Karweier agter ‘n conveyor
Wanneer ‘n mens se hulpvaardígheid deur iemand anders misbruik word omdat dié nie weet hoe ‘n verskriklike ergernis ‘n doodgewone guns soms kan wees nie, is daardie hulpvaardígheid iets soos ‘n selfopgelegde straf. En ‘n straf wat ‘n mens oor homself bring, is mos gewoonlik bitterder as ‘n ramp.
Iets van dié aard het vanmelewe met ‘n sekere ou dokter Sullivan van Mosselbaai gebeur. Dié merkwaardige ou kêrel was ‘n Ier wat as jong man na Mosselbaai gekom het en ‘n leeftyd lank op die dorp en in die omgewing gewerk het.
Hy het gedokter tot ver oor die Langeberg – ‘n sestig en meer kilometer ver met ‘n perdekar. En só was hy uiteindelik ‘n huisvriendvan ‘n stuk of drie geslagte.
En toe tref ‘n onsmaaklikheid hom juis toe hy hom die één keer in sy lewe ‘n bietjie rus gun. Die ou besluit op ‘n goeie dag hy het nou lank gewerk en hy gaat hou nou ‘n slag behoorlik vakansie. Hy’t nog baie familie in Ierland gehad en by dié wil hy swaer vir swaer, skoonsuster vir skoon-suster, neef vir neef, niggie vir niggie en kroos vir kroos gaan kuier. Die ou adverteer toe vir ‘n plaasvervanger in sy praktyk, en so lek die nuus oor sy voorgenome kuier uit en die mense begin praat oor dié lang reis wat hulle geliefde dokter van Mosselbaai af deur die Kaap en via Engeland tot in Ierland moet onderneem.
Jare later het ou dokter Sullivan vertel hoe hy alles reggesit en ingepak het en die hele omgewing deurgery het om almal te groet. Houtgerus wag hy toe die laaste dag of wat af voor hy Kaapstad toe vertrek.
En dit was in dié tyd dat tant Sannie Oosthuizen van Kwartelfontein daar by hom opdaag. Sy kom vra dan nou net ‘n ou gunsie. Dit gaan oor haar seun Nolsie. “Dokter onthou hom mos uit die keer toe hy so sleg siek was aan die masels wat nie wou uitslaan nie?” Ja, hy onthou, sê ou dokter Sullivan.
“Nou ja, Dokter, hy is mos jare gelede al weg Kaap toe en nou-die-dag kry ek van hom ‘n brief. En raai net bietjie waar’s hy nou, Dokter?” “Nee, miesies Oosthuizen, ek het geen gedagte oor waar hy hom nou kan bevind nie.” “Dokter, hy sit binne-in London. En hy skryf vir my daar uit Ingeland ‘n brief en hy skryf hy verkluim van die koue. En hy skryf hy’t ‘n baie goeie werk. Hy skryf hy’s nou ‘n letterpainter en interior decorator. “En nou’t ek gewonner of Dokter nie tog vir hom ‘n pakkietjie vir Krismis sal saamneem nie.” Hy sal dit graag doen, sê ou dokter Sullivan. Maar waar is die pakkie? Sy sal dit die volgende dag bring, want sy het nog nie alles heel reg en agtermekaar nie.
Die anderdagmôre sit ou dokter Sullivan al sy bagasie in die voorhuis neer en wag dat die tyd moet aanbreek om stasie toe te gaan. En hy sê hy was net mooi op die punt om bekommerd te begin raak dat die pakkie vir Nolsie Oosthuizen nie betyds gebring sou word nie, toe sien hy daar kom die perdekar om die hoek van die straat. Hy sê, en hy wonder nog waarom die mense tog nie die bankie van die kar vorentoe kon geskuif het lat die kar gelyk dra en lat die pêre nie so gemoor word nie. want die kar sit op sy agterent en die disselboom wip dat die draaghout vas onder die pêre se kele druk. En toe tant Sannie Oosthuizen en haar drywer stilhou, stap hy hulle tegemoet en toe sal hy maar sien waarom die kar so wip. Dit was al die tyd van ‘n kas agter op die kar. ‘n Tamaai krat wat toegespyker is, en nog met hoepels ook om.
