Jongste aktiwiteit:

Klong (Hoofstuk Agt) ©Eduard Smith

Toe die foon lui trek sy keel behoorlik toe. “Wat gaan hy vir Dreyer sê?”
“Hello…”
“Haai jy. Ek hoor julle is by die huis. Hoekom het jy nie laat weet nie dan kon ek ook deurkom.”
“Eh…eh…Annemarie wou jou ouers sien en jy weet mos ek is die aangewese bestuurder. Ek het nie eens daaraan gedink nie.”
“Wat bedoel jy? Jy ry nie eens winkels toe op Potch sonder om my ten minste ‘n teks te stuur nie. Wat gaan aan met Annemarie?…Francois?”
“Ja…?”
“Wat gaan aan?”
“Ek wil nie oor die foon praat nie…kom ons gesels volgende naweek as ek jou sien.”
“Francois, wat gaan aan? Ek kan nie die hele week…vergeet dit. Ek sien julle oor ‘n paar uur. Ek ry nou.”
Die oproep is beëindig voor Francois kapsie kan maak.
“Dreyer is oppad…kan ek asseblief alleen met hom hieroor praat…én eerste. Hy moet dit van my af hoor anders gaan ons nooit hierdie saak kan beredder nie.” Praat hy met Annemarie wat groot-oog vir hom sit en kyk.
“Jy klink elke dag meer en meer soos ‘n politikus.” Annemarie glimlag en praat verder. “Jy swot vir seker in die regte rigting.”
“Jy gaan dankbaar wees dat diplomasie my sterk punt is. En jy behoort die saak meer ernstig op te neem. Ons ouers is een ding maar Dreyer is anders…”
“Anders…hoe?”
“Hy het ‘n groter belang…ek bedoel, ons is emosioneel meer betrokke by hom.”
“Ek dog jy het my probeer oortuig daar is niks tussen julle nie. Jy kan nie met my trou as jy eintlik verlief is op my broer nie Francois. Dit is wreed teenoor hom, teenoor my en teenoor jouself.”
“Dink nugter, vir net een oomblik…en nee ek is nie verlief op jou broer nie!” Die woorde breek deur sy hart en voel asof sy kop wil bars. “My pa is oppad hooggeregshof toe…jou pa is ‘n chirurg en hoof van die mediese fakulteit…ek is amper klaar gestudeer en reeds deur die amptelike opposisie in die parlement genader vir ‘n posisie daar. Dink jouself in as die storie op die lappe kom, dat my neef nie sy drange kon bedwing nie en meisies teen hul sin seksueel aanrand…hoe gaan so ‘n berig in die koerant lyk Annemarie? Hoe gaan die storie gespin word deur elke dorslustige joernalis wat daagliks opsoek is na sensasionele gebeurlikhede? Niemand kan bekostig, nie jou familie nie en vir seker nie my familie nie, dat hierdie saak ooit die lig sien nie.”
Annemarie het lank oor die grasper gesit en staar voor sy praat.
“Ek het vir ‘n oomblik gedink jy doen dit vir my eer, maar nou sien ek dit gaan alles oor die goeie naam van die du Preez’s…”
“En die Humans! Annemarie, ek kan en sal goed na jou omsien Jy hoef nie ‘n kind alleen groot te maak nie en niemand sal ooit ‘n vinger na jou wys en bewerings kan maak nie.”
“Maar is dit genoeg? ‘n Huwelik ter wille van ‘n baba?”
“Ter wille van óns baba…daar is net vier mense wat die waarheid weet. Selfs Gustav weet nie dit is syne nie. Ter wille van ons ma’s…en ter wille van ons almal se beroepe en toekoms. Ons kan leer om vir mekaar lief te word. Hou jy nie van my nie?…”
“Ek…ek was nog altyd bietjie verlief op jou, maar dit wat ek op die plaas gesien het, het my daarvan genees.” Annemarie glimlag skeef.
“Dit wat jy op die plaas gesien het was niks. Dit was ‘n oomblik van waansinnigheid. Ek belowe jou.”
“Moenie beloftes maak nie Francois. Hierdie beplande huwelik is reeds gedoem omdat dit op soveel leuens gebou gaan word.”
“Ek het jou gevra om met my te trou. Dit is die regte ding om te doen. Die wêreld is wreed genoeg…laat ons alles probeer om hierdie situasie te hanteer soos dit hoort.”
“Jy bedoel laat ons dit hanteer soos ‘n politikus sou?”
“Nee…soos mense wat verantwoordelikheid vat vir dié waarvoor hulle omgee.”
“Gee jy om vir my?”
“Maar natuurlik…jy is Dreyer se suster…ons is jare al vriende…”
“Ja…ek is Dreyer se suster…”
Annemarie het geweet Francois onderdruk en onderspeel werklik wat in sy hart aangaan. Sy kan egter nie oor die ongelooflike gevoel van respek, wat sy in die afgelope paar dae vir hom ontwikkel het, kom nie. “Ter wille van ons gesinne…” dink sy “kan ek leer om vir hom lief te word.”
“Dankie Francois…” het sy sag gesê en sy hand wat klam in hare rus gedruk.

Toe Dreyer se motor teen die oprit opry voel beide hoe hul harte amper in hul kele klop. “Wat gaan ek vir hom sê?” dink Francois.
Dreyer klim joviaal uit die motor en stap teen die stoeptrappe op. Hy groet vir Francois met die hand, soos hulle altyd maak as daar vriende en familie naby is. Hy soen vir Annemarie saggies op die wang.
“A nee a…julle lyk soos ondernemers…jy weet…die ouens wat mense begrawe.” Hy lag en klop vir Francois op die rug.
“Wat gaan aan?” vra hy.
Annemarie staan op en druk haar boetie styf teen haar vas.
“Annie, jy maak my bekommerd…wat is fout?”
“Ek is swanger, boeta.”
“Swanger? Hoe is jy swanger? Wie is die pa? Jy lieg vir my…”
Annemarie skud haar kop. “Ek is regtig…swanger.”
“Wie se kind is dit?”
“M…myne…” antwoord Francois. Hy kyk verby Dreyer om oogkontak te vermy.
“Joune? Wat bedoel jy…joune?”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed