Die goeie hond
Ek loop ‘n oubaas in ‘n dorpie daar in die Wes-Transvaal raak. En ek sê vir hom: “Oe, maar dis darem n pragtige hond wat Oom hier het. Oom slaap seker veilig snags?” Hy sê: Nee, die hond is nie sleg nie, maar hy kom nie naby die een wat ek voor hom gehad het nie. Dít was nou ‘n goeie hond. Van hom kan ek vir jou kordaatstukke vertel wat jy in hierie land nie nog oor anner honne sal hoor nie.
Ek het dié hond by ‘n doktertjie gekry wat ons hier op die dorp gehad het. Jong, en dit was ‘n dókter – dit kan ek vir jou sê. Soos darie man darem kon aangegaan het.
Vinnig. Uit sy ontvangskamer was daar ‘n hele klomp deure – elkeen in ‘n anner onnersoekkamer in. En in elke kamer het hy ‘n pasiënt ingedruk. Solank die spuitstof moet werk waarmee hy die een ou se tanne doodgespuit het, sny hy ‘n moesie af in die kamer langsaan, en solank dié mens aantrek, pluk hy in die volgende kamer ‘n anner skepsel se elmboog in lit. En teen dié tyd is die vorige kamer leeg. Dan druk hy daar iemand in wie se poot hy doodspuit om hy ‘n toonnael wil uitslag. En dan hol hy na die eerste kamer toe waar hy gou die mond moet loop leegtrek. En jy moenie dink hy gôi die tanne in ‘n bakkie nie. Hulle trek sommer so ‘n straal vloer toe. En as hy klaar is, dan skrou hy net daar in ‘n koers in vir een van sy werksmense: “Kom vee hierie spul gate bymekaar, maar kyk net of daar nie iewers goud in is nie!” en dan hol hy vir die toonnael.
En haastig op pad. Mens, as jy ‘n wolk stof sien, moet jy weet hy”s daarbinne. So was hy eenkeer weer hier na die noordekant toe uit vir een of ander siekte en daar ja hy oppie pad ‘n sekere kêrel se
volbloedbul dood. Dié boer het die bul daar in ‘n loesêringkampie laans die pad gehad en dié ding raak op die een of anner manier uit die kamp, en hy loop toe orie pad net toe die dokter daar verby-
kom. En dit was toe die einde van die ou bulletjie. Maar die boer wil toe die bul uitbetaal hê, en hy’s eers na die ou doktertjie toe, maar dié sê hy betaal g’n die bul nie. – Wat van sy kar? En toe’s die man na die prokureur toe, en later is hulle in die hof. En daar moet die dokter toe vertel wat gebeur het. En sy storie was kort, want hy was nie ‘n man van baie woorde nie. Hy sê net: “Edelagbare ek weet nie wat gebeur het nie. Toe ek sien, toe kom die bees uit die lusern en toe ek weer sien, toe kom die lusern uit die bees.”
So ‘n bees kan ‘n vreeslike ding wees as jy teen hom vasry, dit kan ek vir jou sê. En jy hoef nie eens teen hom vas te ry voor hy jou skade aandoen nie. Ek gaan kuier eenkeer vir ‘n swaer van my daar annerkant Kuruman, en ek ja daar oor ‘n duin, en toe die kar se neus annerkant die duin sak, lat ek voor my kan sien, is dit net oë en ore en horings. En ek skop daar briek lat die sand so spat. En die beeste spring voor weg toe dit vir hulle darem té gevaarlik lyk. En so met die wegspring slaan een ou koei met haar stert reg voor my gesig teen die ruit, en daar is alles asvaal soos die ruit in derduisend stukkies splinter. En ek kom met ‘n Here-se-genade darem lewend tot stilstand, en ek breek die ruit uit solat ek ten minste weer die pad kan sien. En dit moet ek jou sê, dis die grootste gemors op aarde om met ‘n uit ruit te ry, want al sukkel jy ook net teen so ‘n stuk of veertig myl per uur aan en daar vlie van voor af ‘n tor tussen jou oë vas, voel dit soos ‘n koeël. Darie tor vlie hom morsdood teen jou kop man, lat die sop so spat. Ek moes by elke plek waar daar water is, eers my gesig was. En toe ek later darie dag darem al bitter vies was, kom ek daar iewers op ‘n ou plekkie uit waar ek petrol ingôi. En petrolvolk storm mos altyd ‘n kar met `n lap en ‘nou spuitkannetjie vol seepwater om die ruite skoon te maak – te bang hulle kry nie ‘n fooitjie nie. En daar kom spuit een wragtag van voor af dwarsdeur die gat waar die ruit gesit het, binne in my gesig. Ek sê: “Maar jou vloeksteen, lat ek hier uitkom.” Maar jong, my oë brand of ‘n slang in hulle gespoe het.
En slangspoeg is mos darem ‘n ding wat brand lat hy bars. Dit smaak my dis net twakspoeg wat erger brand. Maar weet jy, dis eienaardig – noulat ek daaraan dink – ek wonner wanneer ek laas iemand gesien het wat pruim. Dit lyk my dis ‘n gewoonte wat vir geheel uitgesterf het. En dít moet jy weet: as daar ‘n ding is wat akkuraat kan spoeg, dan is dit ‘n pruimer. Dit het ek self gesien.Daar innie depressiejare skeer ek en ‘n paar anner manne mowwe doer innie Karoowêreld. En een van dié kêrels het gepruim. En op een van, die plase beland ons in ‘n skeerhok met mure aan drie kante, en in een van dié mure sit ‘n venstertjie. En glo my of jy dit selfaanskou het, darie man se oë bly op die skêr se punte daar waar hy knip, en dan draai hy net sy kop so efïens skuins, en dan spoe hy daar van waar hy staan, netjies deur darie venstertjie. Toe ons die dag daar klaar is, toe lê daar buitekant- regoor die venstertjie a ‘n bruin kol op die grond lat dit lyk jy’t daar ‘n blik ou olie omgekeer.
En van so ‘n skeerdery word jy darem moeg, o mensdom. jy kan innie nag op ‘n donsmatras slaap, maar hy smaak of hy met ertappels gestop is. Maar so wil ek jou nou maar sê, ons is toe daar weg en ons kom by nog ‘n vent wie se skape ons moes skeer. En hy was nou die suinigste wat ek ooit in my lewe gesien het – al was dit toe depressie. As hy winkel toe gery het en hy kom trug, dan slyp hy sy sakmes skerp en dan loop sit hy vorie ou huisie oppie stoepklip en dan sny hy elke vuurhoutjie op die lengte laans middeldeur solat hy daaruit twee het. Dit was ‘n ou Dejee. Ek het net een anner De Jee nog geken. Hy moes daar êrens in die Vrystaat geboer het. Maar hy het my ‘n agtermekaar man gelyk. Hy was seker nie familie van darie anner ou nie. Die naaste wat hulle van mekaar familie kon wees, was lat hulle voorgeslagte se honne dalk by die slagplek saam derms rondgesleep het.
Ek sê: “Maar Oom, wat van die hond?”
Hy vra: “Waffer hond?”
Ek sê: “Die goeie hond.”
Hy sê: “Van ou Dejéé? Wat laat jou nou dink dat hy ‘n goeie hond kon gehad het? Hy het nie eens ‘n sleg hond gehad nie.”