Die tannie se tier
Hoe stout kan mense soms nie wees nie! Dit kan die pragtigste strepe vir mekaar trek, soms dalk aan die lawwe kant. Maar toe nou maar – die mens moet soms seker laf ook wees.
In die suide van Suidwes gaan jag drie kêrels op ‘n keer. Dit was nog in die óúdae toe daar baie wild was. Die drie man is van die westekant af uit die Swartrand deur Mariental die Kalhari in. En daar skiet hulle dié dag ‘n driekwarttonbakkie vol springbokke. Soos ek gesê het, dit was in die óúdae toe die mense nog gedink het dat daar geen einde aan die troppe wild sou kom nie.
Láát die namiddag – toe hulle klaar gejag het en aan die terugry was -tóé kry hulle eers die goeie kanse van die dag en hulle begin skiet sommer vir die pret en die lekkerte. Dis hier ‘n gemsbok, daar ‘n hartbees, “n entjie verder ‘n volstruis, en so gaan dit aan.
En vir die spaas skiet hulle ‘n tierwolf ook. En om dit ‘n snaaks ding is, laai hulle hom by die springbokke op, sodat hulle huismense hom van naderby kan bekyk. Die lorrietjie is so swaar dat hy soos ‘n slee loop.
Skemeraand kom hulle op Mariental aan. En hulle dag hulle verdien teen dié tyd iets ná die suksesvollejagtery. En hulle trek die vragmotor vol wild in die hotel se agterplaas in en hulle begeef hulle kroeg toe. Eers het hulle in die sitkamer sit en gesels en grappies maak.
En daar kom sluit nog mense by hulle aan, onder andere ‘n man en vrou wat uit die Kaap op toer was deur die land. En dié twee mense, so om en by die vyftig, vra uit oor alles en beduie hoe baie hulle van die natuurlewe en die wild hou.
Later gaan slaap die twee Kapenaars, en die drie jagters verskuif na die hoë stoele toe en hulle vergeet skoon van die ent pad wat daar nog oor is terug na die Swartrand se wêreld toe. Teen toemaaktyd besluit hulle om eers ‘n rukkie in die hotel te slaap en dan vroegmôre die pad te vat om die wild te gaan bewerk. Dis koud en die vleis sal nie bederf nie.
Die kroegman gee hulle die sleutel vir ‘n kamer en hulle gaan maak ‘n draai by die lorrietjie om te kyk of daar nie intussen gesteel is nie. En toe hulle ‘n vuurhoutjie oor die bak trek, lê alles nog net soos dit was, die tierwolf êrens heel bo-op.
En daar kry hulle die stuitige idee dat die wolf dié nag nog op ‘n manier gebruik moet word. En lekker aangeklam besluit hulle dié knaap uit die Kalhari moet ook die nag in die hotel onderdak hê. En hulle smokkel hom in die donker met die trap op na waar die hotel se slaapkamers is. En hulle kom tot die gevolgtrekking dat die tierwolf op die beste tot sy reg sal kom in die kleinhuisie. En hulle maak hom op die pot van die damestoilet sit. En gewillig om te sit is die stywe tierwolf teen dié tyd wel. Met sy ken op sy bors en sy tong wat ‘n ent by sy bek uithang, lyk dit of hy heerlik ingesluimer het. En die manne trek die deur tot op ‘n skrefie toe, en gaan slaap.
Teen voordag kom daar lewe. Die man en die vrou uit die Kaap wil vroeg in die pad kom. En die drie jagters spring ook uit die vere. En hulle wonder of die tierwolf gedurende die nag besoek gehad het.
En hulle wonder nog so, toe hoor hulle die tannie van die Kaap loop voor hulle kamer se deur verby in die rigting van die toilet. En die deur kraak. En daar is ‘n gesmoorde gil. En ‘n klein oomblik se stilte. En toe ‘n dowwe plof. Hulle hol die gang in. En daar lê die tannie uitgestrek op die vloer, redelik ver van die wêreld se bekommernis af. En hulle storm om haar te probeer help. Natuurlik kyk hulle na die oorsaak van die tannie se floute. En ja, die tierwolf sit nog steeds in diepe bepeinsing op die pot se bankie.
Teen dié tyd is die tannie se man ook daar. Hy probeer met sy oor by haar mond hoor of sy nog ‘n laaste woord te sê het. Maar die manne gee hom nie lank kans vir so ‘n boodskap nie. Die tannie moet tot op haar bed gedra word, sodat hulle haar kan probeer lawe. En daarom skuif die omie uit die Kaap om na haar voete toe om dáár te dra. En met dié kyk ook hý reguit in die kleinhuisie in. En hy sak langs sy ou beste inmekaar. Die drie jagters trek die kleinhuisiedeur toe en dra die twee slap
liggame na hulle kamer van herkoms toe.
Daarna hol een van die jagters na die dokter se huis toe, want dié is gelukkig net ‘n entjie met die straat af. En gelukkig was die dokter self al op die been. En in die hotel aangekom, beluister en bevoel hy die twee pasiënte. Dis vir hom eienaardig, sê die dokter, dat die man en vrou presies dieselfde floute het en dat hulle besig is om vanself reg te kom.
Een van die driejagmaats, wat met sy tong gestoot het, prober toe lig op die eienaardigheid werp:
“Ek thal jou thê waarom hulle diethelfde floute het- hulle het op diethelfde plek vir diethelfde ding gethkrik.” “Gee pad,” sê die dokter, “en laat my alleen om die ongesteldheid te diagnoseer.”
En die drie man is op hulle ryding en weg.
Later sou hulle maar by die eienaar van die hotel hoor wat verder gebeur het. Toe die dokter die twee half-oorlede wesens weer lewend kon sertifiseer, vertel hulle op wankelmoedige wyse van ‘n gevaarte in die damestoilet. Dis ‘n gorilla, meen hulle. Die dokter waag sy lewe by die kleinhuisie verby om die hoteleienaar van die gevaar onder sy dak mee te deel. Op sý beurt spring die baas aan die telefoon en kry die polisie in die hande.
Die sersant en die konstabel beplan ‘n aanval asof dit in vandag se tyd ‘n terroris is waarmee hulle te doen het. Uiteindelik is die wolf aan ‘n agterpoot by die trappe afgesleep, en úit by die deur -ten aanskoue van die helfte van die dorp, wat toe al die nuus van die onnatuurlikheid gehad het en in die straat bondel geslaan het.
Ná hulle die hele storie gehoor en van voor af daaroor gelag het, maak die drie rakkers oor en weer vir die grap die een en ander opmerking ~ om dít wat hulle nié gesien het nie, ook helder voor die
gees te kry. “Thieth tog,” sê die een wat met sy tong stoot, “lat mak menthe nou hier in die wille wêreld tho vreethlik vir ‘n dooie ding moet kom thkrik. ”