Twee broers en ‘n luiperd
Omtrent so sestig jaar gelede in die omtrek van Phalaborwa en die Kruger Park, het ‘n familie met die van Smit gebly. Hoe hulle in daardie tyd besluit het om juis daar van alle plekke, met beeste te boer, is opsig self bewys van die mense se karakter en natuur. Dit was gevaarlike wêreld. As jy gelukkig genoeg was om die buffels, leeus, mambas en jou eie beeste te oorleef, was daar nog altyd malaria om jou plat te trek. En om in daardie jare ‘n kind daar groot te kon kry, was nogal ‘n prestasie.
Wel Oom Basjan het twee seuns gehad. Noll, die oudste en ook die kalm en betroubare een. En dan Faan, hy was die teenoorgestelde van Noll. Hy was wild, ‘n regte los kop. Oom Basjan het geweet, as hulle vir Faan los om op sy eie te gaan, hy of in ‘n kis of in die tronk sou beland. En hulle het swaar groot gemaak aan diè mannetjie. Om nou nie al die harde werk in die water te gooi nie, moes hulle vir Faan maar op die plaas hou. Maar, dan sou Noll ook moes bly, want Faan het permanente toesig nodig gehad. Oom Basjan was nie meer so jonk nie. Met die twee jong manne op die plaas, sou dit sy werkslading darm ook ligter maak, het oom Basjan homself oortuig.
Later sou oom Basjan nog baie wonder oor die wysheid van sy besluit, en het hy besef dat mens dalk maar nie die noodlot moet probeer manipuleer nie. Sommer gou het hy besef dat Noll onder uiterste versoeking verkeer, om nie self die instrument van sy broer se oorgang na die ewige te wees nie. Die arme Noll moes omtrent al Faan se werk oordoen, en dan sy eie werk ook. Hy moes konstant veduidelik hoekom sy broertjie nou weer “dit of dat” loop staan en doen het. En toe gebeur die onafwendbare.
Oom Basjan stuur die twee vroeg een oggend om na drie jong ossies te gaan soek, wat skielik nou nie meer saam met die ander beeste loop nie. Hulle moes ook te voet gaan, want daardie deel van die plaas was erg ruig en jy kon nie daar met die perde werk nie. Oom Basjan het twee gewere gehad. Hy het ‘n Brno 308 gehad, en ‘n Browning.22 long. Vir Noll gee hy die dag die 308 en sonder om te dink aan die gevolge, vir Faan die .22 vir beskerming teen die wilde diere.
So stap die twee daar weg met Noll wat voor loop, en Faan ‘n paar tree agter. In die stap trek Noll die 308 se slot oop, om te sien of die geweer oor gehaal is of nie. Hy sien toe hy het net twee patrone. Hy was nie te veel gepla nie, want hy was ‘n knap skut, en ken die geweer baie goed. Hulle stap en soek die ossies, en kry een wat deur ‘n luiperd dood gebyt is. Op pad huistoe, in die mopanie ruigtes loop hulle amper tussen ‘n trop buffels in. Omdat Noll sy broer ken, kyk hy dadelik in sy rigting. Net betyds om te sien hoe Faan met die .22 aanlê op die grooste bul. Dit was toe dat Noll vir Faan sê “Faan, ek het net twee patrone by my. As jy vandag ‘n buffel met daai .22 skiet, is een van hulle vir die buffel en die ander een vir jou!
Oom Basjan was verbaas toe hy vir Faan op die plaaswerf aangehardloop sien kom. Maar dit het vinnig na bekommernis verander toe hy vir Noll agter hom sien aan hardloop. En toe was hy onsteld om te sien hoe Noll op sy broer aanlê met die 308. Maar Faan verdwyn net betyds om die huis se hoek. Dadelik hardloop Noll weer agter Faan aan. In die verby gaan skree oom Basjan vir Noll, “hoekom wil jy dan jou broer skiet?” maar Noll verdwyn om die huis agter sy broer aan. Faan kom weer verby gehardloop, en hy verkeer duidelik in doods angs. En weg is hy om die hoek! Dan kom Noll weer verby en hy skree vir sy pa “Faan het ‘n buffel met die .22 geskiet.” Sonder ‘n oomblik se aarseling skree oom Basjan agterna “skiet hom Noll, skiet die swerkater!”
Na almal bedaar het, en Faan sy lewe dankbaar vier met koffie by die buite tafel , raporteer Noll aan sy pa die lot van die een ossie. Na ‘n ruk se dink en oorweeg, besluit die oom daar moet opgetree word. Hulle sal die 308 vir die luiperd gaan stel. So gesê, so gedaan. Met ‘n ompad, ry hulle te perd na die karkas van die ossie. En dan begin hulle takke afkap en pak dit om die karkas in ‘n kraal. En sodra hulle daarmee tevrede is, begin hulle sorgvuldig aan die ingang na die kraal te werk. Noll is eers bekommerd dat die kraal gedeelte te groot was. Sy pa sê toe die grootte van die kraal maak nie saak nie, die belangrike deel is die ingang. As die ingang reg is, sal die luiperd nie eers tot by die kraal kom nie. Na hulle klaar is met die ingang, wat nou lyk soos ‘n smal gang, so ses voet lank, begin hulle die 308 sorgvuldig opstel.
Later die aand, na die buffel bewerk was en die kerse uit gedoof is, lê Noll en Faan in hulle beddens in die buite kamer. Duidelik in die stilte van die nag, hoor hulle hoe die 308 se skoot af gaan. Dadelik spring Faan uit die bed uit op, skoon bewerig van opwinding en reg om te vertrek. Maar Noll keer hom, en verduidelik mens lol nie met luiperds in die nag nie. Hulle sal wag tot dag lig.
Met eerste lig is die twee broers daar weg, die keer deur hulle pa vergesel. Oom Basjan het gister die teenwoordigheid van gees gehad om ‘n geweer te gaan leen by ‘n buurman. Dit is iets wat nie goed gepraat was in daardie dae nie, die leen van gewere. Maar met die 308 gestel vir die luiperd en nou net die .22 wat oorbly, is dit nie die ideale kaliber om moontlike gewonde luiperds te ontmoet nie. Die geleende 30-06 was dan ook die direkte rede tot Faan se redding.
Omtrent so ‘n honderd meter van die tak kraal af, kap Faan sy hakke in sy skimmel se lieste en daar skiet hy by pa Basjan en sy broer verby om eerste daar te wees. Op sy pa en broer se waarskuwings word geen ag geslaan nie, en dadelik is Noll spyt hy het nie maar die .22 gebring nie. By die tak kraal aangekom spring Faan van die perd af en sonder om te dink, iets wat vir hom nie natuurlik kom nie, kyk hy nou in die smal gang van die tak kraal in. Daar lê die luiperd morsdood. Dis wat Faan aanvaar het in elk geval. Teen sy pa en broer se wraak beloftes kruip Faan in en gryp die luiperd stewig aan die stert vas om hom uit te sleep. Die luiperd staan net daar uit die dood uit op, en begin dadelik in die teenoorgestelde rigting beur. Faan het dit glad nie verwag nie, en word effe onkant betrap en die luiperd sleep hom soos ‘n boot wat ‘n skieёr op die water sleep, in die groter geronde deel van die tak kraal in waar die ossie lê. Faan besef al wat nou keer dat hy gevreet word, is sy greep op die luiperd se stert.
Dit is dan ook die raad wat hy by oom Basjan kry. Oom Basjan skree vir Faan “nou moet jy vashou boeta, as jy los is jy ontbyt.” Dit is toe dat Noll met sy helder verstand vir sy pa kyk, en met ‘n baie neutrale stem vir sy pa raad gee. “Pa, hierdie is ‘n moeilike skoot met die luiperd wat so vinnig hardloop, net nou skiet ons vir Faan raak. Kom ons gee kans sodat die luiperd eers effens moeg word en spoed verloor.” Oom Basjan kyk na Noll terwyl hy die nuus verwerk en hy sien dadelik die logika daarvan, want die luiperd sleep vir Faan teen so ‘n hoё spoed dat sy voete hier by sy ore verby kom soos hy hardloop.
Later die middag toe hulle by die huis kom wou ma weet nou hoekom is Faan dan soos die luiperd aan die saal vas gemaak! Die ander twee was heel tevrede dat alles goed af geloop het. En oom Basjan moes toegee, dit was ‘n maklike skoot na die luiperd uit asem gaan staan het.
©Vossie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek