Ontdekking
Waar ek nou staan, is alle rigtings Noord. Die yswoestyn strek vormloos die vertes in, helderwit afgeëts teen ʼn vlootblou hemelkoepel.
Vyftig dae. Dis hoe lank dit my geneem het om hier uit te kom, waar die die temperatuur dertig onder vriespunt haal en die aarde se ronding teen die einders gesien kan word.
Nee, wag. Eintlik was dit nader aan twee jaar.
En dít het alles geruïneer.
Ses maande gelede, op ʼn diepwintersoggend, het Monika eenkant gestaan terwyl ek gepak het om op my sesde oefen-ekspedisie te vertrek; hierdie keer na Svalbard, die Noorse argipel binne die poolsirkel.
Met beide hande om haar blou koffiebeker gevou, het sy my stip aangekyk en haar woorde sorgvuldig afgemeet.
“Ek’s bly jy het ʼn doelwit,” het sy gesê. “Maar hoeveel onbetaalde verlof is dit nou al? En elke oefen-ekspedisie kos ʼn fortuin. Ek weet nie hoe ons dit kan volhou nie.”
“Kyk, die voorbereiding is eintlik alles,” was my antwoord. “As mens deel van iets belangriks wil wees, moet jy dinge opoffer.”
Sy het my alleen gelaat totdat ek my bagasie in die kar gelaai het. Toe ek haar op die wang totsiens kus het sy gesê: “Daar’s dinge wat jy nie moes opoffer nie. Maar jy’s nooit meer hier nie.”
Twee jaar se voorbereiding, van opoffering. My drie metgeselle kwetter opgewonde oor die mylpaal wat ons saam bereik het. Maar ek…
Ek sou dit maklik ruil om nog een keer te kan vra: “Monika, wil jy vanaand Netflix and chill?”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.