Jongste aktiwiteit:

Isha
vir

Isha

Lees meer oor Isha

JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK

3.Klipnostalgie 

Vyf en twintig jaar gelede loop ek en my peetkind Michelle, langs die see. Ek het ʼn ding vir klippe en daar sien ons die pragtigste pienkerige klip lê wat sê: Tel my op, ek’s joune…

Ek het uitgevind dat die ‘klip’ eintlik ʼn sandsteenrots is en daar en dan besluit ek dit moet oopgebreek word. Dalk is daar ʼn fossiel in. Dit gebeur met ander mense, hoekom nie met my nie?! So ʼn week gelede het my argeologiese soektog begin. Ek het egter gou agtergekom, dat wanneer ek sê ek is besig om ʼn rots op te breek, mense my snaaks aankyk. Ek dink ‘rots’ in hulle gedagtegang is soos ʼn berg en hulle ‘sien’ my teen die hange van Tafelberg kappend met ʼn hammer en beitel in die hand. So, ek praat van nou af liewer net van ʼn klip.

Die klip is nogal groot en het ʼn hobbel aan die bokant. Dis hoekom ek al vyf en twintig jaar lank wonder wat word daar binne weg gesteek. Dis asof die klip bedek is met sy eie masker. Ek begin kap met my hamer en beitel; nie teen Tafelberg se hang nie, maar hier op my eie stoep. Ek begin kap waar daar slootjies en gatjies is. Die masker kom soos klein stukkies vel af. Een goeie kap breek ʼn handgrootte af. En dis hier waar my reis begin.

Ek spoel die afbreeksel met water af en beleef dan ʼn onverwagte heilige oomblik. Die kleure binne laat my voel of ek deel van die uitspansel in Genesis is. Die groewe is kleure van bruin, blou, groen met  hier en daar ʼn klein wit kristalletjie. Sand, die einste sand waarop die Bybel sê ons nie ons huis moet bou nie, het ʼn vaste rots geword. Waarna kyk ek? Honderde, duisende, miljoene jare gelede? Ek besef skielik dit wat ek as klip gesien het eintlik ʼn tydkapsule is; my vingers raak aan die Skepping; aan skaduwees van tyd. Die kleurgroewe loop horisontaal soos treinspore; so asof daar iewers weer iewers ʼn herontmoeting is. Dit alles onder ʼn ondeursigtige masker van tyd.

Die ervaring het oor en oor in my gedagtes afgespeel, so asof dit my iets wil vertel. Kan ʼn klip praat? Wel, toe Jesus Jerusalem binne gery het op die donkie en die mense ‘Hosanna’ geskreeu het en palmtakke oor die pad gegooi het, het die Fariseërs gekla oor die geraas. Jesus het geantwoord dat as Sy volgelinge Hom nie prys nie, die klippe dit sal doen. Wat wil hierdie klip vir mý sê? Iets oor maskers en die begrip van tyd?

Die tydkapsule in my hand laat dink my aan Bybelkaarte waarop die migrasie van mense soos Abraham en Moses met kleurpen aangedui word. Wel, dit wat ek voor my sien is ook migrasiepatrone. Die wit kristalletjies laat my dink aan die waterfonteine wat God vir hierdie mense voorsien het in hulle tog deur die Beloofde land. Wie weet waar hierdie klip oral was en onder watter omstandighede, voor hy sy finale bestemming hier by my bereik het.

In sy studies verwys Carl Jung baie na die maskers wat ons dra, ons beskermingsmeganismes teen die lewensstorms wat in en buite ons woed. Hierdie maskers word van klein tyd af gevorm deur alles, die goed en die kwaad, wat ons lewenspad gelei het. So met die verloop van tyd het jy geleer watter masker aanvaarbaar is vir die mense en omstandighede om jou. Ons dra die smile masker die meeste, want frons jy, wil mense weet wat fout is. En as jy soos ek is, smile ek eerder want ek pes dit om myself aan iemand te verduidelik. Jung verwys ook na die skaduwee wat jou nooit verlaat nie as ervarings uit jou verlede wat jou bewussyn wil ontken of onderdruk. Die uitkoms van die skaduwee kan darem ook positiewe goed, soos kreatiwiteit en uithouvermoë uit bring. Hang seker maar af hoeveel mag jy vir die masker en skaduwee gee. Een filosoof het sovêr gegaan om te sê dat dit die einste skaduwee van jou verlede is wat die toutjies agter jou masker trek en jou maak wat jy kies om te wees.

Dis hoofsaaklik omstandighede oor ʼn baie lang tydperk wat rotse en klippe se vorming beïnvloed. Dit wat in die omgewing beskikbaar was, hetsy dooie plant- of dieremateriaal, het op ʼn plek gaan lê en met die tyd lagies gevorm. Neerleggings van verskillende materiale word blykbaar kruislaminering genoem. Die nuwe neerleggings oefen kwaai druk op die vorige lagies uit en maak hulle lekker sterk en hard. Die klippe of rotse bly nie gestand op een plek nie en rol of spoel volgens die druk uit die omgewing. Sandsteenrots word hoofsaaklik in seewater of in ʼn woestyn aangetref. Seker was ons klip ʼn skulpie wat uitgespoel het, lagies sand en ander materiaal om hom laat vorm het, terug getrek is in die see en met in-en-uitspoel, in-en-uitspoel oor duisende jare groter en groter geword het. Dit klink vir my soos ʼn lekker lewe, behalwe as jy in die Kaapse water gevorm word. Mens kry mos sulke droë mense wat net oor swaarkry kan praat. Ek dink hulle is in die woestyn gevorm.

Ek het eendag ʼn artikel gelees oor navorsing wat gedoen is oor die invloed wat huisomstandighede op die toekoms van kinders het. Twee broers het uit haglike omstandighede gekom. Een het in die gevangenis beland; die ander een het ʼn suksesvolle dokter geword. Die skrywer van die artikel het vir albei dieselfde vraag gevra: “Hoe het jy in dié posisie beland?” Altwee het dieselfde geantwoord: “Gaan kyk na my huisomstandighede waarin ek opgegroei het, dan sal jy verstaan hoekom ek is wat ek is.” So, jy kan ʼn spoelklippie bly omdat jy nie die omstandighede van jou verlede kan of wil ‘face’ nie, of jy kan die beste van alles maak en ʼn sterkgevormde rots word.

Ek het gelees dat jy die klip vir ʼn paar dae in asyn moet los. Die suur van die asyn los blykbaar die kalmiet, wat ek dink is ʼn kalkagtige neersetting is, tussen die groewe op. Dit het my aan COVID laat dink. COVID was vir ons almal sleg gewees, maar dit was ook goed. Soos die suur die groewe duideliker maak en ek die omhulsel van die klip probeer afkap, het die COVID inperking met baie van ons dieselfde gedoen. Die skaduwee uit die verlede wat ons volg was minder sigbaar en omdat jy nie in kontak met ander mense was nie, kon baie van ons die masker van tyd (en die dramasker) afhaal en tyd spandeer met jou eie JY! Jy kon ‘smile’ as jy wil, frons, huil en jy hoef aan niemand te verduidelik wat jy voel of wat jy dink nie.

Ek het nog baie om te doen. Ek kap en kap, maar die klip laat hom nie manipuleer nie. Hy voel ook maar seker ontbloot soos ons sonder ons maskers. Wel ek moet doen wat ek moet doen om by die fossiel, die waarheid, uit te kom. Ek sal ʼn ‘grinder’ moet kry…

My lyk lê uitgespoel tussen wier en gras.

Op al die plekke waar ons eenmaal was

-Ingrid Jonker

Isha

 

AUGUSTUS 2025 – LINKSHSNDIGE PROJEK

1.In die land van linkshandigheid is Leonard koning

Kan ons die man verstaan wat die heelal probeer verstaan het?  Wie se gedagtegang die tegnologie met honderde jare vooruit was?  Leonardo se spieëlskrif tydens die Renaissance: Ek eet nie diere nie, ek bestudeer hulle: ‘elluh reebutsed ke, ein ereib ein tee kE’.

Boekkennis is tydelik, maar ewigheidservaring spruit uit waarneming, eksperimentering, kyk en luister.  Leonardo is in die herlewingstyd as buite-egtelike kind gebore.  Volgens oorlewering was sy ma ʼn vyftienjarige slavin wat vir ʼn tydperk in die dorpie Vinci naburig aan Florence in Italië, vir ʼn invloedryke man gewerk het. Vandaar die naam Leonardo da Vinci: Leonardo van Vinci.

Leonardo is nie toegelaat om formeel skool te gaan nie.  Hy was buite-egtelik; ʼn vernederingswaardige skandvlek in armoede gebore; dit was soveel makliker om sy bestaan te ontken.  Hy het wel geleer skryf en somme maak en in die skool van die natuur het hy deur sy nuuskierige, waarnemende geaardheid ontdek hoe die komponente van lewe die onbreekbare ineenskakeling van alles in die heelal is.  In sy notaboekie het hy heeltyd notas gemaak en antwoorde probeer vind op die vrae, die baie vrae: hoe vlieg voëls, hoekom val ʼn veer ritmies horisontaal grond toe, hoe vloei water en hoe word erosie veroorsaak, hoekom dryf stukkies hout en blare op water maar ʼn klip sink, hoekom en hoe beïnvloed lig en skaduwees mekaar, hoekom skakel al die kleure van die natuur by mekaar in, watse emosie veroorsaak ʼn glimlag, hoe werk die menslike masjien, hoe gebruik miere blaartjies en stokkies om ʼn stroompie water oor te steek?  Langs elke waarneming is daar ʼn skets.  Die notas wat hy met die geïnkte pouveer skryf frustreer hom.  Hy is linkshandig en om van links na regs te skryf, laat smeer die ink op sy hand en die papier. Geïnspireer deur sy hartstogtelike soek na antwoorde, besluit hy om sy omstandighede te laat aanpas by dit wat hý kan doen.  Van nou af sal hy van regs na links skryf.  Die ink smeer nie meer nie en mense verstaan nie wat hy skryf nie.

Sy pa, die heer van Vinci, het hom na jare gevind, sy kunsvermoë besef en hom as veertienjarige ingeskryf by ʼn kunsskool in Florence.  Hier leer hy die basis van chemie: hoe om verf te meng, agtergrondoppervlaktes voor te berei en later word hy ook ʼn assistent in meesterswerke. Leonardo leer van alles baie, maar iets ontbreek: daar’s nie beweging in die skilderye nie.  Daar móet beweging wees; beweging is léwe.  Wat gebeur binne die liggaam? Hy weet hy kan die vraag slegs antwoord deur self te sien.

Die oopsny van menslike oorskot bekend as kadawers was tot laat in die 1800’s onwettig, maar Leonardo kry sy kans en begin saam met ʼn mediese dokter as assistent werk in geheime pakkamers wat se vensters toegeverf is, met kerslig of olielampe as die enigste lig.  Deur die oopsny van kadawers kon hy sketse en notas maak oor die hoe die spiere en tendons se vashegting aan die bene beweging veroorsaak. Hy kon die werking van die hart beter verstaan; hoe die hartkleppe se oop- en toegaan die bloed in slagare, are en haarvaatjies deur die liggaam forseer.  Hy kon sien hoe die longe aan are en slagare verbind is; die verbindingsraamwerk van die brein met die senuweestelsel. Hy kon die werking van die skedel met bewegende kakebeen en spiere sien en wat gebeur wanneer jy glimlag. Alles word vasgelê in sy notaboekies en daarom is die verhoudings van ledemate so goed in sy skilderye vasgevang.  ‘A mind too fast for the world to catch up’.

Dit wat hy geskets en opgeteken het, het hy later gebruik as illustrasie vir praktiese voorstellings oor hoe die mens uit die natuur kan leer.  Sy waarneming van voëls en vlermuise in vlug, het hom ʼn visioen van sweeftuie en helikopters laat sien.  In opdrag van Koning Francis, het hy ʼn meganiese leeu ontwerp wat kon loop.  Hy het inspirasie van ʼn skilpad gekry om ʼn gepantserde militêre tenk te ontwerp.  Deur miere en die beweging van water dop te hou, kon hy sien hoe ʼn brug oor ʼn rivier  gebou kan word. Die werking van spiere om beweging te veroorsaak kon hy meganies in sy sketse vasvang.  Die natuur het hom alles wat hy weet en gedoen het geleer en soos hyself gesê het “Wysheid is die dogter van ondervinding”.

In sy skilderye het hy die sagte belyning uit die natuur vervolmaak.  Kleure moét in mekaar vloei; alles in die lewe vorm ʼn eenheid.  Hierdie tegniek staan bekend as ‘sfumato’ wat ‘deinserig’ of ‘mistig’ beteken.  Dit wat hy geleer het uit die kontras tussen lig en skaduwee in die natuur en hoe lig buig, kon die droom effek veroorsaak.

Of hy ʼn liefdeslewe gehad het, weet niemand verseker nie. In sy notaboekies word niks oor liefde genoem nie, maar daar is wel filosofie en digkuns in ʼn mindere mate ter sprake.  Hy kon die werking van masjiene verstaan wat beweging veroorsaak, maar nie die psige en emosies van die mens nie en dit wat hy nie kon uitredeneer nie, kon hy nie vertrou nie.  Sy emosionele onsekerheid word goed uitgebeeld in ‘Mona Lisa’ se glimlag.

In sy sestigs begin hy voel of sy hande nie meer na sy brein luister nie.  ʼn Beroerteaanval het sy hande lam gelê en hy is oorlede op die ouderdom van 67.  Die ironie is dat Leonardo da Vinci wat as kind verwerp is, wie die naam van ʼn dorpie moes dra die naam geword het wat verewig  voortbestaan.  Hy is in armoede sonder hoop gebore, maar het gesterf in ʼn huis wat Koning Francis vir hom laat bou het langs sy paleis in Frankryk.  Sy lewe nes sy skryfwerk, is ʼn spieëlbeeld van die moontlikhede in elke mens se lewe; die weerkaatsing van skoonheid en waarheid.  ʼn Siel wat vry is om te wonder, kan wonderwerke doen.

Ek het my nooit aan linkshandigheid of regshandigheid gesteur nie, maar ek het begin wonder oor die verband tussen kreatiwiteit en linkshandigheid.  Baie kuns leermeesters beweer jou regterbrein is verantwoordelik vir kreatiwiteit. Biologie leer dat jou regterbrein die linkerkant van jou liggaam beheer.  Die ongewone werking van die brein gee vir desperate linkshandige mense vaardighede wat regshandige mense nie het nie.  Michelangelo, Raphael, Vincent van Gogh en Mozart is bekende linkshandiges in die kunste en in die wetenskap en geskiedenis word Julius Caesar, Alexander the Great, Napoleon en Albert Einstein in dieselfde raamwerk genoem.  In die Bybel in Rigters, word die vaardigheid van linkshandige krygers besing.  Ehud uit die stam van Benjamin was ʼn behendige krygsman, wat saam met 700 linkshandige slingergooiers Israel uit die hand van die Moabiete op die walle van die Jordaanrivier verlos het.

“Nature is the source of all true knowledge. She has her own laws, she has no effect without cause nor invention without necessity” – Leonardo da Vinci

Isha

 

NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK

1.Die onderhoud

Frankryk 1838. Dis asof niemand meer kan onthou hoe vrede klink nie. Daar is heeltyd proteste, skreeuende betogers en rookdamp. Ek wonder of die betogers self weet waaroor hulle betoog; hoeveel van hulle kan met begrip lees? Koning Charles X het mos nou afstand gedoen van die troon. “Dis asof elke Charles wat koning word, verdoemenis bring”, dink ek by myself “soos die Engelse Koning Charles 11 wat destyds met die pandemie gevlug het en in sy Oxfordpaleis gaan bly het terwyl die lyke en rotte die strate van London plaveisel het”. Ek hou van lees en lees baie, letterlik alles waarop ek my vingers kan lê.

Ek verwag die joernalis van die “La Gazette”, Pierre de Franco enige oomblik. Introvert wat ek is, hou ek nie van onderhoude nie, maar kennis is ons enigste gereedskap vir oorlewing; om brûe te bou tussen verskille kan ons mekaar beter verstaan. As die oproerige skares dalk meer geweet het, sou die een nie harder as die volgende een probeer skreeu het nie.

Dan klop iemand. Ek strek my kierie uit en maak die deur oop. “Pierre de Franco”, hoor ek hom sê”. “Louis”, antwoord ek en gee my hand. “Kom gerus binne”. Ek voel sy oë op my elke beweging, maar ek is al gewoond daaraan. Lastige oë en lastige vrae. Ons praat oor die weer, die betogers, die hond, die koning… “Wat is dit met die man”, wonder ek. “Dis asof hy te skaam of bang is om vrae te vra”.

“Louis”, begin hy stotterend. “Waar het alles begin?”. Ek weet dis nie wat hy WOU vra nie; ek verstaan hy weet net nie HOE nie. Ek antwoord laggend: “Hoe ek blind geraak het?”. Hy gee so effe-effe versigtige laggie wat vir my wys dat die ‘oogklappe’ nou af is.

“Die begin… ek onthou nie veel nie, maar my ma het my alles vertel. My pa was ʼn leerhandelaar. Ek het hom op driejarige ouderdom gaan ‘help’ in die stoor. Ek het probeer om ʼn groot dik naald deur die stuk leer te steek, toe my hand gly en die naald in my regteroog beland. My ma het ʼn skoon lap opgesit en ʼn verband om my kop gedraai. Eers die volgende dag kon ons ʼn dokter sien”. Ek bly aspris stil en kan voel hoe die spanning vir die volgende vraag deur sy are bruis. “En toe?”, is al wat die gesoute joernalis uitkry. “Infeksie het reeds begin versprei, ook na my linkeroog. Niemand kon iets doen nie”.

“Maar hoe het dit gevoel om skielik…blind…te….wees?” vra hy versigtig. “My ma sê ek het net aanhou vra hoekom dit nou altyd donker is. Ek onthou niks hiervan nie. Dis vir my asof dit altyd donker was; ek kan nie onthou hoe lig lyk nie. Ontspan, Kêrel! Ek is net so normaal soos jy. Ek mis nie lig nie want ek ken dit nie. Hierie is my lewe” en ek lig my kierie na bo.

“Maar hoe weet jy waar om te loop?”, vra hy. Elke vraag klink onseker. Ek staan op en stap sonder my kierie en sonder huiwering na die traporrel in die hoek. My been stamp teen die stoeltjie. Ek lig die deksel, vou die klawerlap netjies en sit dit bo op die orrel neer. My vingers gly oor die klawers en ek hoor hoe die musiek deur die vertrek vloei en onbekende lig in die bekende donker bring. Ek hoor hom snakkend na asem vra: “Hoe, hoe doen jy, weet jy waar alles is?” Ek lag: “Nes jy dit weet. Ons ‘sien’ deur ons ander sintuie; ons het ook prentjies in ons koppe, al verskil dit met joune. Ons vorm prentjies met dit wat ons het…”

“Vertel my en ons lesers hoe dit gebeur het dat jy die leesstelsel vir b..b..blindes ontwikkel het”. “Wel, soos jy weet het my pa artikels uit leer vervaardig. Skoene vir die skoennood, belde vir broekophou. My ma het groente begin plant toe die opstande begin, want die boere kon nie by die mark aflewer nie. Dis waar ek geleer het om die lewe vir myself makliker te maak en nie vir ander mense te wag om dit te doen nie. Ek het begin skoolgaan by die Nasionale Instituut vir blindes in Parys toe ek tien jaar oud was. Maar oeee, die leessisteem wat ons moes aanleer was stadig en baie moeilik. Ek weet dat ons blindes beter kan hoor en beter met ons vingers kan voel. Maar die eintlike idee het ek by Charles Barbier gekry. Hy het ʼn nagskrif vir sy militêre troepe ontwikkel om belangrike boodskappe in die donker te kan lees. Dié stelsel was geskoei op ʼn 12-punt sisteem wat jy ook so voel-voel kon lees. Ek dink die kêrel was briljant, want jy kan mos nie vir jou vyande met lampe en kerse adverteer waar jy is nie? Hierdie stelsel het my so geïnspireer dat ek as vyftienjarige begin werk het aan die verfyning van Barbier se uitvindsel na ʼn sespunt stelsel toe. Die sisteem is vyf jaar later as die eerste Braillkode gepubliseer. Alles te danke aan Barbier. Die uitstaankolletjies van die alfabet laat ons lees en ‘sien’. “Maar hoe…?”, vra die joernalis. Die antwoord kom uit my hart, dáár waar niemand kan sien nie. “Geloof, Meneer de Franco. Geloof! My ma het altyd vir my uit ons ‘Bible de familie’ voorgelees. Sy het my elke dag herinner dat geloof iets is wat jy nie kan sien nie, maar dit bestaan omdat God bestaan. Sy het menigmaal vir my gesê dat ek met ʼn rede blind is; dat God my sal gebruik om lig in die donker te bring! Dis hoekom jy kan weet Meneer de Franco; die man met die kierie hier voor jou, glo en getuig in die krag van ons onsienbare Vader!”

“Braille gee ons kennis, en kennis is mag! Kennis is ons enigste hoop om as gelykes behandel te word”. Ek gaan nadenkend verder: “Mense vermy mos ‘gebreke’ – hulle kies om gesprekke om jou te bou in plaas van om mét jou te praat. Hulle sê ons oë lyk dood. Dis hoekom ek die donkerbril dra, my ‘des lunettes de soleil’. As ons mekaar net as gelykes wil behandel en aanvaar… Aanvaar wat jy het, en doen die beste daarmee.”

“Au revoir, Meneer Braille, wat ʼn voorreg”, sê hy toe ons groet. Ek wag tot ek sy voetstappe naby die hekkie hoor voor ek uitroep: “Pasop vir die klip!”

Ek gaan sit in my leerstoel en speel glimlaggend met my sienende kierie…

 

Isha

 

JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN PROJEK

3.Briefie vir Stienie 2

Liewe Stienie

Ja, die jaar het met ʼn ‘boem’ begin. Ek hardloop nou al dae lank latrine toe en terug. Weet nie waar ek die kiem opgetel het nie; ek drink maar ginger poeier in lou water wat darem help vir die krampe. Jy weet die dokters het darem nou regtig duur geword. Ek en Hans praat die annerdag; ons dink die doktertjies begin maar hulle geldjies bymekaar kry vir wanner die nuwe medical aid vir almal begin. Stienie, ek het so baie om jou te vertel. So baie goete het gebeur vandat jy daar by Leanatjie gaan bly het. Ai ek hoop daai heuppotjie word gou gesond dat jy kan terugkom.

Ou misses Nienaber! Ai Stienie, net hier skuins na Krismis kom twee seuns wat met hulle nuwe krismis sokkerbolle in die straat skop, hier by ons ingestorm en skreeu: “Antie! Antie! Kom gou, ou antie Nienaber het langs haar huis geval!” Ek en Hans storm hier uit met Bruce en Doreentjie kort agter ons. En daar lê die ou misses; bleek en amper sonder beweging. Hans gooi die sleutels van die garage vir Bruce en skreeu: “Loop start die Cortina! Die antie het hulp nodig!” Wat Bruce en Doreentjie gedoen het om die Cortina te jumpstart weet ek nie, maar hulle kom ref-ref daar aangery en terwyl die kar nog sluk-sluk het ons die ou misses op die agterplek gelaai en daar gaat hulle met haar. Oeee Stienie, ek en Doreentjie het net dadelik begin bid. Maar twee dae later het die nursie gebel om te sê dis verby…

Maar laat ek jou vertel wat op die new-years party by Bruce se pub gebeur het. Ag Stienie, sorry lat ek so deurmekaar praat, maar jy weet op ons ouderdom moet mens dadelik jou sê sê anners vergeet jy wat jy wil sê. Anyway, ek trek toe my mooi pienk sarie aan en met nogals high heels en all, maar Stienie, die high heels is amper soos om op daai balke in die LO klas op skool te loop. Bruce het heelaand gesing. Ai die kind sing so mooi; tot vir Hans amper in trane gehad met ʼn ou Jim Reeves song. Hier teen elfuur se kant maak Bruce die aankondiging: “Mense, Michael Jackson het die ‘moonwalk’ gedoen, maar niemand kan die ‘penguin walk’ doen soos antie Sarie nie! Antie Sarie, kom wys ons hoe jy dit doen!” Ai Stienie, daa gaat ek toe op die verhoog, high heels en all. Ek probeer toe ook maar so paar moves maak, maar ek swik en val dat jy net pienk sarie sien. Die mense lag laat dit lyk of hulle bene wil swik toe hulle opstaan om hande te klap. Ek reken hulle dag maar die val is deel van die show.

