Die dominee en die smalle weg
‘n Gemeente in ‘n afgeleë geweste beroep eenkeer ‘n predikant.En vir sy aankoms op die stasie het ‘n hele klompie gemeentelede uit die ver-wêreld byna ‘n soort bedevaartstog onderneem.
En hulle gaan wag die trein in. Uiteindelik stoom die lokomotiefie voor hulle verby en die trein kom tot stilstand.
Maar die man wat toe daar stadig en versigtig uit die treinwa klim, lyk vir hulle glad nie na die predikant wat hulle gedink het hulle beroep het nie. Want hulle het gedag hy sou middeljarig wees, en dié oubaas se middeljare, kon hulle sommer so op die haar af sien, lê redelik ver na die middel toe terug.
En almal het onder mekaar gepraat, en die kerkraadslede het onder mekaar gepraat, en toe word daar besluit dat die ouderlinge die dominee maar so gou as moontlik deur die verskillende wyke van die gemeente moet neem en vir hom die pad orals heen wys. Want as hy skielik vir siekte of dood uitgeroep sou moes word, en een van hulle kon nie saamgaan nie, sou hy op die beduie af sy weg maar swaar vind. Die ou gedagte was net eenvoudig nie meer daar om ‘n ingewikkelde saak vinnig reg te verstaan nie. En dit was juis ‘n groot gemeente met ‘n duisternis paaie en afdraaipaadjies, en sleg was hulle die een met die ander.
Een van die ou ouderlinge, oom Arnoldus, vertel vir my: Ek was die eerste om vir Ou-dominies die paaie deur my wyk teloop leer. Op ‘n namiddag het ek hom na my plaas toe gaan haal. Die nag het hy daar by my en die vrou geslaap en die annerdag-môre toe val ek met hom in die pad. En daar’s baie hekke. Alle soorte – party moet jy oop sleep, ander moet jy oop dra; party val selfoop as jy hom losgehaak het, ander moet jy oop stoot tot dóér bo, en as jy hom los, neuk hy self toe. En daar”s konstinahekke en gewone hekke, smoelslaners en wat jy op die aarde ook al kan bedink.
So kom ons by die eerste hek en ek hou stil. “Sit maar, Dominies,” sê ek. “Ek sal oopmaak.” Nee, weet hy vir my te beduie, dis goed vir sy ou bene as hulle af en toe kan reguit kom; hý sal oopmaak.
En Ou-dominies sukkel daar by die kar uit en hy kruie na die skarnierkant van die hek toe. Om sy aandag te trek en hom te wys waffer kant die haak sit, vergeet ek skoon hy”s ‘n oumens, en ek druk die hoeter.
Hy skrik lat sy ou rug so seerkry dat hy aan die hek moet vashou om nie om te val nie. En ek klim af om hand te gee. Om te troos, sê ek: ja, Dominies, die hekke lyk ook so alkant selfkant, lat ‘n mens niemand kan kwalik neem as hy nie daad’lik kan sien wafïer kant waffer kant is nie.” Nee, ek hoef nie bekommerd te wees nie, hy sal regkom met die hekke, praat die ou.
Maar wat, sy geprobeer slim-lykery met ‘n hek het my senuwees later heel op hol. Want by elke hek is daar ‘n beproewing. En toe ons eers op ‘n pad beland met ‘n klomp smoelslaners, toe vrees ek nou-nou neuk een die arme ou mens teen die grond. Maar hy bly op sy voete en later moes hy hom verbeel het hy weet al van hekke so baie dat hy sommer kan kritiseer ook.
Het die mense altyd hek-oopmakers by? So wil Ou-dominies weet. Ek sê ja, baie kere – partykeer hulle-se vrouens en partykeer van die volkíes. Hy sê ja, die kampdrade hou sekerlik vir die boere baie voordeelin, maar toe hulle so baie gekamp het, het hulle die ry-gerief vergeet.
Met dié kom ons weer by ‘n hek – langs ‘n lekker groot kameelboom, en daar drink ons eers koffie. So met die beker in die een hand en ‘n beskuit in die ander vaar hy uit teen die hek wat in ‘n kol swaar sand sit. Ek sê vir hom, ja, dis waar, dit foeter maar om op so ‘n plek weggetrek te kry. Maar dis nie dom kampwerk se skuld lat die hek in die los sand sit nie; dis van die baie wegtrek wat die sand los geword het!
En ons vaar die Dwarsduin-Kalhari verder in en toe kom ons by ‘n liederlike hek. Dis ‘n grenshek in ‘n nou straatjie. Toe ek oor die duin kom, hou ek stil, en Ou-dominies moet die hele ent stap en die hek gaan oopmaak en daar staan en wag lat ek duin af kan storm, dwarsdeur die hek en oorkant uit tot bo-op die ander duin. Daar sit en wag ek dat die ou eers die hek toemaak en die duin voetsaam baasraak.
Teen hierdie tyd het Ou-dominies vir ‘n hek g’n goeie woord meer nie, en die ou het sommer daarby vergeet dat die Kalhari-duine deel van die Skepping is. Toe ons by die volgende hek kom, murmureer hy nog steeds. En dit smaak my dit was uit viesigheid dat hy weer nie kon onderskei tussen ‘n haak en ‘n skarnier nie.
Kort ná hierdie hek draai ons by die laaste mense om en pak die langpad terug. En ek hou by die nimlike hek stil. En Ou-dominies loop so wragtag om die hek by die skarniere te probeer loshaak. Toe die ou in die kar klim, sê hy hy verstaan nou nie die ding nie. Hy kan sweer hy het die hek aan die bestuurder se kant oopgemaak, en nou sit die haak aan hy wat die passasier is, se kant. Ek sê vir hom: ja, Dominies, maar dis die groot les wat Dominies hier in die Kalhari van die lewensweg moet leer: Wanneer ‘n mens op hom omgedraai het, sit alles net mooi agterstevoorom. Wat agter is, is nou voor, en wat links was, is nou regs.
Daar’s net één ding wat dieselfde bly, en dit sal Dominies nou-net sien, en dis lat ‘n hek in ‘n nou straat die pad na alkante toe swaarder maak.” En, sê ek vir hom, hier in die Kalhari is daar nie ‘n smal en ‘n breë weg nie; hulle bly smal, én dêm swaar.