
‘n Resies teen tyd
(Woordtelling : 843)
Oh jinne, mens kan darem die lewe vir jouself bitter moeilik maak! En heeltemal onnodig ook. Meestal het dit 100% te doen met jou gedagtes, maar so min mense verstaan dit. Spreuke 4:23 sê dit immers baie duidelik, “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Dit is interessant dat, nie net die goed wat jy aan ander vertel nie, maar ook aan jouself, letterlik jou hele lewe beïnvloed. Dit is wonderlik dat iets so nietig soos ʼn gedagte jou hele dag kan ophelder, of elke uur soos ʼn lewensvonnis laat voel. Onbewustelik bepaal jy vandag reeds met watter gemak jy toekomstige struikelblokke gaan hanteer.
In die stilligheid het my arme hart nou net soos ʼn klip grond toe geval. Dit is nie moeilik om raak te sien dat daar mense is met wie dit altyd sleg gaan nie. Dit is gewoonlik diegene wat moeilik aanpas en ʼn baie rigiede uitkyk op die lewe het. Dinge is of swart, of wit. Alles of niks. Hulle sal wragtag verby die helder reënboog kyk en eerder kla oor die mildelike reën in ʼn tydperk van groot droogte.
Ek dink aan my liewe vriendin wat altyd oor haar werk kla, vir dekades reeds. Elke keer wonder ek waarom sy aanhou doen wat sy doen en in al die jare nog nie iets anders gevind het om haar mee besig te hou nie. Sekerlik is naaldwerk nie die enigste vakmanskap wat vir jou ‘n paar rand kan inbring nie? Met elke ontmoeting sal sy oor haar werk kla, en elke keer byt ek op my tong sodat my gedagtes nie dalk uit irritasie by my mond sal uitglip nie. Sit sy voor haar masjien en met elke gaatjie wat die naald in die materiaal druk, dink sy aan haar haat vir naaldwerk? Sy moet dit haat anders sou sy dit seker nie so baie opgehaal het nie. En dit is nie asof sy onbekwaam is nie! Inteendeel. Sy is net … ernstig negatief.
Is sy so gebore of het haar lewenspad haar so gemaak? Vir sommige sal selfs ou traumas en tragedies hul toekoms heeltemal oorskadu, vir ander is dit ‘n trappie om jouself bo jou swaarkry te lig. Dankbaarheid speel dus ʼn baie groter rol in jou gevoel van geluk as wat mens met die eerste oogopslag mag besef.
My pa het gereken hy was “so gebore en so laat staan”. Genadetjie tog. Elke keer wat ek dit gehoor het, wou ek my kop teen die muur gaan kap. Ek is so dankbaar dat die wetenskap meer onlangs bewys het dat die mens se brein die hele tyd nuwe paaie bou, eerder as om te dink dat g’n mens ‘n invloed op sy toekoms het nie. Enigeen kan dus ou gewoontes afleer en leer hoe om anders te dink, maak nie saak hoe oud jy is nie. Die enigste voorwaarde is die wil om dit te doen.
Maar hoeveel mense is bereid om aan hulself te werk en ʼn nuwe denkwyse aan te leer? Of sal ek eers vra, hoeveel mense het genoegsame insig in hul eie mentaliteit om agter te kom dat hulle grootliks negatief is? Is dit dan so moeilik om jou seëninge te tel, eerder as om elke dag al die redes vir die toestand van jou lewe oor en oor te herhaal? Niks verander tensy mens doelgerig iets daaraan doen nie.
Dit het my eendag opgeval dat die lewe werklik kort is, veral in die lig van die ewigheid. Selfs ʼn honderd jaar kan soms nie genoeg tyd wees om als te doen wat jy nog graag wou doen nie. Die enigste kuur vir daardie vlietende lewe is om seker te maak dat jy elke dag geniet, want vandag is die enigste dag wat jy tot jou beskikking het. Gister is verby en vir baie is daar nie ʼn dag van more nie. Dus, hoe meer mens kla, hoe korter is die tyd om werklik gelukkig te wees.
Maar voel dit ook vir jou asof tyd jaar na jaar al hoe vinniger verbygaan? Ek sweer die dae word al hoe korter. Dalk het ek net meer om te doen en minder tyd om doelloos na die horlosie te staar. Wanneer mens eers werklik besef dat jy eintlik net vir ʼn kort rukkie op die aarde is, het dit ʼn manier om kleiner probleme in ʼn heel ander lig te stel. Jy leer om jou gevegte met groter sorg te kies. Miskien leer mens net om elke dag meer te waardeer.
Eendag, wanneer ek op my sterfbed lê, wil ek met dankbaarheid kan terugkyk na ʼn lewe goed geleef. Ek wil met sekerheid weet dat ek meer tyd gespandeer het aan alles wat my hartsnare geroer het, en nie net stroomop geswem het en die lewe vir myself baie moeilik gemaak het nie. Ek bowenal, ek wil nooit onthou word as daai antie wat oor alles gekla het nie. Die lewe is toevallig net so bitter en moeilik soos die stories wat jy vir jouself vertel.
©Susann Moolman
2 Kommentare
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Ek het dit geniet, dankie.