Ou dokter Sullivan sê: “En dít?” Tant Sannie antwoord: “Dis ‘n bietjie boerbeskuit en ‘n paar flesse moskonfyt. Dis die kassie wat ek vir Dokter gevra het om vir Nolsie saam te neem.” En sy gee Nolsie se hele adres op ‘n papiertjie vir hom. Ou dokter Sullivan sê ‘n hele klomp goed het tegelyk deur sy gemoed geskiet. Maar van een ding was hy seker: hy het by homself gedink: “By the look of this this can last Nolsie Oosthuizen till Christmas of next year.”
Ou dokter Sullivan word met ‘n motortjie stasie toe geneem wat vir die bagasie ‘n rooster op die agterbuffer het. Maar dié is toe gans te klein vir die Sullivan-trek Ierland toe. Die karretjie moet gevolglik twee keer stasie toe loop; die eerste keer met ou dokter Sullivan en sy bagasie en die tweede keer met Nolsie Oosthuizen se kas boerbeskuit en moskonfyt.
Teen dié tyd is ou dokter Sullivan se Ierse bloed redelik kês van surigheid. Maar dit was nog net die begin van die gesukkel. Want die volgende lastigheid was dat die trein vol was. Kan die krat dan nie tog maar agterna met die goederetrein kom nie? wil die stasiemense weet. Nee, die ding móét met die passasierstrein, sê ou dokter Sullivan. Hulle sê vir hom in dié geval sal hulle die laaimeester moet vra om vir hulle ekstra hande te gee om die ding te help laai. Ná ‘n groot gesukkel is die trein se bagasiewa verpak om plek vir die kas te kry en is die ding by die deur ingesukkel met die regte kant bo, waar Nolsie Oosthuizen se adres staan: AJ P Oosthuizen, Letterpainter and Interior Decorator, London. In die Kaap moet daar weer van die stasie af ‘n dubbele rit onderneem word. Maar uiteindelik is ou dokter Sullivan met alles in die hawe en hy sê vir die kruier: “Nou kan jy maar die spul goed met die gangway opstoot.” Die kruier lyk dadelik vies, want hy sien sommer met die eerste kyk dat daar vir hom ‘n groot gesukkel voorlê.
Die kas gee hy ‘n besondere kyk. “Is dit ook deel van jou luggage?” vra hy. Nee, sê ou dokter Sullivan, dis net ‘n present van “n ou moeder aan haar seun in Londen. “Well, sir, I’ll need a crane for this one,” sê die kruier. En hy’s daar weg om nog kruiers te gaan roep. `Later is hulle voorman ook daar. “Meneer emigrate jy?” Nee, dis net ‘n present van ‘n ou moeder aan haar seun . . . Die hoofkruier sê: “Meneen maar wat se helse present pak ‘n ma in so ‘n vreeslike kas vir haar seun?” Ou dokter Sullivan sê: “Man, daar staan dit bo-op die kas geskrywe. Dis net ‘n bietjie boerbeskuit en moskonfyt vir Nolsie Oosthuizen, AJ P Oosthuizen, letterpainter and interior decorator, London.” Die hoofkruier sê vir sy maters: “Boys, dit klink na ‘n big shot na wie toe die krat moet gaan; ons moet dit maar op die skip opsukkel.”
En so vind die kas boerbeskuit en moskonfyt sy moeisame weg in die skip se ruim in. Ou dokter Sullivan sê, en hy gaan staan ook maar op die dek en hy waai vir die mense. En hy sien die klompie kruiers ook nog staan. En hy waai vir hulle ook. En een van hulle sien hom en dié wys vir die ander.
En net toe begin die skip met die uitsleep te beweeg. En een van die kruiers skree met bakhande om sy mond: “As die skip sink, klim op die kas beskuit!” En so is ou dokter Sullivan met die skip en die kas boerbeskuit en moskonfyt uit die Kaap weg vir Nolsie Oosthuizen, letterpainter en interior decorator van Londen.
En die ou vertel hy het lekker gereis en skoon van die kas boerbeskuit en moskonfyt vergeet. Maar daar êrens regoor Spanje in die Golf van Biskaje tref ‘n storm hulle. En soos so dikwels in dié geweste die geval is, kom daar geen einde aan die storm nie. Die skip skud en skommel asof hy nooit in sy bestaan anders leer vaar het nie. Ou dokter Sullivan vertel, en dis tóé dat die kas boerbeskuit en moskonfyt hom weer byval. En die woorde van die Kaapse kruier kom by hom op: “As die skip sink, klim op die kas beskuit.” Ou dokter Sullivan sê, en net daar en dan oorval ‘n vrees hom dat hy hom waternat sweet binne-in die reën en die storm van die Golf van Biskaje. Maar later begin raak hy stadig gewoond aan die onvastigheid van die skip.
En toe begin pla ‘n nuwe ding hom: Hoe sou die bottels verpak wees? Want sê nou hulle breek, dan kom hy in Engeland aan met ‘n taai kas waaraan die kruiers later, jy kan sê, soos ‘n klomp vlieë sal vassit ná hulle die affêre tot op vaste aarde gesukkel het. Uiteindelik bedaar die storm en ten lange laaste staan ou dokter Sullivan met sy voete op Engelse grond en hy wag dat sy goed by die doeane kan deurkom.
Alles is later daar, maar die kas daag nie op nie. Een van die doeanebeamptes moes seker begin wonder het waarom dié sekere ou kêrel nie sy bagasie vat en loop nie. “Is this all your luggage?” vra hy. “No, I’m still waiting for something else,” sê ou dokter Sullivan. Ná ‘n ruk kom daar ‘n kruier met ‘n stootwa aan. Die arme kêrel se tong hang uit. En wonder bo wonder – die kas het die storm heelhuids oorlewe.
“Well, have you got anything to declare?” vra die beampte. “No,” sê ou dokter Sullivan, “I haven’t something to declare specifically.” Die beampte laat gaan sy oog oor die streep goed en by die kas steek hy vas. “And this?” vra hy. Die ou dokter antwoord: “No, it’s not my personal property. It’s just a gift I’m bringing to somebody in England. It’s a present from an old mother to her son. It’s just boerebeskuit and moskonfyt.” Vir die Engelse beampte se gehoor, geheue en begrip is dit eens te veel. “What’s that?” En dit lyk of die beampte die slagoffer van die een of ander pligsbevlieging gaan word en of die kas boerbeskuit en moskonfyt dit sal moet ontgeld. “No, no, wait, I’ll explain to you,” sê ou dokter Sullivan. “Boerbeskuit is just a South African delicacy – it’s a kind of rusk. And moskonfyt is a very special kind of South African jam. It’s cooked from grapes.”
En dit was nou net mooi die één verkeerde woord wat ou dokter Sullivan kon gesê het. Toe die Engelsman hoor van “grapes”, moes hy dadelik gedink het aan ‘n affêre wat gestook pleks van gekook is. Nee, beduie hy, as die goed van druiwe afkomstig is, sal hy beslis daarna moet kyk. En daar word die kas oopgebreek. Die boerbeskuit lyk vir die Engelsman gangbaar. Maar hy hou ‘n bottel moskonfyt teen die lig. “Is this alcoholic?” wil hy weet. Ou dokter Sullivan sê met oortuiging: “No!” “We can’t allow wine and spirits to be taken into the country in this way. I’m afraid you need a special import licence for this.” “A special import licence?” “Yes, a special import licence.” “And where must I get the special import licence?” “The only place you can get it is the Department of Agriculture and Fisheries in Whitehall. And you must take the box with you.” Dokter Sullivan laat sukkel die kas op ‘n trem en gee homself oor aan die roete Whitehall toe.
En daar deur Trafalgar Square is hy met die kas boerbeskuit en moskonfyt voor die standbeeld van Nelson en die klomp eerste ministers deur. En die ou sê toe dink hy: “Wragtag, Whitehall has seen many things, but I doubt whether Whitehall has ever seen a box of boerebeskuit and moskonfyt.” En by Whitehall word die kas afgesukkel en ingesukkel. En daar het hy omtrent verduidelik tot waar die koring geoes en die meel gemaal en die brandhout vir die oond gekap is en tot waar die druiwe gepluk is.
En die ou sê vir die Engelsman daar: “It’s a box of ordinary boerebeskuit and moskonfyt for Nolsie Oosthuizen, letterpainter and interior decorator.” Maar die Engelsman glo aan deeglikheid en die beskerming van die kroon se koninkryk. En hy maak een van die bottels oop. En ou dokter Sullivan sê vir hom: “Sir, you can taste it, but you don’t put your finger in it.” En die kêrel sê vir ‘n ietwat minder belangrike Engelsman as wat hy self is: ”Jones, get a teaspoon.” En Jones peul daar êrens uit met ‘n teelepel op ‘n skinkbord. En die Engelsman proe en hy lek sy lippe af en hy proe nog ‘n keer. “Rather nice,” is sy kommentaar. Die goed lyk veilig; ou dokter Sullivan kan die invoerlisensie kry. En die kas word van voor af toegeslaan en met die hulp van ‘n klomp amptenare uitgesukkel tot buite by die halte en weer op ‘n trem getel – vir die terugreis hawe toe.
Met ‘n Vader-se-genade en ‘n bose gesukkel haal ou dokter Sullivan darem voor die aand ‘n hotel, en dit voel vir hom teen dié tyd dat hy so gou as hy kan van die kas boerbeskuit en moskonfyt ontslae moes kom, anders sou sy vakansie iets ergers as voltydse diens in sy praktyk wees.
Maar vir die volgende fase was daar eers ‘n nag se slaap nodig. Vroeg die môre kry ou dokter Sullivan ‘n taxi. Nee, beduie die bestuurder, daar is ‘n afleweringswa nodig. Nou maar weet hy miskien van iemand naby wat grootgewiggoed vervoer? Ja, hy kan help, en hy bel iemand. En saam met dié kruie ou dokter Sullivan na die adres toe wat tant Sannie Oosthuizen hom toe al ver op die pad terug gegee het. Die afleweringswa hou voor ‘n ou losieshuis stil. Daar word die kas afgeworstel en gedra-sleep na die voordeur toe, waar ‘n miesies oopmaak toe ou dokter Sullivan klop.
“I`m doctor Sullivan from South Africa. I have this box of boere~ beskuit and moskonfyt for mister AJ P Oosthuizen. He’s a letterwriter and interior decorator. Is he here by any chance?” “No, doctor Sullivan,” sê die Engelse miesies. “He used to live here, but he’s gone. He has emigrated to the United States of America.” “To America?” Ou dokter Sullivan sak byna bo-oor die kas beskuit en moskonfyt inmekaar. Ja, beduie die Engelse miesies, sy het darem ‘n notatjie van hom gekry; hy sê dis koud daar, maar hy het goeie werk. “He writes me he’s now a stage designer and free lance artist.”
Waar is die brief? Dis wat ou dokter Sullivan wil weet. Ongelukkig het sy dit nie meer. nie; die adres is verlore. Met groot moeite word die kas terug op die afleweringswa gekarwei. En ou dokter Sullivan sê vir die kêrel: “Now you take me to the nearest post office.” En hulle kom daar en ou dokter Sullivan herken die poskantoormannetjie aan sy spraak as ‘n Ier. “I”ve a package to despatch,” sê ou dokter Sullivan. “Where is the package?” wil die mede-Ier weet. Hy gaan dit net gou haal, sê ou dokter Sullivan. En die kas word met behulp van vele hande by die deur ingekantel.
