Waar geitjies blaf
(1477 woorde)
Sy oë soek tussen die geroesemoes van stemme na die fotograaf. Hy vind hom eenkant, stilweg tussen kunsliefhebbers wat sy werk staan en bewonder.
“Mnr David Goldblatt! Ek wou u nog gevra het: Watter een van hierdie foto’s lê u die naaste aan die hart?”
“Al my foto’s in die versameling ‘Some Afrikaners Photographed’ ruk aan my hart, maar hiérdie een …,” antwoord hy en stap na ‘An Old Lady Who Was Waiting To Die – Die Hel’, “stal ek wêreldwyd uit… Dit vertel vir my ‘n storie van meer as ‘n duisend woorde.”
~0~
Die walglike reuk van uitgebraaide beesvet in ‘n gietysterpot laat Hester se humeur skielik ontvlam. Die bont repies katoen, wat sy gisteraand so sorgvuldig gevleg het, lê vergete op die houttafel. Rookstank klou aan haar hare en klere. Die wit rook gaan seker tot diep binne die kleistene van hulle donker huisie intrek. Hester gryp na die naaste houer en kots binne die knieskottel. Sy skuif stadig teen die ruwe muur af tot op die koue misvloer en haar woede verander na hartseer. Heimwee na haar ouers en na dít wat kon gewees het as sy steeds in Calitzdorp gewoon het. Dáár sou sy hierdie afskuwelike kerse in ‘n winkel kon koop, dink sy wrokkig; en sy sou nie handgemaakte onderklere van ou meelslopies gedra het nie. Haar ou uitrustings was soveel mooier as die oudmodiese klere waarmee die mense van hierdie andersewêreld rondloop.
Hester vee haar nat gesig teen haar mou af en onthou dan wrewelig van Die Leer waarlangs Hendrik haar net na hulle huwelik, gly-gly teen ‘n gevaarlike helling in Gamkaskloof in gehelp het. Al die los klippe en gruis tussen daardie ruwe getande rotse het haar byna haar lewe gekos, bejammer sy haarself. Al die opgekropte frustrasies van ses maande se gesukkel rol in warm trane saam met harde snikke oor haar wange.
“A-nee-a! Watse gesanik is dit hierdie?” vra Sannie ongenooid by die oop deur. “Was daar ‘n afsterwe?”
Hester skud haar kop en huil nog harder. “Ek weet nie wat dit deesdae met my is nie. Dit voel asof die stilte en hierdie berge my gaan versmoor. Alles is net te veel! Die winterkoue het in my vleis en my murg gaan sit. Ek werk al van donkertyd met die hoenders en bokke. Dan moet ek nog op die lande en in die groentetuin skoffel, brood bak en Adamsvykonfyt maak, of ons vrugte droog én ons klere met die hand maak. Van wátse materiaal nogal, vra ek jou? En ek weet nie hoe om kerse te maak nie!” huil Hester nou nog harde ven wys na die gevlegde kerspitte en die warm rokerige vet op die Dover-stofie.
“Kloofkoors,” sê Sannie saaklik. “Kom ons loop sit buite, dan trek ek vir ons ‘n pot heuningbostee. Laat ‘n kránskind jou kom leer kerse maak. En jy moet die skoorsteenklep oopmaak wanneer die suidooster oor die krans waai.”
Naby die stoep sien Hester ‘n dragtige koedoe-ooi. Haar groot, nuuskierige oë kyk stip na Hester; haar ore waaksaam gespits. Verwonderd sien Hester hoe sy wegdraai en op loop sit.
“Hoekom het jy dan met Hendrik Mostert getrou? Hy is soveel ouer as jy,” wil Sannie weet.
“Dis alles my pa se skuld!” sê Hester, van vooraf ontsteld. ‘n Ryk volstruisboer het by my vlerkgesleep en ons sou later die wêreld vol toer. Dit was nog altyd my droom.” Hester vee haar natgehuilde gesig af met die lap wat Sannie aangee. “Maar my pa wou nuwe Swanepoel-bloed die vallei instuur. My oupagrootjie, Oupa Pieter Swanepoel, het mos destyds op die eerste grond in Gamkaskloof geboer.”
“Hester,” sê Sannie kalm en vryf die lang donker hare tussen haar vingers, “jy het teruggekom vir ‘n Mostertman. Hy is ‘n Klower; en die vryheid wat saam met die alleenheid hier in die vallei loop, is vir hom ononderhandelbaar. Ek is seker hy vou soggens sy hande saam om te bid, want ‘n Mostert sluit nie die deur vir die winter nie. Hy sit hom met ‘n stille taaiheid teë en werk hardkoppig sonder ophou, want hy moet eet en oorleef.
“Jy moenie nou staan en dorpstee wees nie, Hester. Jy sal móét aanpas, want Hendrik het jou nodig om hom te ondersteun en saam met hom te werk.”
“O! Hendrik het genoem dat die donkietrein vandag teen Die Leer terugloop,” sê Hester skielik opgewonde. “Ek gaan ‘n hele paar briewe vanaf Calitzdorp kry en ek hoop daar is koffie ook! Gerekte koffie met fyn gedroogde patats is nou eenmaal nié waaraan ek gewoond is nie.” Sy kyk vrolik na Sannie en sien dat sy vernederd voel. Voordat sy iets sagters kan sê, antwoord Sannie op die verdediging.
“Ons Klowers is miskien nie ryk aan middele nie, maar familie en vriende, harde werk, vryheid en al die mooi rondom ons maak ons skatryk. Het jy ooit vroeër hierdie winter gesien hoe die hellings rooi brand as die aalwyne blom?”
“Ek is jammer ek het jou gevoelens seergemaak, Sannie. My emosies is deesdae so deurmekaar.”
~0~
Wanneer die berge se skadu die rivier tref, weet Hester dat sy moet klaarmaak in die groentetuin. Terwyl sy huis toe stap dring die “kyaahh-ka-ka-ka”-roep van ‘n Rooiborsjakkalsvoël iewers teen die helling vir die eerste keer tot haar bewuste deur.
Hendrik is vroeër as gewoonlik en koets oudergewoonte met sy kop voor hy by die deur inloop.
“Ek het vir jou wildeheuning gebring, my vrou. Van daar waar die bobbejane sit, en ons het goed gedoen hierdie winter,” groet hy opgewonde. “Ons witblits en ander produkte was genoeg vir heelwat negosieware.” Vies plak hy ‘n koevert op die houttafel neer. “Waar’s die pen?” Hendrik trek twee dwarsstrepe oor die voorkant en skryf daarop: Word belasting in die hel betaal? “Ek stuur hierdie terug vir die vermetele belastingman. My adres is Gamkaskloof!”
“Waar’s mý pos dan?” vra Hester vol verwagting.
“Daar was niks. Jy sal vir die volgende donkietrein moet wag.”
Dieselfde hartseer van vroegoggend vlam weer in Hester op. “Ek wil teruggaan Calitzdorp toe, Hendrik! Ek voel losgeruk uit my wêreld, vasgekeer tussen hierdie berge nes die opdrifsels dryfhout wat die rivier in die donker vallei vasspoel!”
Hendrik kyk na haar in stille verbystering. “Ek het dan vir jou ‘n stewige huis gebou, my vrou. Op die mooiste plek in die wêreld!” Hy neem haar hand in sy grof geëlte hand. “Kom ons gaan sit buite.”
“Die grond was reeds lank voor my hier,” sê Hendrik dan kalm. “Die grond sal steeds lank ná my hier wees. Hierdie grond is deel van my bloed.”
Die son het reeds na agter die kranse vertrek en ‘n sagte glans gloei geel in die vallei.
“Kek-kek-kek,” begin dit eggo deur die kloof, en die rante rondom hulle word lewendig.
“Wat maak só?” vra Hester verskrik.
“Dit word lente, my vrou!” kom dit ongekend uitbundig van Hendrik. “Die geitjies blaf om ‘n maat roep. Elke mannetjie sit en blaf vanuit die gat van sy ondergrondse sandtonnel.
“Ek dink altyd só daaraan. As die eenvoudige geitjie van Spreuke met koppigheid en slim planne in ‘n koning se paleis kan woon, kan die skepseltjies seker ook hier in die dorre, droë sand van die warm Gamkaskloof oorleef. Hulle het ‘n plan gemaak en vir hulle ondergrondse tonnels gegrawe.”
Met die koms van die aand verander die dag se hemelsblou Karoolug na ‘n pikswart koepel waarteen die wit sterre soos pokgate uitstaan.
“Hendrik …,” begin Hester huiwerig en skuif styf teen hom aan. “Die bloed in mý are is nou ook deel van hierdie grond. Ek dink ‘n nuwe Mostertjie is op pad.” Sy sit haar hand beskermend oor haar buik.
Hendrik slaan beide arms om haar lyf. Met blydskap druk hy Hester nog stywer teen hom aan. Vir ‘n wyle langer sit hulle en luister na die blaffende geitjies. Dan stap hulle saam-saam die donker huisie binne, waar Hester se nuwe kers dansende skaduwees teen die growwe mure gooi.
~0~
“Wie wás sy?” vra die verslaggewer.
“Ouma Hester Mostert, ’n tienerbruid van Calitzdorp. Die Swartberg het haar ingesluk en gebytel tot ‘n matriarg van ‘Die Hel.’”
“Dit was Januarie 1969 toe ek haar gevra het of ek ‘n foto van haar mag neem. Sy het ingestem: ‘Ja, mits u vir my ‘n afdruk daarvan stuur.’ Ek het haar verseker dat sy hierdie foto oor drie maande sal ontvang, waarop sy geantwoord het: ‘Ag, los dan maar. Ek gaan al dood wees.’ Sy was ’n sterk vrou wat die realiteit van oudword en die dood reeds gekonfronteer het,” sê David, “want sy is daardie selfde jaar op 7 April oorlede.”
Die verslaggewer bestudeer die ikoniese silwergelatien-foto. ‘n Onversetlike Afrikanervrou sit in die deur van haar voorkamer. Haar gesig vertel ‘n aangrypende verhaal van gelate oorlewing in ruwe omstandighede.
“Ja,” mymer hy. Sy het miskien geïsoleerd geleef …, tog het haar foto die wêreld vol gereis.”
© Rika Gerryts
*Gamka is die Khoisan woord vir leeu.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.