Johan Jack Smith
Hipsterhart
Jy het die vlug een laat Sondagmiddag by
Lanseria gevat
Tussen jou Tampax, Kook en Geniet
en Prozac het my hart gelê in jou
Cotton Road-sak
Ek het my Hipster-refleksie in die glas gesien en
dit wat teruggestaar het het my naar gemaak
Ek het geroep voor check-in maar
Oom, ek het my kanse verbeur met haar
Die oranje voël het my naar gemaak
toe hy die aanloopbaan insukkel My
Voyager-miles het skielik opgeraak ek
het gesien ek vlieg nêrens heen nie my vlerke is kruppel
Jy het weggevlieg
Ek het in my moer in gevlieg
Vlieg jy in jou moer ook
Alles is in sy moer
Maar stuur tog my hart terug met ‘n tracking number
Al weet ek hulle gaan hom net weer verloor tussen
al die ander stukkendes Maar ek sal hom bly soek
In die hope rondgrou en grawe
Later sal hulle hom terugstuur
Stukkend soos die pakkie waarin hy verpak was
So stukkend sal hy voor dooiemansdeur beland
Swere en belowes
Tussen die petroldampe en hemel-busstoppe
het sy gestaan en vaarwel gewaai
Daar was trane in my oë van al die jammers en
floppe maar sy het net haar kop skuins gedraai
soos `n kind wat staar na ’n puppy voor ’n pet shop
Sy het ‘n soen geblaas deur ‘n tornado
wat deur my verlore briewe ruk dié
met adresse maar sonder kodes
Die briewe wat die kraaie uit die posduiwe se bekke pluk wat
gevul is met my ek swere en ek belowes
Die busbestuurder het oorgestap en sy hand op my skouer gesit
Hy het langs my All Stars gepruim en gelag
Hy sê Boetie, jy sal bietjie langer moet wag
vir die volgende rit en bietjie bittersweet-
misery uit jou verlies put
Nou daai bus het opwaarts gevaar soos ‘n vuurpyl skuins
verby die somber son
Daar was ‘n glinsterende goue streep vanuit die exhaust-pyp
en die swaeltjies het weggevlieg van hom Ek het op my
hurke gaan sit en huil en toe sommerso plat op my gat
terwyl die slang van “wat as” verby my bene seil.
Die bus het net ’n spikkel geword
witkolletjies op my irisse gebrand terwyl
hy uit my gesigsveld verdwyn
En êrens ver van hier gab land.
Die perron op Hennenman
Die spore glinster
O genadige God dit was so helder!
Amper soos die tapekassie se refleksie agter in Pa se Ford
Ek het geweet daai bloublomrok gaan my eendag kelder
En vir my gaan jou “is” my “onthou jy” word
Ek het deur die mense gestoei vir ‘n
laaste blik op die perron maar jy was
klaar in die kompartement
Op pad na daai swernoot/hond/bliksem en sommer slegmoer ook
op pad na hom. Hom. HOM.
Jirre ja, op pad na hom.
Soos die 1003 die stasie verlaat het
ek direk in die son gestaar
Dalk sal die blindheid die trane ook wegbrand
Die swartkolle op my pupille die verwyt insluk
In die laaste wa het ek ‘n deel van jou
bloublomrok gewaar En die onbeheersde ruk
van my hande het net vir ‘n oomblik bedaar
Ek het Pa se Ford gestart en
gehoor hoe die enjin huh-
huh en begin spin
Net duskant Hennenman het
ek beheer oor die masjien verloor
Die stuurwiel het blykbaar deur my bors gedring
En daai trein se fluit nou al seker naby fokken
Koppies was die laaste wat ek kon hoor
Virginia Unlimited
Ek het jou by ’n Roadhouse (Lantern of Flying Saucer) ontmoet
op die grens van ‘n Vrystaatse spookdorp Ek het besef ons
albei se drome is al jare dood toe jou make-up smudge en jou
groen oë nat word
Die 9 millimeter was koud in my hand
toe ons by die bank instap maar jou
hand was warm in myne met jou
somerrok aan wat ek vir jou by PEP
gekoop het
Die security guard het reeds gelees tussen die lyne
homself in my gesien In ons en plat gaan lê
Verby die Kitty-woonbuurt het jy jou hand
by die venster uitgesteek Jy het
branderbewegings gemaak oor die droë
mielieland soos die golwe by Margate
waarvan jy my vertel het Jou wange was
nat
Toe het ek geweet
ek sal verdrink in jou trane
Voor Theunissen het ons hulle gesien Jy het jou
hand op my knie gesit geglimlag en jou oë
toegemaak En soos ons lewe voor ons afspeel in
die skerwe van die gebreekte windskerm het dit
soos twee wit en swart films inmekaar gevloei Soos
Fred Astaire en Rita Hayworth het ons in die middel
van `n warrelwind in `n Vrystaatse mielieland
passievol gedans
lyf aan lyf
hand aan hand
Intermission
Laai my af by daai hek
Laat my staan voor daai leë inryteater
Waar ek en Ouma in die Volla gesit het Waar
karwrakke vol geeste nou geparkeer is
wat wag vir Intermission sodat hulle hemel toe kan gaan
Fantoom filmoperateurs se woorde is staties
oor die geroeste luidsprekers wat in
stukkende vensters gehaak is
Die toeters toet steeds vanuit die wrakke
Eggo deur die naglug as die skerm
doodgaan Maar hulle weet nie die
gloeilampie van die projector het jare
terug geblaas
Spoke vry op verslonste backseats wat ruik na fake leer
en sweet en fluister “I loved you’s” in verkrummelde wit
oorskulpe terwyl spinnerakke die ruite toewasem
Daar is geheime geweef in hul spookasem
Daar is beloftes opgehoop in hul popcorn
Verwyt wat verdrink in hul Slush Puppies
Tussen die frikkadelle en kookeiers
is daar tog ook hoop
As jy die foelie oopmaak sal jy sien
Kyk net mooi
Maar die reën spoel alles weg
Sigaretstompies en Marinda-koeldrankblikkies en Melrose-kaaswiggies
saam met die ander rommel tot in die sloot voor die skerm
Waar ‘n seuntjie sit in sy pajamas en
wag vir die lokprent van Donald Duck
Kopligte weerkaats vanaf sy blonde hare
Donderweer ets hom af teen die witstaal
Sy oë soos windveërs wat regs links
links regs oor die geroeste wit sinkplaat
vee en wonder wat het van more
geword en sy ouma met haar Volla
Want hier is hy tuis
Diemeessieldodendetemaliedjievanalletye
Sondae het At hardop gedink
(terwyl hy die laaste pynstiller saam met die
laaste bietjie Oros en whiskey drink) is soos
die week se weeskind
Soos Het van Verlangekraal
Veronderstel om `n dag van rus te wees
Maar al wat nie wil rus nie is die spoke Spoke wat heeltyd om die
hoek loer en sommer saam televisie kyk na Boxing in townships
en donnerse vervelige wildlife programmes
Die pain killers het darem ook
die gesuis van die yskas en die
muurhorlosie se getik gesus
Terwyl sy lyf lam word op die sitkamerbank het
hy die glas hoor breek wat uit sy hand val
Die tannie wat bo sy eenslaapkamerwoonstel woon het
begin vacuum
Aan die manier hoe sy die hoeke van die
vertrekke stamp met die plastieksuierpyp
het hy geweet die ouvrou deel sy
aversie vir Sondae
Sondae is sommer kak man
Warrefok
Die Sondagknippies van daai twee wat
erken het hy was ’n mistake
SMK’s
Lamsboud en glaserige aartappels en daai
Zet-dierasie wat soos ’n malding babbel En
daai blonde tannie wat sy onderbroek laat roer
Daai belt buckle as hy nie wil slaap nie en
die honde wat die getjank doodblaf
“Hou op tjank of ek gee jou iets ok om oor te tjank jou klein snot”
Daai Zet-suit hang seker êrens in ’n stoor tussen die dooie Sarel
Seemonster en Haas Das En daai blonde tannie is
ook seker al vrek soos daai twee wat erken het hy was ’n mistake
Daai twee wat so lief was vir Cane en Coke
Maar daai Cane-trein het net vir hom raakgery
En later sy boetie
En dit was sy laaste gedagtes voor sy oë
toeval en die siel-fokken-verskeurende
temaliedjie van Carte Blanche begin speel
om die begin van die week aan te kondig en
die einde van At
Die stukkend en die heel
ek en jy
was al twee stukkend ons het
stukkende goed aangehang maar
ons het nie omgegee nie want ons
het gedink die heelgoed kan nie
ons stukkend heelmaak nie
maar tog soos ons liefde begin blom
het soos ‘n lelie uit ‘n vlei van giftige mynwater,
het die heel goed stadig voeding begin verskaf
dit was die oomblikke sonder haar wat my begin vang
het nugter oomblikke sonder die stukkende dinge
dinge wat die stukkend eintlik meer stukkend gemaak het
daai stilsit en droom oor more as die son
sak oor die vuilgrys geboue voor die flat die
asemhaling wat ritmies saamsmelt onder ‘n
Mr Price-duvet gespread op ‘n bed wat
spotgoedkoop gekoop is in Beyers Naudé
by ’n bullshitter
die ure se luister oor stukkende goed
uit haar verlede sonder om te judge
dis tog so maklik dis tog so maklik
om te judge
dit trek die masker stywer om jou eie stukkendgeid
en toe
en toe kom daai kind en hy brand soos die
vagevuur gedurende ‘n snerpende
Bloemfonteinnag in ‘n broeikas gepantser
teen stukkendwees en die stukkend stap
moedeloos uit die teater met ‘n FOK
HIERDIE KAK wat eggo deur die gange van
Medi-Clinic
daai kind glimlag met ’n haasbek met swart
kraalogies vol heel met voetjies wat vuisies
maak terwyl hy die stukkend smalend
agterna staar
en ek het geglimlag want ek het
geweet ons sal ok wees want nou is
ons drie twee stukkendes en een
heel en daai heel was al wat nodig
was
dit was ons al twee se stukkende goed
wat ons saamgegooi het saam met ‘n
heel baba wat alles heel gemaak het
al skop dit steeds met mag soms
die stukkend dit skop seer
maar dan skop die heel terug seerder
A1
Ek het na plekke teruggegaan
Waar ons eens gestap het
Die dae toe jy nog jonger was
Ek het jou stem daar gaan soek
Tussen branders en braaivleisvure
Waar ‘n laaste swem voor ons die
karavaan haak ‘n instelling was
Daai vakansies was die hele jaar voor gespaar
‘n Volle drie weke van rus en lag
En mens wees Weg
van die mynskagte
die stof die tappits en Jan Tarre
en die fokken windgat engineers
met hulle Wits-grade
Die depressie wat daai dorp gebring het
God, dit lê die heeltyd net so onder jou vel
Die swak rapport voor die vakansie het
nie saak gemaak nie
Ons sou daaroor worry as ons terugkom
Ek onthou nog hoe jy die ander
Chevrolet-bestuurder met sy karavaan
naby Senekal flash
Hom ’n Sharp! met
jou duim gooi
Net om hom te laat weet
Ja hierdie kar mag maar sleep
Net reg vir daai swaar 18-voet Jurgens
Net reg vir Van Reenenspas
Sterk soos ‘n bees het jy gesê
4.1 het jy gesê
Genoeg pêrre om enige Ford se
gat te skop
Dieselfde Chev waarvoor ek skaam was as
jy my by die skool kom haal
Dom tiener sê ek jou nou
Ek en ma het altyd het die Chev gepolish op
daai laaste werksdag van jou Ek wou eenkeer
‘n briefie met ‘n washing peg vassteek aan die
stuurwiel maar dit het afgeval Jy was daai aand
op jou laaste werksdag by die Rec Club en ek het
gewonder hoekom het jy en ma baklei Nou
weet ek
En nou verstaan ek
Fokken nou eers
Daai een jaar het die karavaan se
hefboon ‘n duik in jou been geval
toe die wieletjie breek
Dit was nog by Winkelspruit
Maar jy het gesê dit sal ons fun
spoil nie Jy het die hele
vakansie geloop asof niks
gebeur het nie
Al kon ek die pyn op jou gesig sien
Ek het jou spore op daai strand gaan soek
Jou Pro Kennex-têkkies se soolmerke op
daai tennisbaan
Die reuk van die Vitalisolie in die ablusieblokke
in Port Edward se A Kamp waar jy jou yl swart
hare gekam het
Ek kam ook nou my hare so in ‘n paadjie
Aan die linkerkant nogal
Ek het jou gaan soek maar
ek kon jou nie kry nie
Dalk moes ek nie teruggegaan het nie
Myself weer siek gemaak het nie
Myself verstik in giftige stof soos dié wat
in die mynhuis ingewaai het
Maar o God ten minste is
daai beeld daar
Want sonder dit sal ek ‘n leë dop wees wat
stukkend lê in die skaduwee van jou lyf
waar jy in die son die tentseil inryg by
staanplek 1a terwyl Ma Oros aanmaak
in die A Kamp van Port Edward se polisieoord
Ma nou vandag
hoekom is jou wange so rooi
dis die bier
sies
nee ma
dis die son
belowe
waar is ons
waarheen gaan ons
waar is jou pa
waar is ek
huistoe ma
ons is by die huis
pa wag in die kar
belowe
dis koud vandag
dis koud vandag
dis koud vandag
dis koud vandag
ja ma dit is
ek drink nou sorgeloos
ma vra nie meer nie
ma weet nie meer nie
en hoe harder sy probeer onthou (dalk)
hoe harder probeer ek vergeet (beslis)
Gerald Fitzpatrick Home
In Berea Road het ‘n stray bullet
van ‘n Nigi drug lord my long deurboor
nadat dit ‘n statige ex vrou van ‘n mynmagnaat in
Gerald Fitzpatrick Home se
hangbors rakelings gemis het
Sy was besig om Krismisrose te snoei
Ek het meaning in die gutter gesoek
Sy wou kom help het
maar die verpleegsters het haar stilgemaak
en na die Ponte Tower getuur en
gedink aan die Somaliër wat Magwenjas verkoop
wat so lekker loop saam met bier
Samaya man, enige plek, het sy gedink,
enige plek behalwe hier
Waar mulungu-tannies vasklou aan glory days
van High Tea in Houghton en left-hand drive Chevrolets
vanuit die States en garden boys met Derdewêreldtalente
Hulle mans het maar ook gevrek soos Karooboere
aan hoë cholesterol en greed en jonger minaresse wat aangedring het op multiple orgasms
Al wat hulle agtergelaat het in hul testamente was ontnugtering
Kinders praat hulle dood as die kleinkinders na hul vra
Al leef hulle nog
Voicemail recordings word die enigste kontak met die sibbe
Maar dit verdwyn ook soos die nommers verander
Die dames sien die kleinkinders
se gesigte lag in cu-mulu-nimbus wolke
wat saam met tyrerook van Bertrams oor die dakke sweef
Onthou hulle nog?
Die Verjaarsdagkaartjies met ‘n glimlag geskryf en met hoop gepos?
Met ‘n plat geperste Petunia onder die R5 noot?
Die trane droog naderhand op saam met die wag vir die posman
Net die vore in die vel bly oor onder die Pond’s nagroom
En dan
Op ‘n dag
Gooi hulle tou op
Soms vang die dakbalk hom
Anders is dit sommer net slaappille
Die ander kwyn weg saam met die kikoejoe
as die eerste ryp uit die suide kom
Oë gerig na die horison
By Ellispark verby die nagbrekende stadionligte
En die flou winterson
Want
Hierdie stad het hulle ingesluk
En hulle stadig ongenadig onstatig versuip
in sy mallende maagsappe
Nasrec 2017
Die oud NUM baas het toe gewen
sê die oom
Eerder hy as daai skelmhond se eks
Eerder die Satan wat jy ken
as jy my vra sê die oom
Die BMW’s se kattebakke is kontantrol-loos
Die varke is reeds geld-gespeen vir hul stem
and the lesser of the two evils het gewen
En al wat ek hoor is steeds hulle hulle hulle
En nêrens hoor ek ons ons ons nie
Ons vir jou Suid-Afrika
lê agter die Kersboom langs die rotgif
so prettig toegedraai in groen/geel en swart
Het afgeval/is afgestamp/is uitge-vote
Deur korrupsie/ontnugtering/wantroue
en die kinders wag vir Krismis
Om die dieselfde presents as laasjaar oop te maak.
Ja Oom. Ai Oom. Wat kan ek sê Oom
Geseënde Krismis Oom.
Tronke
Surbuban tronke bewoon belaai en omhein met
vreesaanjaende honde met
skerp tande kwylbekke
en oë ingesonke
Nog skerper tande op die muur
met spikes en ‘n sierlike skokdraad
wat jou in tale sal laat praat as kind of
kwaadklitser per ongeluk of aspiris aan dit raak
Die gevoel van veiligheid word geskep
met elektrisiteit barbed wire hondetande
pallasades 38 Specials onder kussings
goddelike geloof en bordjies wat vergelding beloof
maar die barbare is so entitled ontnugter
honger slu slim gaaf wreed en skelm
hulle sal jou maar steeds beroof
Net in hierdie land is die landsburgers in
hul eie tronke toegegrendel en die boewe vry in
die straat
soveel vrees soveel haat
Jirre, soveel teleurstelling
En hopeloos te min om tafels, in shebeens, in kerke, in kombuise in raadsale, met mekaar sit
– en praat.
BELYDENIS
Op ’n warm Maandagoggend
Op ’n dorre Vrystaatdorp
Was `n rooikopmeisie in swart gekleë
Onbewus van die hartseer gedaantes
Sy het getwyfel of hulle sal verstaan
Daar was ’n roos en ’n brief in haar hand
En tegelyk is hul in die graf gegooi
Die sinne diep in haar hart gebrand
Tegelyk oor die stof en die grond gestrooi
En daar staan geskryf:
Ma jy was dan altyd daar
Ma was jy dan blind gewees
Was jy dan onbewus van pa
Van die laat nagte se vrees
Ma hoe het jy dan weggekyk
Blindelings na die televisie gestaar
As hy my soos ’n lappop gebruik
En die stofreën my moes bedaar
Want ma jy was dan altyd daar
Op ’n warm Maandagoggend
Op ’n dorre Vrystaatdorp
Was ’n rooikopmeisie in swart gekleë
’n Gesiene ouer dame was reg om te vermoor te word
Daar was polisiemanne wat ’n bed omring
Salig onbewus van die gerugte
wat net ’n klein dorpie kan bring
Tussen die konstabels en die dokter
het ’n jong meisie gestaan
Bewus van die bedlêende gedaante
En haar gesig met tevredenheid geraam
Die reuk van chloroform het gekleef aan haar hand
Sy het die las van haar skouers gegooi
Al het die trane oor haar wange gebrand
het sy vergelding oor die lakens gestrooi
Ma was jy dan te trots gewees
Ma ek dog jy was my rots gewees
Was jy onbewus van daai man
Wat soveel aande na my kamer toe gaan
Die sweet op sy lyf wat nou nog klou
As hy my weer troos en styf vashou
Elke keer wat ek op sy skoot gesit het
Kon jy maar jou trots gesluk het
En harder vir my gebid het
Want ma jy was dan altyd daar
Reën
“It can’t rain all the time”
het die vars-uit-dood-Rockster-goot
vir die kind gesê
Hoe ironies – het ek gedink terwyl ek kyk
hoe die spierwit beendere langs die Karoopad lê.
Die boere se hoopvol het verander in gatvol
en dis hard-twyfel wat nou langs hulle in die bakkie ry
Here asseblief dalk net ’n donderbui of bliksemstraal
of my donderbliksem stuur tog net iéts in hierdie rigting verby
Ek vergewe selfs my skelmbroer
My vrou en die geheim met die dorpsprokureur
My laaitie wat vir die gespierde rugbykaptein loer
Of myself as ek die land tydens die agtuur nuus
met haat en gal wil regeer
Ek sal my trane van desperaatheid self uit die hemel stort
As hierdie stukkie grond –
net vir ’n oomblik nat kan word.
Diefstal is ‘n fyn kuns
(Apologie aan Hannes Visser ☺)
Maandag 5 Junie
ek en pa en Jude vlieg in
pa se blou Cesna en gaan
kuier weer vir ma in die
plek in Kaapstad
sy moet ‘n week daar bly
want die universiteit het haar gestuur
en Jude sê as ma weer so
hard werk gaan hulle haar beslis bevorder
daar is net vrouens, party lê op
beddens en skinder en party
sit in die spa in
wit handdoeke met pienk polkadots op
ma het ‘n truitjie en serp
deur iemand laat brei
en sy gee dit vir pa
voor ons terugvlieg
pa sê ma word nie beter nie
maar Jude sê hy lieg, want tannie
Joan het die pille gelos en
sy was net vir ‘n dag daar
Op die vooraand van ‘n begrafnis.
weg is hy nou
blaai toegevou
o gonnatjie pa
ek wou jou nog vra
hoekom
het jy sussie met daai doos laat trou
moes jy my daai nag in die selle hou
lê jou beltmerke steeds op my lyf
die ronde sirkels van jou Texan skyf
huil ma as ek my stiltes het
voel ek net rustig gestrap op my bed
haat ek hulle wat anders lyk
voel ek siek as mense vir my kyk
en niks as die naald deur die vel breek
lag ek bitter as die dominee preek
en o gonnatjie pa
hoekom waarom sê tog dis daarom
is ek dan vandag net soos jy
Tronksel
daggawalm bid vir daglig
dun kombers vasgedruk
sigarette uitdeel oopgesper
neurie psalm lyf op rug
onthou bybelvers oopgeruk
kanse verspeelgod is ver
Ars Poetica
hulle sê bloed is dikker as water
maar dis nie dikker as ink nie
die pen is magtiger as die swaard
net tot hulle die balpunt AK47’s bring my maat
die digter braak gal
die digter fokken lieg
sy potlood sy megafoon
kamma-kamstig besig om te bieg
hoe romantiseer jy dan skryf
as jy jou neurose bloedrooi uitryg?
ek kribbel-krabbel om beter asem te haal
ek kamma-rym om die duiwels te hok
ek spoeg kwatryne wat telkens herhaal
ek braak paarryme om lesers te kopfok
my woordeskat is bloubeperk
my rymskemas is vrotverkanker
my sinsnedes kort werk
my rou emosie my enigste anker
fokkol mooi in dié gemors nie
les nie eers my psigotiese dors nie
rympies oor sonnetjies en blommetjies
is vir swaksiende dommetjies
braak klinkers slaan sleutels en kots ink
wel
dis wat ek dink
Die reuk van geweld
my oupa het vir my gesê
my seun vat hierdie bybel en vat hierdie gun
dan vat jy die pad terwyl jy nog gesond is
terwyl jy nog kan loop
terwyl jy nog kan
in kerkstraat by die eerste dorp
was die magasyn leeg geskiet
en die bybel was in my hand verbrand
ek was naak en van my klere gestroop
In swaelsuur is my kop deur hulle gedoop
ek voel die pyn van ’n duisend bejaardes
soos porseleinpoppe is hulle stukkend gegooi
fyngetrap deur ’n duisend stootskrapers
hul bloed lê die velde en stede rooi
hul lyke in rooi/groen/goud/blou getooi
ek word verstik deur die smaak van metaal in my mond
ek word vernaar deur die reuk van vleis in my vleuels
ek voel die brand van chemie op my gees
die politici sit op hul fokken trone rond
terwyl hulle russian roulette met ons lewens speel
’n dier word vermoor vir `n pielstyf
’n meisie word gebreek vir haar vars lyf
’n verkragte baba word in `n drein gegooi
’n albino word verkrag vermoor en geëet
wat eens makaber was is nou skielik baie mooi
hierdie is nie meer my vader se land nie
al wat oorbly is die reuk van geweld
* * * * * * *
Kom kuier vanaand by my
Ek sal bietjie later wakker bly
Die bottel wegsteek in die kas
`n Slag helder bly vir my nuwe gas
Ons kan praat oor dinge wat saak maak
soos Eskom en skoon water wat opraak
Miskien kan ek selfs jou hand vashou
en die mooi tye van destyds probeer onthou
Vertel my of jou baby nog happy is
Jou pa op pension nog lekker rus
Het jou ma die kanker toe gewen
en het sy weer begin sing met haar country stem
Het jou boetie al ’n job gekry
en probeer hy steeds na julle buurdogter vry
Het Linda al ’n man gevang
en maak die Wederkoms haar steeds bang
Eintlik kan jy net stilbly
Want jy hier vanaand is genoeg vir my
Op die koffietafel staan net een glas
’n Reminder wat is en wat eens was
Die drankkas is weer oopgesluit
En al die monsters daarbinne
kruip stadig daaruit
Daar is ’n vreemde see wat in my ore druis
en dit verdrink my vanaand in my eie voorhuis
Ma se kind
Wat gaan jy doen
as die Painkillers sy doel uitdien
Hoe kan jy tog voel
as jy more oggend die son weer hoog sien
Daar is track marks op jou arms
Daar is kringe onder jou oë
Ma bid steeds elke aand vir jou
met my oë gerig na bo
Waar is die glimlag heen
wat wys op kiki’s van jare terug
Waar wil jy dan gaan
as ek jou weer gaan haal by die gestig
Ek wens ook soms jou pa was nog by die huis
Maar ek en jy alleen is seker tog beter
as sy gevloek en bebloede vuis
Ek weet ek het gestruikel
Ek weet daar loop leuens rond in die kerk
Ek sien hoe jy my aangluur
as jy weer opsoek is na ’n ander werk
Wie kan ons dan blameer
Wie kan ons dan die skuld gee
Maar troos jouself my liewe kind
`n Ma se fondasies gee nooit mee nie
Koud
Ja ek weet dis koud Boetie
maar ons moet opstaan
Die heater is lekker warm
Die bedlampie is flou
Eers jou broek en sokkies
Ons trek die duvet oor jou bolyf
Dan bly dit langer warm
Dan andersom
Eers jou vessie
Jou hemp
Jou wind breaker met
die vlermuise op
Ek het ook al koud gekry
Maar nie soos my pa nie
Onder tentseile langs winterdamme
met ‘n hongerkrampmaag langs my
hardegat oupa
Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie –
maar daai hande kon nie aan ‘n job vashou nie
Daai woorde
Daai woorde van my ma
“Oom Hennie het op sy toontjies gestaan
en soek vir broodkrummels in die kas”
Skaars vyf
Wit-wees alleen het nie jou maag volgemaak nie
Honger en koud ken nie kleur nie
Behalwe vir blou en seer
Weet hulle dit dan nie
So trek aan jou mussie en beanie
Trek stywer jou serp en baadjie
Eet jou pappies en drink jou Milo
Dis darem nie só koud nie
Dalk
Dalk sal oupa jou eendag vertel
Van koud
En van honger
En hopelik sal jy dit nooit beleef nie