Jongste aktiwiteit:

GAAN NA DIE MIER…

…en word wys! Die beste lewenslesse leer ons uit die natuur en die verlede. Ek wonder baie en sommer oor alles: wanneer het mense onderklere begin dra? Wanneer het hulle toiletpapier begin gebruik? Waar het hulle dit wat hulle gebruik het gestoor? Wáár, hóé het daai Victoriaanse vroue met die lang wye rokke toilet toe gegaan of was daar stoorplek onder daai rokke vir alles wat kon gebeur? Dalk is daar vrae wat liewer onbeantwoord móét bly!

Die lente breek aan en asof van nêrens stoot die bome sulke pragtige liggroen blaartjies uit, sommer so oornag. Die natuur verkondig; “word wakker, daar’s werk om te doen!”. Die chlorofil selletjies spring met halfslaap ogies aan die werk en met die bystand van sonstrale begin hulle fotosinteer; kosmaak! Die blare word al groener en al hoe meer; vate vervoer die kos afwaarts na al die dele van die boom. Die wortels strek hulle vingers dieper in die grond om water by te kom en ander vate voer die water boontoe tot in die blare wat baie dors raak van al die werk. Ai, lentereëndruppels sal nou só lekker wees. Die boom werk hard deur die warm somermaande, gebruik en stoor voedsel in hulle vate vir herfs en winter wat weer sál aanbreek. Die son skyn nie meer so helder en warm nie. Dis tyd vir rus. Tevrede met genoeg kos, begin die boom sy blare afgooi. Bruin, rooi, geel blare – God seën ons met die pragtigste tonele in elke seisoen. En so breek die boom se rustyd aan. Diere soos bere, vreet hulle dik aan die somerbanket van die natuur en wanneer die koue wind begin ritsel deur hulle hare, soek hulle slaapplek iewers in ʼn grot. Die dik vetlaag om hulle lywe skeel hulle min; dis waar die energie en hitte gestoor word totdat die lentebanket aanbreek.

Ons is sekerlik die moanerigste klomp mense wat ooit die aardbol betree het. Soos Jane Goodall gesê het: “Hoe gebeur dit dat die ‘slimste’ tegnologiesgevorderde mense die ergste vernietigers van die planeet is?”. Ons is so gewoond aan water wat uit ʼn kraan kom, supermarkte wat die dinge wat ons nodig het opgaar, dat ons óns rol in die instandhouding van onsself en die natuur vergeet het. Ons plant nie eers meer ons eie blomme nie! Tegnologie is besig om ons grootste vyand te word. Ons skedels stoor ons brein en hierdie brein is veronderstel om logika te bevat. Waar is ons logika wanneer dit baie reën en die reënwater beland in verstopte dreine wat nie in stand gehou word nie? Hoekom stoor ons nie ons eie reënwater nie? Hoekom plant ons nie spekbome wat gereken word as plante wat die meeste koolstofdioksied uit die lug gebruik nie?

Dis asof ons terug gedryf word na die Middeleeue of nog verder terug! Die Romeine het al in die Voor-Christus tydperk, watervore aangelê wat opwaarts kon vloei tot in woestyn. Onderklere is blykbaar gemaak uit linne. Tot koninklikes het linne onder hulle klere gedra. Water was ʼn luuksheid; die linne wat sweet moes absorbeer is gewas, maar nie die klere self nie, of baie min altans. ‘Was’ het bestaan uit die was van hande en plekke wat nou regtigwaar begin stink het. Onderklere, soos ons dit vandag ken en laaie oorlopend vol van het, het eers die afgelope twee honderd jaar ʼn ‘moet’ of eerder ʼn modegier geword. Koningin Elizabeth 1, was blykbaar so behep met higiëne dat sy minstens een keer per maand gebad het!

Daar was nie toilette in die tyd nie; mense het emmers gebruik en die ‘nagafval’ sommer deur die venster tot in die straat gegooi. Strooi of blare was gebruik as toiletpapier. Die strate was daarom nat en nie die soort nat van ʼn waterpyp wat gebars het nie. Die mense het bankies gebou wat by die voordeur gehou is. Voor jy die huis met jou nat-besmette skoene ingaan, het jy gaan sit en jou skoene uit getrek en dit dan binne die bankie gebêre tot die volgende dag. Toilette in die duisend jaar oue kastele, was ʼn gat op die tweede verdieping wat soos ʼn skoorsteen oop was tot op die grondvloer met ʼn gatkassie bo-oor. Werkers het dan die afvoer onder gereeld skoongemaak en gewas. En jy dink jou werk stink? Dink net as daai bankie sou breek, het jy beslis nie met jou gat in die botter geval nie…

Kaste se ontstaan blyk uit die Neolitiese tyd, meer as vyf duisend jaar gelede te wees. Stoorplek is met klippe gebou. In die Middeleeue is kaste van hout gemaak vir kosbare, noodsaaklike eetgerei. Kaste met panele vir oop- en toemaak, is in die Renaissance tydperk begin gebruik om waardevolle artikels en kos te bêre. Die houtkaste het ook begin ‘mooi lyk’ met gekerfde patrone oral sigbaar as statussimbool “Kyk wat óns het!”. Dit het ook in die tydperk in gebruik gekom met laaie as stoorplek vir klere en linne.

Ek dink die logika wat ons nie meer het nie, sou ons vertel het dat ons stryd vir ‘oorlewing’ vervang is met ʼn groter stryd van ‘óór – léwing’. Stoor ons nie meer as wat nodig is nie? Ons kerm en kla elke keer as ons moet huis skoon maak. Soveel kassies om af te stof, soveel kassies om weg te skuif as jy wil stofsuig! Daar is egter ʼn nuwe tendens om kleiner en meer minimalisties te leef. Ek praat maar van ʼn ‘Tiny house’, want klein huisie laat mens aan iets anders dink; ‘Tiny houses’ met slegs ongeveer nege vierkantmeter. Hier is ook kassies, maar beter beplande, doelgerigte kassies. Elke kas kan verander volgens wat jy moet of wil doen. Ek sien ʼn bed wat opslaan om spasie te maak vir ʼn lessenaar, stoel en laptop. Klein tafeltjies wat op ʼn manier uitgetrek word om langer te wees vir meer sitplek.

Ek wonder maar net of dit nie ons tyd is om aan te pas by ons omstandighede nie? Let’s face it, “Adapt or die” is dalk ons enigste antwoord…




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed