DIE MEESTERSTUK
DIE MEESTERSTUK
In die Ewigheid van die Hemel was daar nog nooit-ooit, nimmerimmer ‘n dag soos vandag nie. Die afwagting en onbevange opgewondenheid het sluimerend gewag om in loflied en koordans te ontplof…Die engele het asemophou net saggies geneurie; en hulle vlerke het stil geruis – soos die ewige asemhaal van die see.
Vandag gaan hulle Messias en groot Kunstenaar sy meesterwerk onthul – die bruid gebore uit Sy sy; uit Sy hart geskeur deur Hout…”Maar, Vader, het Hy half in awe geprotesteer – waarom skep U haar nie; U is tog SkepperGod van Hemel en aarde.”
“Ek is dit, my LieflingSeun, maar jy vergeet – dis deur Jou wat ek geskep het – als deur Jou, My Woord; My Seun. Sy’s Joune, maak haar soos die klop van Jou hart voorskryf.”
Parakletos het nader gestaan: “Sy’s binne-in jou – die passie van Jou Wees. Trek haar kontoere met die ongetemde ritme van Jou Hartsbewegingslyn; kleur haar dan in met Jou Asem…” Drie Harte; drie glimlagte in Een gesnoer. En toe het Hulle Hom alleen gelaat.
…Hy het oor haar gebuk; gebid – lank, intens; innig het Hy gestaar na haar weerlose buitelyne…en…Toe sny Hy ‘n stuk van Sy eie dik, golwende hare af en weef dit met die Hand van ‘n Meester in haar kop in – sodat sy en die een wat haar eendag op aarde gaan liefhê; elke keer as sy (of hy) aan dit gaan vat moet dit ‘n stukke van Hom wees.
Haar oë… Haar oë moet die liefde vir kleur van Sy skeppingsdrag weerspieël – blou soos die ongetemde see, soos poele lewegewende water. Groen – groen soos die heuwels en bome van Sy kleintyd en aardse-grootword; en bruin. Bruin soos geil grond waaruit nuwe lewe spruit…Dan.
Haar voorhoof, Sy glimlag steek ‘n duidend kerse aan – ja, haar voorhoof moet wees soos die behendige houtgekerfde tafel waar Hy en ma-Maria en pa-Josef nog in die toekoms saam gaan eët, kuier; lag en huil…
Sy glimlag breër toe Hy teer haar neusbrug vorm en met Sy wysfinger daaroor gly – en Hy dink aan ‘n faikontastorie van Bidengeltjies wat in die dag by die son se strale afgly om al die mense se gebede in hul goue notaboekies in op te skryf…Haar nek… Laer af – in Sy Geestesoog sien Hy berge; ook Sy Vader is lief vir berge. Dis wat Hy sal doen – Hy sal vir haar onthou-berge van vlees gee. Twee borste – die sigbare notule van dinge wat eendag werklike herinneringe gaan word. Twee berge – soos die heilige berge Sinai en Horeb; soos…soos die berg van verheerliking waar Hy voor die oë van die saam met Hom in heerlikheid toegedek gaan word; en… en soos die Golgotha-heuwel – Skedelkop, daar waar Hy vir haar LEWE aan ‘n Hout sal moet hang – net vir ‘n oomblik versomber Sy oë: Ja, berge van heiligheid, van vloek, van verwerping en berge van seën.
Ingedagte voetslaan Sy mooi, teer Kunstenaarsvingers teen haar maag af. Rus vir ‘n wyle – an eternity a while langs die voetpad van Sy ewige skeppingsdrif …. En toe Hy Sy hand oplig, toe lê daar ‘n klein duikie in haar maag; haar naeltjie en dit laat Hom onthou van dit wat nog gebore moet word in tyd: Die put waar Hy met daai kosbare Samaritaanse vrou gaan praat. Die ander verder terug put waar Hagar en haar seuntjie gered sou word van ‘n gewisse dood…Dan.
Eers bid Hy weer – hartswoorde wat net in sy Gees vertaal en geklank kan word. In eerbied en aanbidding vorm Hy die ragfyn geslagsdeel; die fyn haartjies soos ‘n bruidssluier daarom gevou en dan…Dan vorm Sy vinger ‘n klein gatjie; soos die komende herinnering van die gatjies deur Sy Polse gekap vir die verlossing van haar hele wees – vreugde, hartseer; hartstog – Sy bruid.
…Tyd. Tyd het stil gaan staan; tyd het nie bestaan nie. Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het – en tog ook soos ‘n oogknip – het die Troonkamer se binnedeure oopgeswaai…Daar het Hy gestaan; die MessiasSeunskind van die Enige Lewende God – en is Sy arms die Bruid van Sy Wees…Stilte.
Niemand het gepraat nie; selfs Vader en Gees het die oomblik in awe gadegeslaan…Toe buig Hy oor haar en blaas van Sy lewensAsem in haar neus en met ‘n liefdeskreet – wat weergalm tot in die Hel – het Sy Stem verklaar: “DIT IS VOLBRING!!!”
In ‘n realiteit wat nog in die geheime Geboortekanaal van God was, het die tempelvoorhangsel middeldeur geskeur! Die engele het geskaterlag en hulle lofsang en koordans het die fondamente van die aarde laat steier – net God’s genade het daai groot, blou bal in sy weg deur die ruim gehou!!!
…En iewers in ‘n stink-vuil-donker hoekie van die swart Hel het die aardsverwoester en verderwer gesit – hy Lucifer, die duiwel. ‘n Byna terminale angs en grenslose benoundheid ruk deur sy hele-ganke lyf…hy vrees haar; haar invloed, haar liefhê, haar passie.
Vrees haar en haat haar met elke verwronge stukkie donker-emosie in sy lyf!! En hy gaan als in sy sielsiek vermoeë doen om haar te vervolg, te verneder; te verwoes… Maar.
Maar – hy krimp verder ineen – hy weet hy sal suksesvol wees net so ver as wat sy hom gaan toelaat om te wees; want HY, die Seun van die Lewende God, haal asem in haar!!!
Kyk mooi na jouself, Bokkie my babie; en mag die vingerafdrukke van die lewe vandag saggies lê teen die handbreetes van jou wees.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.