRONS
Vir Sarel het die Donderdag soos enige ander weeksdag begin. Vyfuur opgestaan, gestort, ketel gekook en toe die gesin se wakkermaak. En dit, soos gewoonlik, nie sonder sy kwota probleme nie. Jannie kry te koud en wil nog slaap. Sarel pluk hom orent en met dreigemente begin Jannie mompelend beweeg. Sarie moet nog haar rompie stryk en weer laat Sarel van hom hoor. Waarom was dit nie al lankal gedoen nie? Almal wil dieselfde tyd die badkamer gebruik. Klein Dawie weet nie waar sy skoolbroek is nie en Sarel los ‘n paar knope. Kieskeurigheid en lekkerbekkigheid maak ontbyt ‘n uitdaging en kosblikke word iewers opgetoor om skoolbroodjies skool toe te kan neem. Sarie maak die broodjies, want Sarel het nie tyd daarvoor nie. In die tussentyd ontdek Jannie dat hy nog huiswerk het om klaar te maak en ‘n rugbybrief om te teken. Gemoedere loop hoog teen die tyd wat Sarel werk toe ry, en hy is hoogs gefrustreerd. Maar hy voel ook skuldig. Daardie tydjie in die oggend voor skool kan so anders wees. En sy kinders is skool toe sonder dat hy gegroet het.
Dan trotseer hy die verkeer. Talle robotte alweer buite werking, ongeduldige taxibestuurders en onpadwaardige voertuie om mee rekening te hou. Vandag gaan hy weer laat wees. En dis alles sy kinders se skuld. As hulle net betyds klaargemaak het.
Sedert Annetjie se dood sukkel dit maar. Sy was so presies en in beheer. Alles het seepglad en op tyd verloop. Die vorige aand al het sy gesorg dat die skoolklere reg is, huiswerk voltooi is en elkeen se skooltasse gepak is. Dit het so maklik gelyk. Maar Sarel kon dit in ses maande, sedert daardie noodlottige dag, nog nooit regkry nie.
Vanuit nêrens hardloop ‘n jong seun oor die pad, seker haastig, want hy is laat vir skool. Hy sien nie Sarel se kar nie. En Sarel sien hom nie, of liewer nie betyds nie. Hy slaan remme aan, maar te laat en die jong seun vlieg deur die lug. En oomblikke later lê hy leweloos aan die ander kant van die pad. Verkeer hoop verder op, party hou stil, ander ry geirriteerd verby. En Sarel sukkel om tot verhaal te kom.
Minute later aanskou Sarel hoe die paramedikus die laken oor die seun se kop trek.Die finaliteit! Die ouers is blykbaar nog op pad. Hoe gaan hulle die nuus verwerk? Het hulle hom dalk ook aangejaag. om klaar te maak, het hulle dalk ook, soos Sarel, nie tyd gehad om te groet nie?
Die seun is maar elf jaar oud. ‘n Kort lewe so skielik beëindig.
En Sarel begin huil.
Heelwat later stuur sy baas hom huis toe. Hy verstaan en hy weet dat Sarel se gedagtes nie by sy werk is nie.
Daardie seun onder die laken spook by Sarel. Die pyn in sy ouers se oë. Die kyke, die verwyte, die beskuldigings. Hy dink aan daardie laaste oomblikke wat die seun dalk vanoggend by die huis was en hy onthou hoe dit die oggend in sy huis was.
Klein Dawie is die eerste wat later die middag op sy pa se liggaam afkom, opgehang in die garage.
Want Sarel moes die pyn en skuldgevoelens alleen dra. Niemand het gedink hy het ondersteuning nodig nie. Niemand het verstaan hoe hy voel nie. Niemand het sy pyn gesien nie. Niemamd nie.
@Henn




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed