Klong (Hoofstuk Nege) ©Eduard Smith
“Kan ons asseblief alleen praat?” Francois trek vir Dreyer aan die arm teen die trappies af.
Dreyer draai sy kop en praat hard oor sy skouer. “Annemarie, jy gaan nêrens heen nie. Ek kom nou terug dan móét ek met jou praat.”
Francois loop vooruit en Dreyer volg tot hulle aan die verste punt van die tuin, ver genoeg van die huis af is sodat niemand hulle kan hoor nie, tot stilstand kom.
Dreyer sit sy hand teen Francois se wang maar Francois forseer hom op ‘n afstand.
“Wat de moer gaan met jou aan? “Dit kan mos nie jou kind wees nie…ons is veronderstel…”
Francois se hand is in die lug en dit maak Dreyer onmiddelik stil.
“Dis my kind Klong…dis myne Dreyer…en wat ookal jy jou verbeel het tussen ons aangaan is ‘n versindsel. Ek is nie lief vir jou nie…en was nooit nie. Ek het Annemarie lief. Ons gaan trou en ons baba saam groot maak.”
“Maar ek verstaan nie…Frans sê net asseblief vir my dat jy lieg…asseblief?”
“Die enigste leuen is in jou kop Dreyer. Jy het jou dinge verbeel wat nie waar is nie…ek gaan met jou suster trou…”
“En…elke keer wat jy gesê het jy het my lief…elke keer wat jou lippe teen myne was? Jy het my mislei? Wat het jy daarby gebaat? En dan het jy agter my rug saam my suster geslaap? Jy is ’n gewetenlose bedrieër…”
Dreyer het omgedraai en teen die steil grasperk opgestap. Francois sien hoe hy by Annemarie verby storm, die huis in. Die trane brand sy oë en ‘n vuur krap in sy keel. Hy kan vir ‘n oomblik nie die emosie beteuel nie en byt aan die vuis wat sy hand voor sy mond maak. Hy onderdruk ‘n luide kreet. Hy bly die trane wat uit sy oë stroom met sy hande vee. Toe hy opkyk is Annemarie by hom. Sy trek haarself teen hom vas.
“Moet dit nie aan jouself…en aan hom doen nie. Jy is so lief vir hom…” fluister Annemarie in sy nek.
“Nee…nee ek is nie. Ek is hartseer dat ek hom mislei het. Ek is…ek gaan met jou trou. Dit is die regte ding om te doen.”
Toe hulle na ‘n lang ruk in die huis instap begroet ‘n argument tussen Dreyer en Maarten hulle.
“Pa weet nie waarvan jy praat nie…” gil Dreyer.
“Jy weet natuurlik dat jy met jou pa praat, en nie een van jou aanhangers op universiteit nie.”
“Hoe wil Pa hê ek moet optree? Julle dwing daardie twee om te trou omdat julle name vir julle meer werd is as enigiets anders.”
“Ons het geen so iets gedoen nie. Hulle het self besluit…en jou suster is swanger. Wil jy hê sy moet die kind self groot maak?”
Dreyer draai om toe Francois en Annemarie die vertrek instap.
“Ek wil met julle en julle verraad niks te doen hê nie. Julle is almal dood vir my.”
Hy forseer homself by hul verby en kom eers in die tuin tot stilstand toe Hannetjie agter hom praat.
“Dreyer? Wanneer het jy gekom?”
“’n Rukkie gelede Ma. Waarom is Ma alleen hier buite. Al die ander verraaiers is binne.”
“Verraaiers?”
“Hoe kan julle daardie twee aanmoedig om te trou? Dit is belaglik!”
“Stadig nou. Ek het ook eers gedink dit is waansinnigheid, maar toe ek nugter daaroor begin dink…voel ek anders. Jou suster is swanger…dit is Francois se kind en hy wil verantwoordelikheid neem. Ek het nie eens geweet hulle het ogies vir mekaar nie…”
“Ogies vir mekaar? Hemel Ma, ons is nie tien jaar oud nie…”
“Hoekom ontstel dit jou? Jy behoort gelukkig te wees…jou beste vriend gaan jou swaer word.”
“Ek wil nie hê hy moet my swaer word nie…ek wil nie verder hieroor praat nie. Moet my nie eens troue toe nooi nie. Ek kom nie. Sê vir Pa ek het gery. Ek gaan nie weer in daardie huis in nie.”
“Dreyer…jy sê jy is nie tien jaar oud nie maar jy tree soos ‘n kind op. Laat staan nou hierdie gedrag opeens. Hoor jy vir my?”
“Ek gaan nie hier staan en na twak luister nie, Ma. Ek ry, en solank as wat daardie twee hier is, en as hulle met hierdie trouery voortgaan kan julle almal vergeet om my ooit weer te sien.”
“Nou dreig jy my…vir ons almal? Wat die josie gaan met jou aan? Hoekom so streng kapsie maak oor ander se liefde vir mekaar?”
“Liefde? Liefde? Maak jou oë oop Ma. Van wanneer af is Francois en Annemarie lief vir mekaar? Het Ma hulle al ooit saam gesien…enige aanduiding gehad dat hulle saam is? Nou wil hulle trou want Annie is swanger…dit sal nooit werk nie!”
“Ek verstaan jy probeer jou suster beskerm teen ‘n dwase besluit…”
“Dit is nie nét dwaas nie, dit is alles een groot leuen.”
“Hoe kan jy so sê?”
“Want ek weet…ek weet Franscois is lief vir iemand anders.”
“Jy is seker nie ernstig nie. Waar kom jy aan al die nonsens?”
“Ma…ek gaan nou ry…en my gevoel is duidelik. As jy antwoorde soek vra hom self.”
Dreyer druk ‘n soen op sy ma se wang en stap weg. Toe die motor by die voorhek uitry stap Hannetjie huis se kant toe. Francois en Annemarie staan aan die bopunt van die trappe en staar waar Dreyer se motor verder weg verdwyn.
“Francois!” Hannetjie praat effe hard.
“Tannie?”
“Wat is die storie wat Dreyer vir my vertel?”
Francois se gesig verkleur en hy sluk swaar aan ‘n droë mond.
“Watse storie Tannie?”
Sy staan voor hom en haar oë brand in syne. “Dat jy lief is vir iemand anders.”
“Ek…ek weet nie waarop hy sinspeel nie, Tannie. Dit is doodeenvoudig nie waar nie.”
“Waarom sou hy dan so iets sê?”
Annemarie antwoord voor Francois kan praat.
“Ma sal vir Dreyer moet vra. Ek weet ek is die enigste een vir wie Francois lief is. Dreyer het hang-ups.”
“Hy is briesend kwaad en weier om weer hierheen te kom as julle besluit om deur te gaan met die planne. Ek dring aan om te weet wat hier aan die gang is.”
“Hoe sal ons ooit weet Ma? Dreyer was nog altyd soos ‘n hamer op ‘n aambeeld. Hy kry sy neus in ‘n rigting en dan is dit net voorentoe. Hy sal weer goed word.”
“Ek is nie so seker daarvan nie.” Antwoord Hannetjie. “Ek gaan jou pa soek.” Sy stap weg.
“Moenie so hard op hom wees nie, asseblief.” Francois praat sag. “Dinge is vir hom verwarrend op hierdie stadium.”
“Ek weet. Ek was eintlik net hard teenoor hom voor my ma. As sy ooit snuf in die neus moet kry oor wat Gustav aangevang het…hell has no fury as a mother scorned. Of hoe sê die slim mense?”
Francois glimlag sag en trek vir Annemarie saggies teen sy skouer aan. Annemarie staan sy arms vol, maar sy hart is vol hartseer en verlange.
“Die groter prentjie…” dink hy “soms regverdig die einde die metode…”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.