Jongste aktiwiteit:

12. Die ballade
vir

12. Die ballade

12. Die ballade

Die Franse ballade is ‘n oorwegende liriese gedig met ‘n kunstige vorm met ‘n rymskema ababbcbc wat oorspronklik in al drie strofes dieselfde moes gewees het. Dus abab bcbc/ abab bcbc/abab bcbc/bcbc. Digters het dit al met tyd verbuig na abab bcbc/ abab bcbe/ abcb bcbe/ bebe aangesien die antieke struktuur groot rym vermoëns van die betrokke digter eis. Daar is gewoontlik ‘n keerlyn (refrein lyn) wat dwarsdeur die gedig herhaal word.

In die slotstrofe of l’ Envoi, wat gewoonlik korter as die ander drie strofes is word die prins aangeroep, wat as beskermheer van die digter opgetree het. Envoi dra ook die betekenis om God aan te roep, of te sê hier is die boodskap en ‘n opsomming, oplossing te gee, of die erns van die saak te benadruk. Envoi beteken boodskapper of verteenwoordiger, soos byvoorbeeld by ‘n diplomatieke missie.

Invloede was veral uitgeoefen deur Charles d’Orléans, Christene de Pisan en Francois Villion. Veral Villion het ‘n groot invloed uitgeoefen op Werumeus Buning in Nederland en Uys Krige in Suid-Afrika. Villion se gedig “Ballade des Pendus” is deur Krige in Afrikaans vertaal as sy gedig “Grafskrif.” Uys Krige se gedig “Ballade van die Dames van Weleer” is ook ‘n vertaling van Villion. ‘n Uiters belangrike aspek van die ballade is dat dit dikwels gebruik is vir politiekke en godsdienstige strydvaardigheid. A.G. Visser se “As Kersfees kom” kan as ‘n stryd vers beskou word. Louis Leipoldt het ook in sy ballades ‘n groot mate van vryheid gebruik in “Ballade van die Ryk Prins” en “Ballade van ‘n Verstening in die Vrystaat” word net die laaste woorde in die slotreël as refrein herhaal.

Hier is my gedig in hierdie vorm:

Gee die bevel tot U kryg

a Nog nooit in die tyd wat ek leef
b het U menslike geheimenis
a soos nou aan my openbaar, dinge so diep verweef
b aan my gegee met deurlugtige betekenis

b sodat ek my van die ware feite kan vergewis
c van magtige mense wat my en my volk bedreig
b en orals is daar pyn en droefenis,
c gee die bevel tot U kryg, want ek kan U wil nie meer verswyg.

a Elkeen wil na ‘n eie bietjie geluk, ‘n eie plekkie streef
b en nou rol die wolke wat klad weg soos mis
a en vreesloos wil U dat ek my begeef
b met groot opregte deernis

b na die wat my en my volk se vyand is,
c my ten spyte van weerstand, tot hulle neig
b om hulle te waarsku, teen U vonnis
c gee die bevel tot U kryg, want ek kan U wil nie meer verswyg.

a Here, hierdie mense weet nie om voor U te beef,
b hulle is vasgevang aan moderne kennis,
a glo dat U nie bestaan nie, glo U is afgeleef
b maar nou sal ek dit onomwonde stel met bybetekenis:

b ek het ontwisbare voorkennis
c dat uitwissing wag en dis nie iets wat ek net aantyg
b en die ramp wat kom is onbekend in wêreldgeskiedenis
c gee die bevel tot U kryg, want ek kan U wil nie meer verswyg.

l’Envoi
b Here God, as hierdie onderdrukkers nie kom tot belydenis,
c laat dan U oordeel val, as hulle gebede nie tot U opstyg.
b Almagtige God, laat u winde los om uit te wis,
c gee die bevel tot U kryg, want ek kan U wil nie meer verswyg.

Die Engelse of middeleeuse ballade behoort tot ‘n totaal ander digsoort as die Franse ballade en dit is ‘n epiese gedig, met ‘n sterk liriese inslag. Dit kan ‘n gebeurtenis, verhaal of suiwer fantasie wees.

In die Engelse ballade, was ballades liedere wat gesing was deur swerwende minnesangers, wat gretig na geluister is by kermisse. Die aanhoorders sou gevang wees deur die verhale vol treffende dade.

Die Engelse ballade word gewoonlik geskryf in vier lyn stansas. Die dramaties vraag antwoord of dialoog vorm word baie keer gebruik om die storie te ontwikkel op ’n eenvoudige manier en om die emosies van die luisteraars te wek. ‘n Algemene eienskap van die ballade is om lyne of frases gereeld te herhaal in ‘n tipe refrein. Die refrein help om die vertelling ‘n gladde vloeiendheid te verskaf en benadruk die dramatiese elemente. Deurdat die ballade gewoonlik met aksie te make het, bly die verteller passief. Die gehoor trek eie konklusies en die verteller maak nie ‘n morele oordeel oor die verhaal nie.

Van die kenmerke van die Engelse ballade is dat dit onmiddellik aanvang neem sonder inleiding, dat daar min beskrywing is, bestaan dikwels meestal uit dialoog en die vorm daarvan is gewoonlik baie eenvoudig. Dit is meestal opgebou uit vier of soms vyf reëlige strofes. D.F. Malherbe se “Jacob Ontong” is ‘n intressante ballade met bonatuurlike elemente daarin, dieselfde tipe ding is ook in C.M. van den Heever se “Wie om twaalfuur snags,” Uys Krige se “Die Minnaar en die Dood” en A.D. Keet se “Die lied van die koringboer” teenwoordig.

Hier is my voorbeelde van die Engelse ballade:

Ballade van die afkop man

Op die pad naby Skimmelperdpan
groet ‘n jong boer sy fraaie vrou
en die forse man
is besig om haar vir ‘n oomblik vas te hou.

koor:
in die lug is daar ‘n maan
wat half sekel hang,
as ek by die onderste kloof verbygaan
sien ek ‘n ruiter en perd wat byt teen sy stang.

Later as die weer opsteek
en blou bliksems soos skote om my knal
gebeur ‘n ding wat ‘n dapper man se moed kan breek
voor die eerste groot druppels reën soos geweerskote val.

As daar perde pote soos kanonskote klap
terwyl ‘n kerkklok middernag in die verte slaan
en geen mens meer in die strate rond stap,
as die meeste huise se deure geslote is,
is daar ‘n onaardse ding
wat regop in die stiebeuels staan.

Net een blik toe nog ‘n bliksem langs ons val
laat my amper uit my geloof uit skrik
toe ‘n perd verby galop
en die donder onheilspellend knal
en ‘n ruiter sonder kop vooroor leun soos wat hy
met ‘n helle vaart verby ry
met ‘n roer wat donder in sy vingers geklou

en by ‘n ou bouval in spierwit afgebeeld
is daar ‘n skimagtige vrou
wie se skril stem deur die nag sny,
skreeuend op die ruiter wat verby ry:
“Kan niks jou keer? Jan van der Meer?”

[Verwysings: Die ruiter van Skimmelperdpan deur A.G. Visser en By ‘n pan in die nag deur Gert Strydom.]

Tyd glip by hom verby

Sy wêreld verval,
asof uitgeruk uit die heelal,
sy lewe versplinter,
hy verloor sy werk, sy huis,

koor:
tyd glip by hom verby
dae word weke, weke word maande
vol alleen aande,
maande verander in jare.

sy vrou loop met ‘n minnaar weg
albei sy karre word gesteel,
sy bruin labrador sterf aan bosluiskoors,
sy swart en wit huiskat kry katgriep

en niks kom vir hom reg,
maar hy kyk die lewe nugter in die oë,
soek daagliks werk,
en skryf gedigte een na die ander.

Sy motorfiets word deur ‘n vier by vier
onder hom uitgery
en nie behoorlik herstel
terwyl hy sy lewe met skoenrieme probeer optel

en as hy in die straat af stap,
is die lug suiwer blou,
sien hy kiewiete op die rugbyveld
hoor hy duiwe in die bome

gesigte is vir hom vreemd,
hy ken geen meisie in dié nuwe dorp
en hy is verstom
want party glimlag vir hom

maar hy praat met niemand,
neem maar net waar
hou elke aand huisgodsdiens
en dis vir hom ‘n stryd

en oggende as die son opkom,
grawe hy in die tuin,
sien bossies en gras orals uitspruit
en dis asof alles aanhoudend verval

en tog bly hy aanhou hoop,
dag vir dag die pad dorp toe loop
asof daar skielik ‘n wonderwerk kan gebeur,
asof God op ‘n tyd sy lewe kan ontknoop.

Die ballade van André Stander

Daar was ‘n dapper bankrower, ‘n wel bekende man
wat dit geminag het om ‘n lewe te maak as ‘n polisieman
en nadat hy bank na bank geroof het, was hy berug
bewonder deur elke man en vrou

Koor
as ‘n kaptein van die polisie het hy hulle deur en deur geken
en die koerante, selfs die TV-nuus het sy dade en rooftogte gepubliseer
van die aanslag op vier banke selfs vyf op een dag, sonder om te sweet of gil
en hy’t net ingeloop en gekollekteer soos vir kruideniersware.

Toe vlieg hy na Durban om daar te besoek
maar het nie naby die strand of see gekom nie,
het vis gevang by die banke,
sakke gegooi oor toonbanke in vrolike verwaandheid

en vermom, ‘n meester van die kuns
kon niemand hom eens raak, of so het dit gelyk
en hulle moes geld afstaan
net wanneer en waar hy toeslaan

maar hy is verraai deur sy polisie vriend
‘n polisieman wat hy vertrou het,
‘n puntenerige man, wat sommige mense haat,
wat toe vir André Stander in ‘n groot gemors laat,

tot sy arrestasie lei
en hy ontmoet toe ander vriende en skielik is hulle drie
en hy was nie vir lank die regering se gas nie
en toe roof al drie van hulle ewe uitgelate

tot ‘n werkende meisie, die prostituut tipe,
wat druk en soen
dit in haar koppie kry
om die goeie ou polisie in te lig

vir ‘n groot beloning
en het gedink dat hulle gevang sou word,
dat sy bekend sou word, ‘n toekenning sou kry,
maar goeie grote André Stander het in die niet verdwyn.

In die groot ou goeie VSA het hulle hom platgeskiet
hom geskiet met ‘n haelgeweer, sy kop skoon afgeblaas,
meer bang vir hom as vir hulle eie,
het seker gemaak dat hy dood is.

‘n Derde soort gedig word deur die digter self as ballade aangewys en hierdie soort gedig behoort tot die sogenaamde gestalte poësie, waar die digter ‘n bepaalde gestalte oproep wat hy laat spreek en so is die hele gedig gewoonlik ‘n monoloog. Die figuur wat spreek is egter nou verwant aan die gevoelens en opvattings van die digter self. Hierdie gedigte is nie aan ‘n bepaalde vorm gebind nie. N.P. Van Wyk Louw se “Ballade van die bose,” “Ballade van die drinker in sy ure,” “Ballade van die sterwende man” en “Ballade van die drinker in sy kroeg” is almal voorbeelde van hierdie tipe ballade. Uys Krige se “Ballade van die Krygsgevangene,” G.J. Watermeyer se “Ballade van die Dronkparty” en D.J. Opperman se “Ballade van die Grysland” behoort tot hierdie soort moderne ballade gedigte.

Hier is van my voorbeelde met soortgelyk rym skema as D.J. Opperman se “Ballade van die grysland” en wat ek na W.E.G. Louw se “Sewe Ballades met ‘n Proloog” geskryf het.

In die meeste van my eie ballade gedigte probeer ek elemente van die Franse ballade en die moderne ballade saamsnoer. Hierdie gedigte van my is meestal polities strydvaardig oor die onderdrukking van die Afrikaner deur die huidige regering. Tog skryf ek ook ander gedigte in hierdie formaat. Hier volg ‘n paar voorbeelde van my eie ballades:

Ballade van die entrepreneur

I

Op pad na die kantoor
staan Jakaranda bome in blom,
hier en daar keer iemand my voor

vra of ek dalk ‘n sigaret het
sommige probeer ‘n rand of twee kry
en die lig is verskriklik skerp na die nagtelike pret.

Daar’s rook walms wat by Yskor uit krul,
‘n trein loop kreunend op die spoorlyn verby
terwyl masjiene onophoudelik brul

Die meisie by ontvangs glimlag vir my
en buk sodat ek welgevormde borste sien
voor sy ‘n bloedrooi bloos kry,

manne met wit jasse en wit helms aan
in my kantoor in bars
en ek vinnig op syfers en sketse my aandag slaan

totdat alles om ons meteens verstil,
‘n donder slag van uit die fabriek opklink
en daar’s iemand wat aanhoudend histeries gil

sodat ek in dolle vaart afhardloop
na waar daar rook wolke uitslaan,
waar mense in ‘n warboel gesprekke aanknoop.

II

‘n Werker is dood, morsdood geskok
van ‘n masjien waarvoor ek die planne optrek
en ander werknemers is van hom afgehok.

Die vrees sny deur my
dat ‘n mediese dokter moet kom
en dat ek hom sal moet vermy.

Dadelik is daar veranderings wat ek maak
sodat niemand ‘n vinger op my kan lê,
voordat hy aandag kry en ek meer kalm raak

en aan sy vrou sal ek sê dat hy net onnosel was
self riglyne oortree het,
nie by die maatskappy se planne wou inpas.

Die werkers is half verlam van skok
waar hulle met mekaar staan en praat
maar werk voort, van mekaar afgehok

terwyl ambulansmanne die dooie uitdra
en ek en die dokter ‘n gesprek voer
oor sy nalatigheid en hy my nie verder uitvra.

Daardie middag in die kroeg
versuip ek my bekommernis
en voel daar tam en moeg.

III

Die dae snel verby
terwyl dinge by die fabriek voorspoedig gaan
maar saans spook die dooie man by my

totdat ek die dinge nie meer kan vat
stemme hoor, gesigte sien en my eie polse sny
en sien hoe bloed in alle rigtings spat.

Waar ek in ‘n gestig tot my sinne kom
staan mense met wit jasse rondom my
met hulle gesigte deur maskers vermom

en ander pasiënte is van my afgehok
waar ek aan ‘n bed vas gegespe is
voor een ‘n hefboom druk en my skok

en die vrees sny nou dwarsdeur my
toe nog mediese personeel en dokters kom
en ek hulle wil vermy

maar weereens nog meer skokke kry
en gister, eergister en die ander dag verdamp
en ek’s van al my sorge vry

en my siel is weg gestroop,
ek weet skaars wie en wat ek is,
as iemand ‘n gesprek met my aanknoop.

[Verwysing: Ballade van die grysland deur D.J. Opperman.]

Ballade van die wag bevelvoerder

I

Met skemering sak die son vuurrooi
agter die bosse weg
waar dit in prag, ‘n beeld oor die bosveld gooi.

Daar’s wagte wat ek as bevelvoerder inspekteur
waar hulle netjies in ‘n peloton staan
en ek hulle een vir een bekyk en toe dwarsdeur

hulle na die wagkamer op die skiet toring stap
en in die kamp in die operasionele gebied
is alles agtermekaar, gedra die wagte hulle knap.

Vroegaand kom speel ‘n ander offisier
‘n potjie skaak teen my
en ons drink yskoue glase bier

maar hoe later dit word is dinge stil en rustig
asof dit net nog een aand uit ‘n duisend is
en vir ‘n tyd lank volg ek dinge nog aandagtig

tot die skaduwees lank teen die mure uitrek,
my onder offisier lang gape begin gee
en ek my op my kampbed uitstrek

hom maan om die fort te hou, ek vaak raak
die slaap my ooglede toetrek
toe ‘n ontploffing my wakker maak.

II

Iewers in die kamp bars nog ‘n bom,
ek gryp my wapen beveel die skiet toring om te vuur
en die vrees is by my – dat die generaal gaan kom.

Ligspoor koeëls sny spore deur die nag,
fakkels word afgevuur
dit word buite helder soos dag

en ons skiet in die bosse in
terwyl ek nie kan pyl waar die vyand is
en weet nie mooi waar het die geveg begin

In die kamp bars nog ‘n bom,
ek sien ‘n eie troep ‘n handgranaat gooi
en staan heeltemal verstom

en die vrees is by my – dat die generaal gaan kom
wat gaan ek sê oor wat hier gebeur,
verslag gee oor die manne onder hom?

Dis duidelik dat dit geen vyandelike aanval is
van die wagtoring af lig ek my geweer
as dit knal is dit ‘n eie man, ‘n kennis

wat ek neerskiet voor hy nog handgranate gooi
en almal meen dat ‘n vyandelike koeël hom tref
terwyl hulle die bosse met mening looi.

III

Die oggend is grou
en reënerig as die dag breek
terwyl vrees om my vou

waar ek rekenskap moet gee
oor manne in drie tente wat gewond is
en die dood van een dra ek met my mee

terwyl soldate buite die bosse fynkam
met ‘n knop in keel
en ek weet dat daar geen vyand is en voel tam.

As ek ‘n helikopter sien is duidelik dat die generaal kom
en die Here weet dat ek ‘n eie man moes skiet,
wat sal ek van die paraatheid van sy kamp kan wys aan hom?

Deur skrefies oë op die paradegrond
staan ek en van my troepe
en daar’s agt manne onder my verwond.

Die stof slaan op wat die lemme opwaai
terwyl die helikopter land
en die lemme stadiger draai.

Uit die stofwolk stap drie figure uit
met die generaal wat onverbiddelik lyk
terwyl my ore van die enjin van die vliegmasjien tuit.

[Verwysing: Ballade van die grysland deur D.J. Opperman.]

Vyf ballades met ‘n proloog

(na W.E.G. Louw)

Proloog: Die kind van God

Vanaf die skepping af
nog lank voor die tyd van Plato en Aristoteles
was die woord van God die kind se maatstaf
het hy geheers oor alles.

Toe daar duisternis regoor die aarde rys
ander in opstand kom
vir die God van die skepping wil wys
dat hulle Hom nie ag en vir hom

nie wil glo dat vernietiging hulle dade volg
dat reën tot ‘n geweldige vloed gaan val,
dat oorstroming kom as ‘n nagevolg
uit die hand van die God van die heelal

het die kind sy skip gebou
met sy vrou, kinders en diere daarin geskuil
geglo dat die Almagtige Sy hand oor hulle hou
terwyl die ander in vernietiging om genade smeek en huil.

Deur die paleis van Faro het die kind gestap
kon nie vir sy ma Hatshepsut tot die Almagtige God bekeer,
gesien hoe swepe oor die rûe van sy broers klap
wou die houe van die rug van een van hulle self afweer.

Regdeur die see het die kind sy mense gelei
met magtige water wat op Faro se leër toevou,
dwarsdeur die woestyn het hy
sy blik op ‘n beloofde land gestel, op God vertrou.

Toe God self na hierdie aarde kom
mense van liefde leer
was die kind saam met Hom
waar die kind mense doop en help bekeer

tot op ‘n Vrydag wat die voorhangsel middeldeur skeur,
God self onskuldig aan ‘n kruis hang
bose mense Hom spot, vloek en uitskel na willekeur
Hy die lot van die mens betaal, triomfeer teen die slang.

Petrus, Paulus, Thomas, Johannes en ander apostels
het van Jesus getuig, na die Jode en wye wêreld gegaan,
met skares vreemde mense oor die lewe van Jesus gesels
voor konings en prinse gestaan

en van hulle was vervolg, gemartel en gespot,
ander kinders van God was in arenas vir leeus gegooi
vir sommiges was die dood hulle lot
en Rome se soldate was teen hulle ontplooi.

Tog het die kind van God die getuienis van Jesus versprei
om ander tot redding te bring, met God te versoen
net waar hy kon mense bearbei
oor die wêreld uitgetrek as God se kampioen

tot die donker tyd van die middeleeue kom
die kerk en staat een is en hom vervolg
en steeds was die lig van God in hom
terwyl soldate van Pouslike Rome hom agtervolg

het die kind na die nuwe wêreld ontvlug, daar uitgebot,
hom in Amerika en op die Suide punt van Afrika gevestig
en gelewe asof in die hand van God
met die seën van Hom afkomstig.

I. ‘n Ander evangelie: Kommunisme

Leuenagtig, wreed en op homself gerig
het die mens miljoene tot die dood verdoem,
geglo dat die volmaakte mens
mettertyd met evolusie sal ontstaan.

Terwyl die doel die middele heilig
is niemand teen sy aanslag veilig.

Die valse leerstelling
wou die wat het van hulle besittings stroop,
met die doel om alles aan almal uit te deel,
maar party het alles gekry en ander niks.

Terwyl die doel die middele heilig
is niemand teen sy aanslag veilig.

Gewapende magte, rewolusie en terrorisme
het byna reg oor die wêreld versprei,
kern wapens was heen en weer gerig
om ten alle koste die mens tot die staat te bind.

Terwyl die doel die middele heilig
is niemand teen sy aanslag veilig.

In Hongarye wou mense vry wees
en vir die vryheid het hulle gesterf,
totdat die Berlyn muur val,
dinge in Rusland verander.

Terwyl die doel die middele heilig
is niemand teen sy aanslag veilig.

Maar in Sjina, Kuba en op ander plekke
staan dié vesting steeds sterk
waar die staat alles beheer
selfs wat jy glo, hoe jy jou lewe lei.

Terwyl die doel die middele heilig
is niemand teen sy aanslag veilig.

II. Spits verraad

In die duister word geknoei,
aan die ganske wêreld leuens vertel
terwyl daar in Washington, Peking, Moskou,
Londen en selfs Tel Aviv agteraf beraadslaag word.

Wie wil dollars maak, terwyl bomme soos reën val,
gewere byna onophoudelik knal?

In die donkerte word planne uitgebroei,
in Afghanistan en Irak word daar glo
na wapens van massa vernietiging gesoek
en op olie reserwes beslag gelê.

Wie wil dollars maak, terwyl bomme soos reën val,
gewere byna onophoudelik knal?

Onskuldige mans, vrouens en kinders sterf,
en vreemde buitelandse soldate
dring hulle lande in om glo orde te bring
en op skatte word daar beslag gelê.

Wie wil dollars maak, terwyl bomme soos reën val,
gewere byna onophoudelik knal?

III. Fokus op die algemene mens

Daar word gesê dat elke spel
twee kante het
en so word die dolos of dobbelsteen gegooi
waar die een wen en die ander verloor.

So word daar geleef terwyl mense mekaar bedrieg,
mekaar se vrouens afvry en vir geld lieg en lieg.

Nydig word daar na mekaar se eiendom gekyk,
gewedywer om ‘n werk, ‘n bestaan
terwyl mense mekaar vertrap
in die dobbelhuis, die hoerhuis in stap.

So word daar geleef terwyl mense mekaar bedrieg,
mekaar se vrouens afvry en vir geld lieg en lieg.

Die medemens wat mens moet ag,
sit verhonger op straat, word daar vertrap en verag
verloor sy vrou, sy kinders, sy kar en werk
en elkeen is net toegespits op homself.

So word daar geleef terwyl mense mekaar bedrieg,
mekaar se vrouens afvry en vir geld lieg en lieg.

IV. ‘n Nuwe ander evangelie: Teosofie

Dat okkultisme die nuwe in ding is,
stadig maar seker as deel daarvan
die christendom verdring
sal enige leser my kwalik glo.

Dat die mens ‘n god is, deel van God is en weer reïnkarneer,
word stadig maar seker ‘n nuwe belydenis.

Jesus Christus word as skepper, soenoffer, God
en verlosser verdryf en ‘n ander God in Sy naam geskryf,
die Skepper word as die Satan self verdoem
en die slang tot die ewige ligdraer verhef.

Dat die mens ‘n god is, deel van God is en weer reïnkarneer,
word stadig maar seker ‘n nuwe belydenis.

Noem dit nuwe eeu leerstellinge, gnostisisme, kabbalisme,
die leerstellings van Alice A. Bailey (wat Djwal Khul kanaliseer),
Helena Petrovna Blavatsky en Annie Besant
met menseregte as basis en dit verdring die gebooie van God.

Dat die mens ‘n god is, deel van God is en weer reïnkarneer,
word stadig maar seker ‘n nuwe belydenis.

Selfs in sekere protestante kerke
word daar séances gehou, met die dooies gepraat
en spiritisme sluip stadig maar seker in
waar die mense soek na tekens en wonders.

Dat die mens ‘n god is, deel van God is en weer reïnkarneer,
word stadig maar seker ‘n nuwe belydenis.

Mense word beskou as kompleks, met ‘n laer en hoër natuur
waar die verstand, siel en gees besmet is deur die liggaam,
gereinig moet word as dit na die goddelike toe terugkeer
en reiniging geskied deur reïnkarnasie.

Dat die mens ‘n god is, deel van God is en weer reïnkarneer,
word stadig maar seker ‘n nuwe belydenis.

V. Fokus op Suidelike Afrika

Ons meen dat die moorde op boere,
die skaking, berowing en verkragting
slegs die gevolg van wetteloosheid is,
maar wat as dit deur wetgewing gewettig word?

Dit deur natuurlike wet soos uiteengesit deur Thomas Aquinas
in sy Summa Theologiae in Fascisme bevestig word,
of is dit slegs etniese haat wat na vore kom?

Dat besittings soos plase, huise, karre en selfs gereedskap
beskou word as slegs in titel die eienaar s’n
maar dat die gemeenskap die reg tot die gebruik daarvan
bo die eienaar het en die met geweld mag afneem.

Dit deur natuurlike wet soos uiteengesit deur Thomas Aquinas
in sy Summa Theologiae in Fascisme bevestig word,
of is dit slegs etniese haat wat na vore kom?

[Verwysings: Sewe Ballades met ‘n Proloog deur W.E.G. Louw. “Goods of some are due to others by the natural law. There is no sin if the poor take the goods of their neighbours. In cases of need, all things are common property, for the need has made it common. Not only is such taking of another’s property not a sin, it is not even crime. It is lawful for a man to succour his own need by means of another’s property by taking either openly or secretly, nor is this properly speaking, theft or robbery. It is not theft, properly speaking to take secretly and use another’s property in a case of extreme need, because that which he takes for the support of his own life becomes his own property by reason of that need. In a case of a like need a man may also take secretly another’s property to succour his neighbour’s need.” Summa Theologiae ii-ii 7th Article by Thomas Aquinas. “There is one type of fear more devastating in its impact than any other: the systematic fear that arises when a state begins to collapse. Ethnic hatred is the result of the terror that arises when legitimate authority disintegrates.” Michael Ignatieff: Blood and Belonging – Croatia and Serbia.]

Hulle het slegs hulle plig gedoen (Twee ballades met ‘n proloog)

I. Proloog: Vier dae van terreur

Die arrestasie was net voor vyf uur
op ‘n Donderdag middag,
met een swart en een wit konstabel
wat by sy werk wag
en toe hy van besigheid af terug kom
het hulle hom geboei, sy liggaam deursoek
en hom in hegtenis geneem.

Die werkgewer het sy familie in kennis gestel,
die insident gesien
as ‘n klad op die maatskappy se naam
en toe was hy amper sy werk kwyt
en die aanklag was gebaseer
op ‘n vals verklaring
gemaak deur die stiefseun
op oorreding van die skoonma

en waar sy kar gesteel is,
diewe in sy gehuurde huis ingebreek het
en hom beroof het van sy TV, DVD-speler
hoëtrou stel en alles waardevol
was geen arrestasie ooit gemaak nie
en die polisie was net besig om hulle werk te doen
en sal jou vertel
dat ‘n ander eenheid
verantwoordelik is vir roof togte
en skakings
terwyl hulle die verantwoordelikheid eindeloos aan stuur.

Drie dae het verstryk voor ‘n borg verhoor
want die swart staatsaanklaer
was daardie Vrydag besig
met ‘n ander saak
in ‘n ander dorp
terwyl hy onskuldig opgesluit was.

Dis geen grap om onskuldig opgesluit te word
in ‘n polisie sel met agtien ander mense
met een toilet,
in die middel van die vertrek,
geen stort,
geen badkamer fasiliteite, stof orals rond
en luise of vlooie wat in jou hare inspring

en dit nie moontlik is om jou oë te sluit
en jy nie weet of jy veilig gaan wees
van ‘n aanval van enige van hulle af nie

verbied om enige sigarette te ontvang
of kos van die buitekant,
bedien te word met drie droë stukkies brood
en koffie sonder suiker vir aandete,
‘n metaal bakkie so groot soos jou hand
met bruin pap, sonder ‘n lepel
en sonder enige suiker of sout daarin
sonder enige eetgerei vir ontbyt
en waar jy met jou kaal hande moet eet
soos ‘n barbaar

waar jy ‘n klein bakkie met pap
met maalvleis ontvang vir middagete
en dit op dieselfde manier
op moet eet

en na vier dae van hierdie tipe behandeling
moet jy voor ‘n landdros verskyn
op ‘n Maandag oggend
sonder skoon klere, sonder om te skeer,
of ‘n kam deur jou hare

hy was gestroop
van menswaardigheid
deur die Suid-Afrikaanse Polisie
en was behandel
soos net nog ‘n derde wêreld burger
gelyk gemaak aan ‘n kultuur
waar om te leef soos ‘n dier
geag word as menslik

en toe na sy vrylating
moes hy al sy hare afsny
of vry van die luise of vlooie te wees,
moes hy ‘n warm bad neem in ontsmettingsmiddel
en nog ‘n stort daarna
en moes hy
sy skoene
en klere in die asblik weggooi.

II. Eer jou vader en moeder

As ‘n gemeenskap het Afrikaners eens respek gehad
vir ouer mense,
en het ouer mense wat nie eens verwant is nie
aangespreek as oom en tannie.

Ek was grootgemaak met die Bybel gebooie
en een van hulle is eer jou vader en moeder.

By Suid-Afrikaanse skole
word stoute kinders nie meer
gedissiplineer deur pak te kry, kinder regte, mense regte
vat deesdae voorrang
bo die leerstellings van die Bybel
en pak gee word as aanranding beskou.

Ek was grootgemaak met die Bybel gebooie
en een van hulle is eer jou vader en moeder.

Een middag terwyl sy stiefpa by die lykhuis werk
het ‘n elfjarige seuntjie
met ‘n tien jaar oue meisie gespeel
van langsaan
en beide het kaal uitgetrek.

Ek was grootgemaak met die Bybel gebooie
en een van hulle is eer jou vader en moeder.

Daardie aand het die meisietjie haar moeder vertel
dat die seuntjie seksueel met haar gekarring het,
die regerings welsyn was gekontak,
die seun is na ‘n kinder kliniek geneem vir evaluasie
waar die seuntjie vertel het dat sy stiefpa
hom seksueel aangerand het.

Ek was grootgemaak met die Bybel gebooie
en een van hulle is eer jou vader en moeder.

III. Slegs besig om hulle plig te doen

Gedurende die verhoor van die massa moordenaars
van die tweede wêreld oorlog
het sommige mense op verhoor gesê
dat hulle slegs hulle plig gedoen het.

Kinder regte is die in ding
en op aandrang van die seuntjie se ouma,
‘n verklaring van die seun,
het die polisie
die stiefpa by sy werk gaan arresteer
wat hy amper verloor het,
want die maatskappy wil nie assosieer met mense
wat seksueel kinders molesteer nie.

Hulle het slegs hulle plig gedoen.

Die polisie het hom gegryp met hulle hande
wat agter in sy broek in gaan
het hom toegesluit op ‘n Donderdag
by die selle van die polisiestasie.

Hulle het slegs hulle plig gedoen.

Die stiefpa is disleksies, werk as ‘n lykbesorger
en verdien ‘n baie klein salaris,
kon nie ‘n ordentlike regsverteenwoordiger bekostig nie
en dit was duidelik dat die staat prokureur
nie eintlik die ding kan doen nie.

Hy het slegs sy plig gedoen.

Die moeder van die stiefpa,
(‘n drie en tagtig jarige pensioenaris)
moes ‘n advokaat kry
vir die borg verhoor
want haar seun is gesien as ‘n gevaar vir die samelewing
en toesluiting in ‘n ordentlike tronk
was oorweeg.

Hulle het slegs hulle plig gedoen.

Die hof het besluit dat die seuntjie
vir ‘n tyd saam met sy ouma moet bly
en sy het die storie
na die plaaslike koerant geneem
en het gesê dat sy en die seuntjie
agter tralies moet wegkruip
in haar woonstel en te bang is
om selfs inkopies te gaan doen
met die stiefpa uit op borgtog

maar die ouma en die seuntjie
was in die plaaslike kroeg gesien,
waar sy besig was om drank te drink
en die kind poel gespeel het.

Die koerant en die ouma
het slegs hulle plig gedoen.

By die hof terwyl die seuntjie se moeder
in die gang wag
(want die saak was in kamera gehou)
het ‘n polisie speurder haar kom vra
waarom sy nog steeds by die stiefpa bly?

Die polisie speurder met die pistool aan sy gordel,
was slegs besig om sy plig te doen.

Gedurende die verhoor wat dae op dae aangehou het
onder kruis verhoor
van die verdedigende prokureur het dit uitgekom
dat die seuntjie se eie pa hom gemolesteer het,
dat die stiefpa heeltemal onskuldig is
en die stiefpa se ma (‘n pensioenaris)
moes meer as sestien duisend rand betaal
in geregtelike fooie
en die hof was jammer vir die arme seuntjie

en die geregtelike stelsel het slegs die plig daarvan gedoen.

In die stad

As kind het ek middae
met kort mou hemp en kortbroek
kaalvoet met ‘n grond pad
huis toe geloop
en die rooibruin sand
my voete gebrand,
maar die lug was helder blou,
ek het lusern van die land geruik,
soms kortpad deur die stoom gesny,
die geroep van voëls was soos musiek
en die hele wêreld het behoort aan my
en in alles kon ek God
se werke sien
en het geweet dat ek
‘n liefdevolle Vader dien.

l’Envoi
Nou loop ek met handgemaakte
leer skoene in ‘n ontwerpers pak
op beton strate
van my motor na die hysbak
en dan op dik matte
tot in my kantoor
en in die agtergrond
kan ek die lug versorger hoor
en iewers het die lewe
sy siel verloor.

Lank, lank gelede was daar twee mense

Lank, lank gelede was daar twee mense (net ek en jy)
en ons het getrou en toe geskei,
tot my berou en my jare was leeg sonder jou
en nooit kon ek jou uit my hart uit kry.

Terwyl ek ‘n student was
het ek vir jou en Shaun gaan besoek
en hy was geklee
in ‘n geel trui en donker groen broek

en jy was verslae deur die lewe gemaak
asof niks meer tot jou kon deurdring
en tog kon ek
‘n glimlag uit jou kry

terwyl hy op sy bal
op en af wieg
en so maklik kon lag.

‘n Proponent wou toe van my weet
of ek nou dubbel wil hoereer
omdat ek nog lief vir jou bly.

Toe wonder ek of hy
dieselfde God as ek eer
en wat sy aller heiligheid
hom leer?

Ek was ook soms onnosel en dom
en ons lewens het tog by mekaar uitgekom
en ons het gegroei en geleer
en ek het ook jou hart gebreek en jou verstom daardeur.

l’Envoi
Tog is jy een wat in my diepste siel in kyk
en weet hoe my gedagtes lyk
en my werklik verstaan
en niemand kan ek met jou vergelyk

en as ek my oë oopmaak
wil ek in joune vaskyk
en met jou in my arms
wil ek aan die slaap raak.

Rivier wandeling

Jy’t in die oog
van daardie wit warm son gekyk
en iets daar gevind
wat met jou siel praat,
in jou hart en gedagtes
het jy ‘n stem gehoor
en gedink aan die Skepper
van die rivier, son en lug
en jy’t jou kar gelaat
aan die kant van die rivier
en in die water ingegaan.

Daardie groot swart hond
was by jou
en dit was net die rivier en son
en jy’t aangeloop
in die water in
oor rotsblokke, gestruikel
oor klippe
kaalvoet en nakend
dwarsdeur poele geloop
en het soos Eva gevoel
en vir ‘n tyd was jy vry
van die laste van die lewe.

Eers het jou hond
vooruit geplas
maar was later
soos ‘n skaduwee aan jou verbind
beskermend, oppassend
met groot sorg,
met wye oop bruin oë
skerp wit tande
en sy’t nie verstaan
waarheen jy gaan nie
maar was meer lief vir jou
as om te bekommer daaroor
of oor kos of hitte.

Partykeer het sy geblaf
en soms gegrom,
maar niemand het dit gewaag
om nader te kom
en terwyl die skaduwees lank uit rek
het jy aangeloop,
reg in die nag in
opgekyk na die helder sterre
en die volmaan gevolg
waar dit groot en geel
rys in daardie donker lug.

l’Envoi
Jy’t die lied van die rivier gehoor
en net aangeloop
die plassing en murmel
oor rotse, oor klip banke
in poele gevang
en die volgende dag
het mense met gesonde verstand
jou gevind en verstandig opgetree
en jou gehelp
en jou hond versorg
en jou voete was deurboor
het blase gehad
en daar was krap merke
op jou bene
en nog vloei die rivier aan
na iewers toe
en nou is jy hier terug.

Tralies

Hy tree die spasie
tussen die tralies af,
trek ‘n zol uit sy poephol
en ‘n vuurhoutjie
lê onder die matras versteek
wat hy teen die sement vloer trek
en die vuurhoutjie vat vlam
en hy teug in ekstase
die dagga walms in.

Netnou gaan iemand hom
in die stort van agter af bespring
en hy probeer dit uit
sy gedagtes kry
en dink aan die Vaseline
waarmee hy sy lyf
blink gaan vryf
en skielik smaak die zol wrang
en soos ‘n dier in ‘n dieretuin
is hy vasgevang en ingehok

waar verveligheid deur sy menswees vreet
en hy tel terwyl hy sy treë afmeet,
doen ‘n paar opstote
en gryns ‘n glimlag uit
soos wat hy dink ‘n helde karakter moet hê

l’Envoi
maar die lus na nog dwelms
is al klaar weer binne hom
en om daaraan vasgeknel te wees
is ‘n ander tronk
waar geen lig ooit inkom
wat van hom ‘n dier maak
wat redeloos optree en enige iets doen
vir die volgende regmakertjie.

Blokhuise is dwarsdeur die land opgeslaan

Blokhuise is dwarsdeur die land opgeslaan,
plase is binne gegaan en afgebrand,
vee en diere is geslag
en kinders en vrouens is aangekeer
en in doods kampe geïnterneer.

Jong seuns is teen wit mure
staande gemaak
en vuurpelotons
is teen hulle opgerig

en ‘n wêreldmag het sy hand
aan hierdie land geslaan
en reusagtig gestaan
teen elke boere man.

l’Envoi
Daardie tyd sal ewig
swart in die geskiedenis wees
as mens van die wandade
van die Britte weet
en die uitroeiing van ‘n volk aanskou
waar vrouens en kinders as teikens sterf
op die bevele van Horatio Herbert Kitchener.

‘n Elegie vir Eugene Terreblanché

Jy is weg sonder ‘n vaarwel
en soos ‘n grootse De Wet
of De La Rey
het jy enkel gestaan
dat jou mense
ook ‘n plekkie in die son
moes hê.

Toe jou manne in Bophuthatswana in ry
was daar angs in my
dat julle nie daar vrede sou kon bring
en dood vir hulle moeite sou kry.

Keer op keer het ek na jou
elektroniese gedigte geluister
oor die veld, die natuur
en God voor wie jy
jou knieë buig
en die prag daarvan
en jou menswees
het in my hart kom lê.

Ek was by kerkplein
toe jy op geloftedag
‘n stukkie uit die Bybel lees
en bid vir jou land, jou mense
en dat God sy hand uitstrek
teen die duister mag
wat hulle menswees ontsê,

maar in jou slaap
is jy in stukke gekap
het ‘n panga-lem
van jou ‘n martelaar gemaak.

Laat duister Afrika juig
en moordenaars tot helde verklaar
en hulleself vir joernaliste
en die wye wêreld openbaar.

Laat mense jou verkeerdelik vertolk
as ‘n strydlustige
wat wrywing wou bring.

l’Envoi
Ek sien ‘n man wat edel is
en sy Here wou dien,
wat sy mense eerste stel

en jou dood ruk deur my
en sny waar dit
die seerste maak
want op ‘n manier
is elke Afrikaner in jou afgebeeld.

Ek sit in ‘n kroeg in sesde straat (‘n antwoord op W.H. Auden)

Ek sit in ‘n kroeg in sesde straat,
met flitsende ligte by die slot masjiene,
mense wat by die poel tafels speel,
die kroegman wat vir iemand se grap glimlag
en nog ‘n koue Hunters Gold bring
en ek is nie bang of onseker
of kleingelowig oor my toekoms
en die wêreld het in hierdie dekade verander

manne wat skuldig is aan misdade
is in die hoogste posisies
vir sommige mense het ‘n politieke party
‘n godsdiens geword,
mense van regoor Afrika
stroom in, vermoor blankes
met meer as drie duisend boere dood
maar ek het geen vrees en vertrou eerder op God

en geen nagraadse ondersoek, of ‘n studie
vanaf Luther tot waar ook al
word benodig om te weet
waarom die regering
wit Afrikaner mans onderdruk, optree
teen mense regte,
werk geleenthede, ekonomiese rykdom reserveer

l’Envoi
en selfs as hierdie betowering bly
as een laaste finale vervloeking
van onheil ontvang wat onheil terugbesorg
en die onskuldiges wat straf ontvang
die monsters van die toekoms word,
selfs as ‘n psigopatiese god in plek is
hou die noodlot, die wil van die skepper God
steeds die toekoms, rig leiers en nasies op,
en bring hulle tot ‘n val.

[Verwysing: September 1, 1939 deur W.H. Auden.]

Here, ek weet dat U selfs in onmoontlikhede op kan tree

God, U het my volk gered
toe ‘n aanslag van duisende Zoeloes
teen minder as vyf honderd met voorlaaiers
by Bloedrivier kom

en toe Kubane met pantsertuig
in divisies optrek onder Russiese beheer
en ‘n oorlog om Afrika los bars
het ons nog vertrou op U,

maar nou is die Afrikaner volk
gebring tot oorheersing
deur ‘n ander kultuur,
wat U nie ag nie
en moor en vat
en ander se lewens en besittings
as hulle eie beskou.

l’Envoi
Here, ek weet dat U selfs
in onmoontlikhede op kan tree
en vra dat U die verbond
van ons voorvaders onthou,

hierdie ongeregtighede raaksien
en dat U in U geregtigheid
hierdie onderdrukking laat verdwyn
en dat die son oor my mense
ook mag skyn.

Spore (in antwoord op A.G. Visser)

God, as ‘n kind het ek gekyk
na die spore wat die voortrekker waens
oor klip banke gesny gelaat het,

waar hulle oor die rante
naby Heidelberg getrek het
in die eens onherbergsame land

op hulle reis na vryheid
weg uit die ongevraagde
Engelse heerskappy

en daardie ingesnyde spore bly by my
en ook die duur prys wat betaal is
om ‘n eie plekkie te hê
waarvan die Britte ons wou ontsê

en nou word ons weer onderdruk,
het ‘n ander hand die sweep wat klap
gaan ons gebuk onder verarming
word ons vertrap

l’Envoi
en bid ek dat U almagtige God
ons behoed; U hand oor ons hou
selfs oor elke menslike gebod

saam met ons spore trap,
elke dag orals saam met ons stap
en dat ons U Goddelike hulp sal kry

oor hierdie ganse land heen
en ons slegs op U sal vertrou
want die strewe om vry te wees
word deur U self verleen.

[Verwysing: Vry! deur A.G. Visser.]




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Pikettie het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Juanri het ‘n nuwe publikasie gemaak