“Sir, I’m afraid we don’t accept packages of that bulk.” “Listen my good man,” sê ou dokter Sullivan, “I’m prepared to pay anything to despatch this thing. You must help me. As one Irishman to another you must help me. Please get this out of Great Britain. I want to enjoy my holidays here.” “I’ll try, sir. You must just give me the address.” Ou dokter Sullivan sê: “There is an address on the box; we just have to change it.”
En die Iertjie kom om die toonbank met ‘n skryfding, en toe hy die adres op die kas van nader bekyk, sien hy swarigheid. Hy sal moeilikheid kry as hy ‘n ding met so ‘n adres vir versending aanvaar. Ou dokter Sullivan sê: “Listen my boy, whether you like it or not, but you are a British subject and you are in duty bound as a servant to the crown to do this for me.” En hy beduie hom hy is ‘n dokter wat wil rus.
Goed, sê die Iertjie. En hy kyk in sy boeke hoe hy verder te werke moet gaan. “Doctor, it’s rather complicated,” kla hy. “How do you want me to send it – to Manhattan-harbour on the East Coast or do you want me to send it via the Panama Canal to San Francisco on the West Coast?” Ou dokter Sullivan sê: “My good man, I don’t care whether you send it to Manhattan on the East Coast or whether you send it via the Panama Canal to San Francisco on the West Coast or whether you send it via Constantinople and Vladivostok to the USA. Just get it out of the British Isles.” “I’ll try, Doctor. But do you think you need insurance on it?” “Listen my good boy. You still don’t understand. I don’t need insurance on the thing; I need insurance against the bleddie thing. I can’t endure this mosbefyt en boerkonskyt any longer in my presence. Please despatch it to AJ P Oosthuizen, stage designer, United States of America.”
En so is die kas boerbeskuit en moskonfyt daar weg en ou dokter Sullivan hou die heerlikste vakansie van sy lewe dwarsdeur Engeland en Ierland, en hy kom terug Suid-Afrika toe. Dit is teen dié tyd natuurlik maande nadat die kas sy weg Amerika toe gevind het.
En toe tant Sannie Oosthuisen hoor ou dokter Sullivan is terug, kom sy dadelik om hom te bedank. Sy sê die kind skryf hy was tog so dankbaar oor dié kas boerbeskuit en moskonfyt, want hy kon weer ‘n paar slae lekker eet. En sy is so jammer oor die adres. Sy het nie geweet Nolsie het intussen na Amerika verhuis nie. Maar nou ná hy die kas boerbeskuit en moskonfyt in die hande gekry het, het hy geskryf om dankie te sê, en sy is so bly, hy skryf ook hy vorder nou éérs goed. Hy is nou ‘n night conveyor.
En dis ook maar goed hy het: dié uitstekende nagwerkery gekry, anders sou hy nooit op die kas boerbeskuit en moskonfyt afgekom het nie, vertel tant Sannie. Want om hy snags werk, het hy bedags baie tyd om rond te loop. En so kom hy daar êrens by ‘n skutloods uit, waar hy gedink het hy met die opveílery dalk ‘n bargain kon koop, en wat sou hy so met die rondkykery daar sien staan? – Sy eie kas boerbeskuit en moskonfyt!
Ou dokter Sullivan sê, vir die eerste keer beteken die gesukkel met die kas boerbeskuit en moskonfyt vir hom toe ook iets, want toe leer hy wat hy tevore nie geweet het nie. Daardie ding wat hulle sê ‘n rolling stone gathers no moss, is net halfpad waar. Want as dit jóú lot is om ‘n rollende Nols agterna te moet sit met ‘n mosaffêre wat vir hóm bedoel is, dan sien jy die ander helfte van die waarheid: vóór rol hy homself al kaler en ligter en waar jy sukkel om hom van agter af in te rol, snowball die ergernis om jou lat dit vir jou smaak of ‘n hele koninkryk vir jou te klein word.