Liewe probleem
Liewe Probleem
Hier in my hart het jy kom klop aan my deur. Eers het ek gedink jy kom wys net oë.
Voor ek nog behoorlik kon groet, sit jy wraggies pens en pootjies op my bank van vrede, uitgestrek asof jy self die huur betaal.
Met smaak herinner jy my aan die balju, so asof ek nou nie weet hy drink my laaste drie lepels suiker in sy koffie nie. Asof ek nie genoeg skuld het nie, moet ek wraggies nog melk by die buurvrou leen.
Verder gesels jy voort oor my begraafplaas van verkeerd. Jy ken elke geraamte op sy naam asof julle familie was.
My asem raak min, my keel trek toe en nog twee hare van my amper drie val uit.
Weer ’n klop aan die deur. Genade, jy nooi vriende saam: angs en vrees. As ek reg onthou, is hulle jou tweelingbroers. Kom stap in asof hulle my al jare ken. Stywe drukkie, en hul reuk klou erger as ’n nat hond.
Gelukkig is julle gemaklike gaste, soek niks om te eet of drink. Julle bring julle eie goed saam.
My huis is vuil, julle het kom intrek maak. Ek voel sommer naar.
Met julle heerlik tuis, nooi ek toe my eregas. Eintlik die hoof van my huis.
Ek wens julle kon julle gesigte sien toe Jesus voor julle staan.
Sy woorde klink soos donderweer: Julle mag maar gaan. My kind se skuld is reeds betaal. Hy is vry. Julle kan maar gly.
Sag sit ek in vrede op my bank, besig om God te bedank.
Maak nie saak hoeveel keer jy wil kom kuier nie, ek weet God is aan my kant.
© Ryno du Plessis
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Christa D
Baie goed geskryf