Jongste aktiwiteit:

Vasgevang in die skaduwee van tyd

Vasgevang in die skaduwee van tyd   

Ek bevind myself in ‘n donker, koue en baie beknopte ondergrondse grot. Die plafon is só laag dat ek gebukkend voortbeur in die halfdonker ruimte met die gids voor my en manlief agterna. Ons beweeg op ‘n terrein wat die voetstappe van duisende mense se pynlike geskiedenis dra. Deur ‘n baie smal opening in die klipmuur, val ‘n helder sonstraal direk op ‘n dik ketting en ysterboeie. ‘n Spinnekop het ‘n insek in sy web vasgevang bokant die ysterboeie en hoe ookal die insek homself verset … hy is gevang en geboei.  

  Die gids herinner ons daaraan dat sodra slawegevangenis in Zanzibar aangekom het, hulle in groot getalle in hierdie benoude ruimte ondergronds opgesluit is. Indien hulle die omstandighede kon oorleef vir meer as drie dae, was hulle gereed om verkoop te word by die slawemark in Mkunazinistraat in Stone Town. Baie het gesterf weens uitputting en versmoring, sonder kos en water. 

  Slegs enkele minute in die ondergrondse grot laat my angstig smag na vars lug en sonskyn op my arms. 

  Vir die slawe wat oorleef het, het uitlating uit die grot, selfs groter ellende voorspel. 

  Die slawe is uitgelei na gelang van grootte, vasgebind aan ‘n Jojobaboom en dan gegesel. Diesulkes wat die meeste pyn en marteling kon verduur sonder om te skreeu of huil, is dan teen hoër pryse verkoop.Ouer slawe was minder gewild, want hulle leeftyd sou korter wees. Buiten ysterringe om die nekke van slawe, was soms ook afkapte boomstompe in v-vorm op die skouers van die slaaf aangebring en om die lyf geketting. 

  Slawehandel was reeds teen die 7de eeu deur die Arabiere gevestig tot só ‘n mate dat een derde van van die vroeëstate van Islam in die westelike Soedan, slawe was. Slawehandel is ook voortgedryf deur Afrika leiers wat oorlog gemaak het en dan van die naburige stamme as slawe gevang en verkoop het. 

  Die verhaal van die vrou wat by die hof gaan kla het dat sy wederregtelik as slaaf verkoop is en ná die nodige bewyse vrygelaat is, het my aangegryp. Die aangeklaagde is veertig roepees beboet en twintig roepees is aan die vrou oorhandig as vergoeding. Sy is ná die uitspraak gevra wat sy met die twintig roepees gaan doen. “Ek gaan vir my ‘n slaaf koop”, was haar antwoord. 

  Sal ons óóit waarlik die psige van die mensdom begryp? 

  Slawehandel is op 5 Junie 1873 afgelas in Zanzibar.  

  Ons besoek die slawemonument wat in 1998 deur Clara Sornas ontwerp is met die oorspronklike kettings nog om die standbeelde se nekke. 

  Vandag staan daar ‘n indrukwekkende katedraal op die plek waar slawe onder die Jojojaboom gemartel en verkwansel was. Die bevrydende invloed van dr. David Livingstone se sendingwerk, ekspedisies en pleidooie vir die verbanning van slawehandel. 

  Aangedaan deur emosie wat hierdie geskiedenis by ons ontketen, kniel ons saam by die altaar in dié katedraal. Ek dank God vir genade, vir vryheid en bid vir menslikheid, regverdigheid en vergiffenis. 

Aniki Joseph 

Prosa  




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed