Jongste aktiwiteit:

Skaduwee van tyd

Skaduwee van tyd 

“Tyd is ‘n faktor, nie ‘n lewensfase nie!”, vermaan die krieketafrigter grimmig. 

 Die seuns versnel die pas en wen die wedstryd. 

 Daar staan geskryf dat elke ding gemaak is om in ‘n bepaalde tyd te pas. Ook dat die mens ‘n besef gegee is van die onbepaalde tyd. Daar is inderdaad ‘n tyd om gebore te word, ook ‘n tyd om te sterf. HAT beskryf tyd onder andere as die verybgaan en voortgaan van al die dae, maande en jare, en al die gebeurtenisse wat daarmee saamhang, as geheel beskou. Hierdie spesifieke tyd word agterna noukeurig genotuleer op geboortesertifikate, mediese verslae, in geslagsregisters, in kennisgewings, op grafstene en in die media. Dit word aangehaal en oor-en-oor gekommunikeer. Deur geslagte heen. Word die begin, die bladsye tussen-in en die einde van mense se stories op aarde. 

 Só sou my ma altyd die eerste persoon wees om my op my verjaarsdag geluk te wens met dieselfde opmerking: “Ja, my kind en jy was toe presies om twee minute na middernag gebore op die kortste dag en die langste nag van ‘n bitter koue winter daardie jaar.” Ouderdom is ‘n kwessie van tyd. “Ek is nie 84 jaar oud nie,” korrigeer die pasiënt die klerk tydens sy opname in die hospitaal. “Ek is 84 jaar, twee maande, twee weke en drie dae oud.” Hy is reg daaroor. Tyd is inderdaad ‘n faktor. 

Vra maar vir die noodpersoneel op ‘n ongelukstoneel of in die oomblikke onderweg na die hospitaal met ‘n pasiënt wat veg vir oorlewing na ‘n hartaanval. Of vra iemand wat net-net té laat was om ‘n geliefde vir oulaas te groet. Die skoonmaker wat tien minute later as gewoonlik haar werkgewer se huis verlaat en vir ‘n uur langer by die taxistaanplek sal moet wag vir vervoer. 

Tyd was van kardinale belang op die Sondagoggend van 3 Desember 1967 toe die skenkerhart ontvang was in die teater van Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad. Daarna was die skenkerhart in die oop borsholte van Washkansky geplaas. Die delikate prosedure waartydens die hartkamers, aorta en pulmonêre arteries aan die ontvanger se liggaam gekoppel is, is die opvolgende proses. Die skenkerhart het presies om 05:15 een geword met die ontvanger se hart. Teen 05:43 is die oorplanting voltooi. Teen presies 05:52 op daardie geskiedkundige Sondagoggend het Denise Darval se hart begin klop in die borskas van Washkansky. Die tyd tussen 03:01 en 05:52 was waarskynlik die langste tyd in die lewens van al die personeel betrokke. Dr. Christiaan Barnard en sy formidabele span het pas die wêreld eerste suksesvolle mens-tot-mens hartoorplanting voltooi!  

  Die waarde van tyd staan soms ook onverwags geskryf oor ons harte. Soos die nota en ‘n blom op ‘n ma se kussing in ‘n bekende seunshandskrif. “Dankie vir jou tyd, Ma. Dit is iets wat ek nooit vir jou kan vervang nie.” 

Mag tyd vir ons elkeen beskore wees om harte van klip met harte van liefde te vervang. 

 

Aniki Joseph  

Pretoria 

078119696 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed