Pikkewyn en die horrelpootkalkoenmannetjie – (Brons)
Pikkewyn en die horrelpootkalkoenmannetjie – (Brons)
“Verstaan u die implikasie van hierdie laatste wil en testament van u grootvader, juffrou Griessel?” vra die prokureur. Met ‘n kopknik bevestig ek dat ek begryp.
Soetwater, my oupa se plaas is nou my eiendom, met dien verstande dat ek binne ‘n maand my intrek daar moet neem. ‘n Duisend gedagtes hardloop soos wilde perde deur my kop. Ek het skaars ses maande gelede begin skoolgee op Piketberg. My woonstel is smaakvol ingerig, ek is vertroud met my nuwe omgewing en geniet my werk.
Na Mamma en Pappa se dood in ‘n fratsongeluk (hul voertuig het gerol en uitgebrand) het ek weliswaar elke vakansie by Oupa op die plaas gaan kuier, maar om in die Kalahari te gaan woon? Dis ‘n ander saak, ‘n gebedsaak.
Dis twee weke later. Kerneelsie, my afgeleefde tjor, se stofstreep hang nog in die lug by Soetwater se ingang, toe ‘n rooi gevaarte op die werf stilhou. Ek stap nader. Die vreemdeling lyk geensin gemoedelik nie. “Goeiemiddag,” groet ek floutjies, oormoeg, “hoe kan ek help?”
“Midda… “ begin die bulletjie nog groet toe sy voet aan ‘n reuse boomwortel haak en hy hande-viervoet reguit op my afstorm. In ‘n poging om hom te help, beland ek onder hom op die harde grond. “Eina! Horrelpootkalkoenmannetjie! Jy vergruis my! Af!” gebied ek, skielik oorbewus van sy bultende spiere en potblou oë. Vervaard vlieg hy orent. Ek volg sy voorbeeld en staan ‘n aks terug.
“Jy moet leer om hekke agter jou toe te maak,” sê die mansmens iesegrimmig.
“En jy moet leer om jammer te sê, as jy vroumense op hul eie grond plat duik!” kap ek terug.
Vervlaks, die man het die frieken mooiste oë, kan ek nie help om te dink nie. Ons gluur mekaar nog vir ‘n sekonde aan. Skielik draai hy op sy hakke om, klim terug in die reuse bakkie en trek weg dat die klippe spat.
“Aangename kennis, vreemdeling,” fluister ek vir die stofstreep.
Die eerste paar dae op die plaas verloop sonder verdere voorvalle. Ek en Saartjie, my oupa se huishulp die afgelope dertig jaar en haar man Kayafas, oupa se regterhand, maak ‘n lys van benodighede vir die plaas en kruideniersware wat kort. Ek sal Vrydag die aankope gaan doen.
Kayafas ry die lyndrade om met Safier en rapporteer terug dat die weiding geil groei na die goeie somerreëns. “Die nguni’s is dik in die skof, my mêrriegoed. Sit samblief tog daar by onse pampier oek ‘n soutlek op?” versoek hy. Ek knik dankbaar. Ek leer daagliks by hierdie raakvatter.
Dis Vrydag. Ek tik ‘n bietjie parfuum aan, kleur my lippe ligroos, kam my hare tot die ligvonkies daarop dans en kyk vir myself in die spieël. “Skaam jou! Skaars ‘n week weg en jy maak jou mooi in die hoop om die vreemdeling te sien?” praat ek met myself. “Issie! Dis vir myself wat ek dit doen,” kom die verweer.
In die kombuis gee ek laaste instruksies vir Saartjie, neem die lysie en drafstap na Kerneelsie. “Reg, ou grote, hier gaat ons!” praat ek met my ryding. Tog net die hekke toe maak … dink ek oppad dorp toe en sien weer die twee grimmige blou oë voor my.
Die dorp is besig. Die koshuiskinders word gehaal van heinde en verre. Vrydag is nie die beste dag vir ‘n beginner-aankoper nie. Teen sonsaktyd pak ek die pad terug Soetwater toe aan.
Ek word met afgryse vervul toe ek die vlamme digby my grensdraad gewaar. Ek stop by die hek, pluk Kerneelse se kattebak hardhandig oop en gooi die mieliepitte uit die 50kg sak. By die windpomp druk ek die sak in die water en hardloop tot teen die draad.
“Hier gaan jy nie deur nie, vuur!” skree ek op die vlamme “Ek HAAT jou!”
My arms brand, ek slaan met hernude ywer. “Vrek satansvuur!” skree ek opnuut. My oë traan en my longe brand, maar ek veg manmoedig terug. ‘n Hoesbui oorweldig my. Dan is alles swart voor my.
“Komaan, Pikkewyn, maak oop jou oë … asseblief tog? Ek wil jou nog beter leer ken. Ek is jammer ek het jou geduik …” dis die horrelpootkalkoenmannetjie se lippe wat op myne prewel.
“Die vuur?” kry ek dit na ‘n hewige hoesbui uit.
“Die vuur is dood…” sê die man met die mooiste blou oë ooit.
Iewers diep binne my borskas voel ek ‘n kool gloei … en dit het niks te make met die veldbrand van flussies nie.
©Retha van Deventer
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Julie 2024 – OOP projek