Kaslaaie vol herfs goeters #silwer
Kaslaaie vol herfs goeters
Dit voel soms asof my binneste ‘n kas vol emosie is. Die laaie skuif swaar oop onder die gewig van herinneringe. Sommige is helder soos sonlig op water, ander dowwer, amper vergeel soos ou briewe. Daar is ‘n laaie vir vreugdes, vir verliese, vir liefde wat geblom en gesterf het en een vir woorde wat nooit geuiter is nie. Party dae trek die laaie maklik oop. Ander dae wil ek nie eens probeer om dit oop te maak nie, want van daardie onthou is so seer dat die laai nie sal wil oopgaan nie. Met elke jaar raak die kas voller en ek besef dat daar amper nie meer plek oor is vir nog emosionele goeters nie.
Ek sit op my stoep en bekyk die boom se geel blare en die stil wete dat herfs op pad is kruip saggies oor my gedagtes. Dis juis op sulke dae dat herfs my altyd die diepste raak, want herfs stap die wêreld binne met ’n sagte, nadenkende stilte. Die son begin laer hang, lig word korter, en binnekort gaan die geel verander na rooi, oranje en oker. Wanneer die tyd reg is begin die bome hul blare laat val. Nie haastig nie, net een vir een. Hulle hou nie hul blare terug uit vrees vir die koue van die winter nie maar omdat die seisoen dit vra.
Elke blaar lyk vir my soos ’n klein afskeid. Nie dramaties nie, net eenvoudig: ’n herinnering dat alles wat leef, ook ’n tyd van loslaat het. Vir my is daar iets onmiskenbaar hartseer aan hierdie seisoen, want dit laat my herinner dat niks permanent is nie. Verhoudings wat verander, vriendskappe wat sterf, jare wat verbygaan en dan kom herfs om my daaraan te herinner dat tyd altyd vorentoe beweeg, selfs wanneer ek net wil stilstaan.
Ek dink aan my binne kas wat elke jaar net voller en voller raak. Ek is by die punt waar dit voel of daar nie meer plek is nie. Daar is nie meer spasie vir nog ‘n herinnering, nog ‘n verlange, nog ‘n stukkie seer nie. Dit is asof die lewe net aanhou om nuwe laaie in die kas te skuif.
Miskien is dit wat hierdie jaar se herfs my wil leer: dat die kas van emosie nie net ‘n plek van bewaring moet wees nie, maar ook van ‘n plek van loslating. Dat daar soms ruimte gemaak moet word, nie om te vergeet nie, maar om te aanvaar dat sommige dinge klaar hul eie seisoen gehad het.
En so begin ek verstaan dat herfs nie net ’n seisoen van sterwe is nie maar ook ’n seisoen van ligter word. Wanneer ek die laaste laai skoonmaak sal ek kaal en eerlik, soos die winter, voor die spieël kan staan. Die grootste troos sal wees: dat selfs wanneer die kaslaaie vol voel en al die blare geval het, leer die natuur my dat die dood nie altyd vernietiging beteken nie. Soms is dit net ‘n terugkeer.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir MAART 2026 – HERFS/KAS projek