Jongste aktiwiteit:

Coenie de Villiers
vir

Coenie de Villiers

Karoonag
Coenie de Villiers, uit die album Karoonagte (1990).

As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld
en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê;
as die tweeling en die kreef
kotteljons oor Beaufort-Wes
en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet

Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand

Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand, hier vanaand

In die môre as dit blou word
en die amber wolke roer as die son sy eerste lig
oor die bitterboela stoot;
as die trein by Noupoort fluit
en dit wegraak in die wind
en ‘n tolbos iewers vaswaai teen die rant

Ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand

Ruik jy katbos en ruik jy kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand, hier vanaand

Ruik jy katbos en ruik jy kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand

Ruik jy katbos en ruik jy kambro
as dit reën in die Kleinkaroo
My hantamwind
My optelkind
vanaand, by my vanaand.

Sputnik

‘n Pomelomaan hang varsgemunt
oor die strate van my jeug
Ek is kaalvoet en dra kortbroek
My wêreld is vol deug
Daar is orde in my heelal
– my ganse woonbuurt wit –
Sondae gaan ek kerk toe
Waar ek psalms sing en bid

Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders

Die straatlig maak ‘n kegel
Waar miljoene motte draai
Ons steel vrugte by die buurman
Wat (vermoed ek) goed kan raai
Dat die kinders in sy donker tuin
sy appelkose skaai
Maar daar’s geen heinings om sy huis nie
Geen alarms wat verraai (nie)

Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders

Ons hoor iemand skiet ‘n president
Maar dis ver en raak ons min
Ek speel eenvoudig met my Dinky toys
In ‘n stad wat ek versin
Waar almal net soos ek lyk
Ons is almal Afrikaans
Daar is reëls hier in my dorpie
Dis ‘n wêreld vol balans

Daar was ‘n Sputnik in die hemel
En die townships was vergete
Was ek regtig so onskuldig,
Het ‘n kind dan geen gewete nie?
Die verlede is ‘n ander land
Oor die Rubicon, aan die ander kant
Lyk my lewe soveel anders
Lyk my lewe soveel anders

Thula

Daar’s ‘n moeder in Soweto
Daar’s ‘n ma in Waenhuiskrans
Daar’s ‘n baba in haar arms
Terwyl sy om die kamer dans

Sy sing oor ou legendes
Van mense lank reeds dood
Sy sing oor diep riviere
Van voorspoed, en van nood

Thula Thu thula baba thula sana
Thulu babuzo ficka ekuseni
Thula thu thula baba tjula sana
Thulu babuzo fickea ekuseni
Thula thula thula baba
Thula thula thula baba
Thula thula thula sana …

Dis ‘n lied wat elke ma ken
Sy gaan haal hom diep, en ver
Dit vertel van kronkelpaaie
Van die maan en morester

Al lyk hul soms verskillend
Bly elke ma oneindig trou
En sy sing haar lied van liefde
Vir alle kinders, ook vir jou

Thula Thu thula baba thula sana
Thulu babuzo ficka ekuseni
Thula thu thula baba tjula sana
Thulu babuzo fickea ekuseni
Thula thula thula baba
Thula thula thula baba
Thula thula thula sana …

Miskien

Miskien
Maak ek ‘n haikoe net uit klank
En bind ‘n strik van woorde óm …
Miskien
Word dit ‘n groter simfonie
Of dalk bly dit net kort, en stom …
Miskien
Weef ek uit note ‘n kombers
En dalk, wie weet, as dit kom reën
Dra jy dit, al is dit net ‘n lied –
soos jy, is ek ook dalk alleen.

Dalk stuur ek vir jou ‘n vers wat in die donker blink
Want taal, wat in die swart en diepste duister klink
Is ook – al rym dit goed – tog net ‘n bietjie bang,
Kan verlang …

Miskien
is daar ‘n kamer met ‘n spieël;
‘n kind wat stadig daarin draai
Miskien
Dans ons ‘n baie ou pavane
maar word ons deur musiek verraai
Miskien
Is dít wat ek en jy in glo
Bloot kole in ‘n nanag vuur;
musiek en woorde – dalk die liefde self –
word leuens in hierdie laatnag uur …

Dalk stuur ek vir jou ‘n vers wat in die donker blink
Want taal, wat in die swart en diepste duister klink
Is ook – al rym dit goed -tog net ‘n bietjie bang,
Kan verlang …

Miskien
Maak ek ‘n haikoe net uit klank
En bind ‘n strik van woorde óm …
Miskien
Word dit ‘n groter simfonie
Of dalk bly dit net kort, en stom …
Miskien
Weef ek uit note ‘n kombers
En dalk, wie weet, as dit kom reën
Dra jy dit, al is dit net ‘n lied –
soos jy, is ek ook dalk alleen (Herhaal tot einde)

Op reis

Op reis deur verre lande
Soek ek opnuut my land se lug
Ek soek wolke op die horison
Die wind wat iewers sug
Deur die blare van ‘n bos
Langs die plaasdam van my jeug
Al reis ek altoos verder
Dis net herinnerings wat deug

Op reis deur verre lande
Hoor ek deur die stadsrumoer
Hoe ‘n bosduif iewers nes maak,
In ‘n doringboom kom koer
Ek ruik reen wat skielik opslaan
Uit ‘n stofpad deur die veld
En ek sien ‘n goue skemer
Wat die nag se koms vermeld

Want in my hart woon daar ‘n plaas
Met ‘n windpomp en ‘n dam
Met lusern in ‘n skuur
Met skape wat kom lam
In die die koelte van ‘n klipmuur
Wat deur my drome sny
En hoe meer my voete reis

Dwing my hart my om te bly

Op reis deur verre lande
Is die winters dikwels wit
En ek soek ‘n opslagsomer
‘n vloer van perskepit
In ‘n ou-ou skemer opstal
Waar ‘n lamp vertroostend brand
En al reis jy deur die vreemde
Vind jou kompas steeds jou land

Want in my hart woon daar ‘n plaas
Met ‘n windpomp en ‘n dam
Met lusern in ‘n skuur
Met skape wat kom lam
In die die koelte van ‘n klipmuur
Wat deur my drome sny
En hoe meer my voete reis
Dwing my hart my om te bly

Namakwaland

Die lug lê laag oor Londen
Die reën tik teen die ruite
Hier binne is dit warm,
Maar die wind sny koud daar buite
‘n Huis hier in die vreemde
Is klein, en koud, en grys
Daar’s kerse, boeke, brood en wyn
Maar in my drome is ek tuis

Hier word dit vroeg-vroeg donker
As die skemer tuis nog draal
En my pa die laaste beeste
Dalk kom toemaak in die kraal
Die hart meet afstand anders –
Die verlang maak alles ver
Hier soek jy saans die Suiderkruis
Maar dit bly ‘n vreemde ster

Daar’s ‘n see-perdjie van skulpe
Wat kom uit Jeffreysbaai
En die foto van ‘n visser
Met sy bote langs die kaai
Daar’s ‘n kaartjie met ‘n Kersboom
En ‘n boodskap van my Ma:
“Kom huis toe, dit word somer”
En daar is groete van my Pa
Afrika lê baie ver
Ek mis sy halala
Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra
(Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra)

Die son gaan hier verlore
En die lug is altyd grou
Ja, die vlaktes van die Vrystaat
Is al wat ek onthou
as die verlange my kom beetpak
Hier waar ek woon in Notting Hill:
Dis nie ‘n holte vir die voet nie
Dis ‘n plek wat my verniel

Daar’s ‘n armband van krale
Wat hang in die kombuis
Dis ‘n geskenk uit Isipingo
Dit herhinner aan my huis
Ek lees Opperman en Breyten
En só sny ek die spoor
met woorde deur die donker
Tot ek my land kan hoor
Afrika lê baie ver
Ek mis sy halala
Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra
(Ek mis sy warm sonskyn
Dis al wat ek voor vra)

Na soveel jaar
Na soveel jaar is dit verby:
Die somerson is lank nie meer
Die warm troos wat dit eens was
Toe ons nog jonk was nie – en tog …

Na soveel jaar is jy nog mooi
Al is daar plooitjies om jou oë
En het die tyd sy fynste spore op jou lyf kom laat, my lief …

Die tyd stap aan, en die pas vir ons verstil
maar steeds maak ons vir mekaar ‘n lewensgroot verskil

Na soveel jaar van goed en kwaad
Bly net die goeie vir my oor
En al die seer is lank vergete
Want ek bly steeds lief vir jou
Na soveel jaar, na soveel jaar …

Na soveel jaar is dit net ons
Wat ná die oorloë en die stryd
Nog by mekaar kan staan
En sonder klein verwyt of nyd kan sê:
Ek het jou lief, ek het jou lief

Kom ons doen alles weer:
Sou jy my toelaat om dit weer te doen
Na soveel jaar …?

Hart van Glas

My huis is nie ‘n plek nie
‘n kamer, of ‘n land nie
My huis het nie ‘n tuin nie,
‘n dak of selfs ‘n deur nie
My huis is waar my kinders is
Ek is tuis as ek kan weet
Waar elkeen hom of haar bevind:
Dis ál wat ek moet weet

Want ek loop in my pa se skoene
Ek loop in my pa se jas
En weet na soveel jare
‘n pa het ‘n hart van glas
‘n Pa het lief, maar onvolmaak –
Dis dikwels krom en skeef –
En al gebeur dit veels te laat
Kom sy liefde tog op dreef

My huis het geen adres nie
Geen straat of pos restant nie;
Geen lig in donker vensters nie
Geen nommer op die hek nie
Want my huis is waar my kinders is
Ek is tuis as ek kan weet
Waar elkeen hom of haar bevind:
Dis ál wat ek moet weet

Want ek loop in my pa se skoene
Ek loop in my pa se jas
En weet na soveel jare
‘n pa het ‘n hart van glas
‘n Pa het lief, maar onvolmaak –
Dis dikwels krom en skeef –
En al gebeur dit veels te laat
Kom sy liefde tog op dreef

Hier by My

Daar is oorloë en gerugte van oorloë
Skrapnel – so word vertel – lê die wêreld vol,
Die swendelaars word kwytgeskeld
En haat en nyd met haat vergeld
En die wêreld tel sy munte een vir een

Maar hier by my, my lief
is daar skuiling teen die wind
Word ‘n grootmens weer ‘n kind
Word die wysheid weer onskuldig;
Want hier by my, my lief
Word die winter weer ‘n somer
Word die mens desnoods ‘n dromer
Wat die landskap van die hart oplaas verken

Daar is veldslae sonder oorsaak, sonder rede
En ‘n wêreld wat verslae deur die lang nag waak;
Maar die môre bring weer nuwe leed
Want die vrede is reeds lank vergeet
Ja, die wêreld tel sy munte een vir een

Maar hier by my, my lief
is daar skuiling teen die wind
Word ‘n grootmens weer ‘n kind
Word die wysheid weer onskuldig;
Want hier by my, my lief
Word die winter weer ‘n somer
Word die mens desnoods ‘n dromer
Wat die landskap van die hart oplaas verken

Want die stryd het die beleid geword;
Het die credo van ons tyd geword
“Wees gewapen, wees gepanser, wees paraat….”

Maar hier by my,my lief….

Vir jou

Vir jou wil ek ‘n huis hê
‘n huis met ‘n leiklipvloer;
‘n witgekalkte skoorsteen
wat deur die rietdak loer;
‘n okkerneuthout-onderdeur
wat kreun aan die skarnier
‘n donskombers om in te beur,
‘n kaggel en ‘n vuur

(koor)
Die dae is droef soos druiwe
jou naam is soet soos mos
Die herfs is in die wingerd
die son in elke tros;
Die winters hier is wondbaar
as die jaar se hitte kwyn,
die seisoen word oud en waardig;
wat mos was, word nou wyn

Vir jou wil ek ‘n bos hê
waar jy dennenaalde ruik;
reën wat oor die berg kom,
wat timmer teen die luik
en by die hek ‘n bloekom
met sy takke in die wind;
hier in die koper-ledekant
jou warm bruinoog-kind

(koor)

Al maak ek hierdie versie
eenvoudig, lief, soos nou;
die wens bly tog maar net ‘n wens –
die werklikheid verbrou

(koor)

Kring om die maan

Anderkant die Dwyka
lê die Moordenaarskaroo
dis ‘n wêreld wat nog rou is
wat ‘n mens nog in kan glo
Die paaie hier loop reguit
en die mense wat hier woon
ken die hitte van die somer
weet hoe reën jou kan beloon
(koor)
Al ry jy dalk net hier verby
daar’s iets wat in jou agterbly
En maak dat jy vir altyd hier kan bly

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Daar is min om hier te sien
maar daar is veel om te onthou
daar’s die breedte van die vlakte
daar’s die randjiesveld se blou
Waar ‘n arend stadig wentel
bo sy onbekende prooi
kry ‘n vaalbos skielik kleur
en word die berge vir jou mooi

(koor)
Al ry jy dalk net hier verby
daar’s iets wat in jou agterbly
En maak dat jy vir altyd hier kan bly

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Die korhaan se lied
word hier ‘n bittersoek mineur
want hy ken reeds hierdie land,
hy ken die horison se kleur;
in die winde wat hom dra
oor die Moordenaarskaroo
skuil die bitter reuk van aalwyn,
en van tolbos en kambro.

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Daar’s ‘n plek

Daar’s ‘n plek wat ek van weet
sonder sorge sonder pyn sonder leed
die pad daarheen is ongekaart
die reis daarheen is sonder vaart
en daar is rusplek langs die pad

die son se geel word jou sambreel
op jou reis tot waar die pad se vurk verdeel
die een se slingerspoor word dof
waar dit wegloop in die stof
maar die ander lei tot hier

want hier sal jy vind dat jy
steeds deur die oë van ‘n kind
die lewenspel speel
granate van onskuld kan deel
om weer vir ‘n oomblik
die kennis van kwaad te ontken
om weer te kan glo wat jy het in ‘n gawe van bo

daar’s ‘n winterlose oord
waar ‘n mens nog steeds die ure ongestoord
op die telraam van die tyd
sonder spyt of klein verwyt
soos seisoene af kan tel

knip jou deur se grendel dig
sluit jou vensters en jou luike teen die lig
pak jou drome vir die reis
jou hart sal jou die kronkels wys
om ongeskonde hier te kom

want hier sal jy vind dat jy
steeds deur die oë van ‘n kind
die lewenspel speel
granate van onskuld kan deel
om weer vir ‘n oomblik
die kennis van kwaad te ontken
om weer te kan glo wat jy het in ‘n gawe van bo
‘n gawe van bo
‘n gawe van bo

Gebed van ’n Reisiger
Coenie de Villiers

Sny vir my, o Heer, ‘n wandelstok of twee
uit die woud by Tsitsikamma en loop dan met my mee
oor die vlaktes van die Groot Karoo,
oor die berge van Natal
langs die kus af tot by Vleesbaai
tot by die groen van Riversdal

Brand die hemel van die Vrystaat
in my hart se dagboek in,
laat my nooit die lug vergeet nie
wat aan die horison begin.

En Heer is dit dieselfde son
wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën
as jou geheue dalk sou kwyn?

Want ek vrees mos nie die vreemde nie
selfs die afstand laat my koud
by U is daar geen leemte nie

U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe seë
skuif kontinente stil verby,
sal ek my voetval op U rig
my in die reis verbly.

Maar ek vrees tog wel die eensaamheid,
ek skrik die groot alleen …
dis dan wanneer U my moet dra
want U weet ek gaan daarheen.

Laat die sterre dus my kompas wees
en U steeds my Ware Noord
lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort.

(Album: Coenie 2.2. 2020)

Kaneelverkoper

Bedags vind jy my in die mark
langs die turkoois minaret
en in die koelte van my tent
hoor ek die aandgebed

Ja, ek dryf handel met kaneel
ek verkoop die spesery
wat vroue agter sluiers,
selfs die sultan my beny

Maar saans maak ek die tentflap toe
en my lyf ruik na kaneel;
Jy kan dit aan my vingers proe
en dit alles word jou deel;
want as jy smorêns vroeg, my lief
in die donker teen my beur
word die goue poeier afgevryf
en kry jou lyf my geur;
In die nate van jou hande
lê die spesery se spoor
Jy ruik – soos ek – ook na kaneel;
hoe kan ek jou verloor?

Ek sal jou orals ken, my lief –
hoe kan ek jou verloor?
Ek gaan haal dit aan die oosterkim
van waar my bruin kameel
‘n vrag van duisend geure dra
wat elk ruik soos kaneel

Die kleure van Arabië
die oop woestyn se geel –
vul al die mandjies in my tent –
en elk bevat kaneel

Maar saans maak ek die tentflap toe
en my lyf ruik na kaneel;
Jy kan dit aan my vingers proe
en dit alles word jou deel;
want as jy smorêns vroeg, my lief
in die donker teen my beur
word die goue poeier afgevryf
en kry jou lyf my geur;
In die nate van jou hande
lê die spesery se spoor
Jy ruik – soos ek – ook na kaneel;
hoe kan ek jou verloor?
Ek sal jou orals ken, my lief –
hoe kan ek jou verloor?

Album: Hartland (1993).

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed