Stille lag in Kolmanskop se strate
Stille lag in Kolmanskop se strate
Deur: Ryno du Plessis
Sandverwaaide geboue staan in eens sout strate.
Dood lê voor my oë gesaai. Waar daar eens lawaai was.
Ek stap nader, die res van die groep vergader.
Ek stap deur eens ’n slaghuis. Ek hoor die gewerk en die oom met ’n groot pens: “Hoe kan ek help?”
Langsaan die bakkery—ek ruik en proe die Duitse brode, sien selfs die bekende varkore.
Die allerhande-winkel, toffies op die toonbank. Valletjiesrokkies vir kinders in die hoek. ’n Elegante tante pak nuwe produkte op haar rakke.
Die ou kantien en kegelbaan, die gelag van stemme en die pronk van wen.
Gemeenskapsaal—hoor jy die orkes nog speel, die opskop groot.
Kinders wat in strate speel. Die gelag terwyl hul speelgoed deel.
Skielik die besef van waar bly arm en waar bly ryk. Die streep is sterk getrek.
Huise van weelde moes dit wees. Foto’s teen die mure met swaar houtmeubels. Beslis was hier ’n bediende gewees.
Doer ver op die punt lê die hospitaal. Gange van geboorte gee en asem uitblaas voel asof dit gister nog hier was.
Dokter, burgemeester en mynkaptein woon op die groot ou duin. Geld het daar harder as die wind gepraat.
Onder die duin loop die klein ou trein. Daar onder het die minderklas gewoon.
Daar ver waar niemand sien, het dié met geen klas gewoon.
Vandag ’n wêreld stil. Wie kon dink hier was ’n lewe vol. Verdwyn die lag en gesels, die reuk en proe, soos ek terug na my motor stap.
Die strate raak stil—nou nog net ’n gedagte, soos eens ’n droom.
Die lag het nie gesterf nie. Dit het net stil geword.
Hier in die strate van Kolmanskop…lag dit nog.
© Ryno du Plessis 2026
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.