Tsau //Khaeb – waar sagte sand die laaste sê het
Streke dra hul name soos geheime wat eers met tyd oopvou. Party name klink eenvoudig, maar as jy lank genoeg luister, begin hulle fluister van geskiedenis, landskap en mense wat lankal verdwyn het. So is dit met Tsau //Khaeb, ’n wêreld wat halfpad tussen stilte en herinnering leef.
Langs Namibië se suidwestelike kus lê ’n uitgestrekte gebied wat vir dekades afgesper was vir gewone voete en nuuskierige oë. Die see aan die een kant en die Oranjerivier aan die ander en berge wat soos wagte teen die binneland staan. Vir lank was dit ’n plek waar permitte, hekke en streng reëls ter sprake was. Alles ter wille van die klein blink klippies wat onder die sand gelê en wag het.
Vandag ken ons die streek as Tsau //Khaeb Nasionale Park. ’n Nama-naam wat “diep sand” of “sagte sand” beteken. ’n Naam wat sag op die tong lê, amper te lig vir ’n plek met so ’n harde geskiedenis. Voorheen was dit die Sperrgebiet. ’n Woord met harde klank en grense wat nie toestemming gevra het nie, net bevele gegee het.
Die diamantverhaal het in 1908 begin toe Zacharias Lewala, ’n spoorwegwerker, ’n klippie opgetel het wat mooi blink langs die treinspoor gelê en skitter het. Daardie klein glinstering het die stilte van die kuslyn oopgebreek. Mense het ingestroom met hulle sifpanne en grawe. Met hul drome wat groter as die woestyn was. Dorpe het uit die kaal aarde begin verrys: Kolmanskop met sy danssaal en ysblokke, Pomona en Elizabethbaai met hul kortstondige lewens en by Bogenfels die groot rotsboog wat soos ’n deur na ’n ander tyd bly staan het.
Ek wonder soms hoe dit moes voel om daar te woon, om soggens wakker te word met sand teen die venster en snags onder ligte te sit wat uit ’n ongenaakbare landskap opgetower is. Om te glo dat geld genoeg is om selfs ’n woestyn te tem.
Maar ’n woestyn leer jou geduld. En sy lesse is altyd stadig.
Toe die diamante minder geword het, het die mense begin wegtrek. Die musiek het stil geword. Deure het oopgewaai, vensters het gebreek en die sand het sy intrek geneem. Dit het nie oornag gebeur nie, maar stadig en seker deur elke opening gebeur.
Vandag lê die sand dik oor Kolmanskop se vloere. Dit kruip teen mure op en vul gange waar mense eens van groot rykdom gedroom het. Die huise staan nog, maar hulle behoort nou aan die woestyn.
Die woestyn het sy plek teruggevat.
Maar Tsau //Khaeb hou meer vas as net die geraamtes van die myn-dorpe. Onder die sand het die wrak van die Bom Jesus eeue lank gelê — ’n Portugese handelskip, soos ’n brief uit ’n ander tyd, gevou in lae sand en stilte.
Hier is elke duin ’n sin, elke sandkorrel ’n naam en elke windvlaag ’n geheim.
Ironies genoeg het die verbod die land self beskerm. Waar mense weggehou is, het plante bly groei, diere hul roetes bly volg en die aarde bly asemhaal sonder dat iemand dit sien. Meer as ’n duisend plantsoorte hou vas aan hierdie skynbaar leë wêreld. Ná reën verander die grond van kleur soos papier wat ingekleur word.
Ons kyk soms te vinnig en besluit te gou dat ’n streek leeg is.
Maar bruinhiënas volg die robbe-kolonies en gemsbokke sny hul lyne oor die vlaktes. Die voëls volg die kus en die riviermond en klein lewens vorm hul eie heelal op plekke waar water skaars ’n gerug is.
Die streek is beslis nie leeg nie.
Hy is net stil.
Toegang bly egter vandag nog beperk. Die vergete dorpies: Kolmanskop, Pomona en Bogenfels kan besoek word, maar net onder toesig. Die land maak nie al sy deure oop nie. Party plekke moet ver genoeg van ons af bly om hul geheime te behou.
Tsau //Khaeb vertel wat die land nog altyd was terwyl Sperrgebiet vertel wat mense van die land gemaak het.
Sagte sand, nie swak of leeg nie, maar geduldig genoeg om uiteindelik die laaste sê te hê.
©MarleneErasmus
22/06/2026
(667 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.