Die dag na ou misses Nienaber se funeral is haar kinders hier om haar goedjies op te pak. Stienie, jy sal nie glo wat ek jou nou vertel nie. Toe ons weer sien, stop ʼn groen karretjie met ʼn Venter trailer hier voor die huis en wie sal ons sien? Liela en haar man! Sak en pak terug van Orania, maar hulle het nêrens om te bly nie. Hulle vertel hulle het in Orania ʼn take-away kafee begin, maar dit was moeilik, want hulle moes die kos maak, self bedien en self skottelgoed en vloere was, want daars nie ekstra hulp in Orania nie. Die stress het te veel geword vir Liela se bors en hullet toe maar besluit om terug te kom na hulle roots toe. Hullet gedink om daar by ou misses Nienaber te gaan bly totdat hier ʼn huis oopgaan. Ai Stienie, maar hét ons almal saam gehuil toe ons hulle vertel van die ou misses! Bruce is toe hier weg, die kind wys mos nie sy hartseer nie, maar kom toe terug met ʼn blikkie koffie, melk en suiker. Toes hy weer hier weg en kom so uur of wat later terug met die goeie nuus: “Antie Liela, Oom Piet, misses Nienaber se kinders sê julle kan haar huis huur teen ʼn baie billike prys. Hulle pak net haar privaat goedjies, maar los al die meubels vir julle. Die enigste voorwaarde is dat julle self die huis en tuin sal onderhou. Die dak wat lek, verf van die huis, gras sny…” Ai Stienie, toe loop die trane omtrent maar nou uit blydskap en dankbaarheid. Die Here sien en Hy sorg vir ons Stienie. Dit laat my nou dink. Ek het altyd toe Doreentjie op skool was, haar gedigteboek gelees en daar was die gedig van ʼn Adam something waar hy praat van die dice wat vir ons verkeerd geval het. En kyk nou net hoe die Here die dice weer vir Liela en Piet reg draai!

Doreentjie sê ek klink kommin met die mixery van my taal. Sy en Bruce koop toe vir my ʼn woordeboek vir Krismis. Die kind werk mos in enigiets wat sy sê ʼn prekie in: “Ma, ons taal word juis so onderdruk. Die minste wat ons kan doen is om dit reg te praat!” Sys seker reg, want sy het mos haar matriek gedoen en ʼn jaar op die make-up kollege gewees. Maar Stienie, wat ek nie verstaan nie, het jy al oor die draadloos hoogere mense gehoor Afrikaans praat? Ek dink nou die dag so by myself: “Mens moet lykmy blerrie goed wees met Engels om Afrikaans te verstaan”. Die geleerde mense mix ook, maar dan sê hulle die woord om Afrikaans te klink. Net sommer om vinnig te dink: ʼn sypaadjie is mos ʼn ‘pavement’ in Engels, maar nou sê hulle dit in Afrikaans ‘pa-ve-ment’? So?

Darem het Doreentjie die annerdag vir my die kompliment gegee. Syt gesê: “Ma, ek het van die briewe gelees wat ma vir antie Stienie stuur. Ek dink Ma skryf goed, Ma moet net die woordeboek gebruik. As Ma se taal beter is, wie weet sien ʼn hard-up publisher dit dalk raak en publiseer dit in ʼn bundel”. Ai Stienie, dit het my so goed laat voel, maar ek kan net skryf wat in my hart is en alles in my hart is mos maar gemix.

Ag Stienie, op my pad latrine toe, sien ek jou toe op die stoep sit. Latrine of nie, ek moes net terugdraai en met ʼn maag wat draai kyk of ek reg kyk? Ja, jys terug Stienie! Dankie vir die Vader wat hierdie dice ook vir ons ook reg gedraai het! Sodra my maag reg is, hardloop ek oor die pad na jou toe. Ek stuur een van die bolspelers in die straat om vir jou die brief te gee. My beker loop oor om jou te sien, Stienie!

Seënwense vir 2026, my beste beste maat!

Liefde

Sarie

 

Isha




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed