F. VAN DEN HEEVER
RIT-RYMPIE.
Die koeëls die blits, dat die klippe so brand —
Hoera vir die reuk van ’n roer! —
Maar die tien en Jan Pieterse hou daardie nek,
Help bewaar ou Transvaal vir die Boer!
“’n Uur nog, net ene” — ’n uur van die hel! —
“As ons maar die nek kan hou,
Dan is ons kommando die drif veilig deur!” —
En hy bid sonder handegevou!
Wild en wyd, wild en wyd,
Gee die perde maar teuel en spoor;
Jy hoor net daaronder die hoewegedonder,
En hierbo fluit die koeëls langs jou oor.
Daar hinnik ’n liddiet, ryperd van die Dood
Blits hemel en aarde deureen;
Die stof wyk—die mense ’s die drif veilig deur —
By Jan Pieterse leef nog net een.
“Ons trap!” kommandeer hy. Wild en wyd
Gee hul perde maar teuel en spoor;
Hy hoor net daaronder die hoewegedonder
En ’n skreeu — hy ’s allenig nou oor.
Trug nou, trug deur die vlaag van lood,
Sy maat kan hy daar nie laat bly!
Al om hom daar gons dit die lied van die dood,
Waar sy sekel al snerpende sny.
Met die gewonde man dwars oor sy saalboom geleg
Gaat hy stadig en stappende heen;
Geen teken van haas, hy ry peinsende voort
Op ’n stap deur die koeël-gereën.
“Laat staan, hy’s ’n held -, ‘Three cheers’ vir die Boer!”
Sê die Engelsman, hees in die keel.
Die bulte weerklink met vier harde hoera’s,
En die lug word met helmette geel!
Jan Pieterse draai hom sy vyande toe
En wuif hulle dank met sy hoed;
Al stappend verdwyn hy op die horison daar
In ’n raam van die westergloed.
So hoera vir die klank van stiebeuel en spoor,
En hoera vir die reuk van ’n roer!
God behoede ons veld van die vreemde geweld
En bewaar ons ou land vir die Boer.
WIE IN GLASHUISE WOON.
Bommelby, bommelby met jou wit bandelier,
Met jou vlerke wat blits in die sonlig en gons,
En jou swartpak, verguld met die blomme se dons —
Wat beteken jou sing en wat maak jy hier?
Maar die bommelby werk, of ek vra en of nie;
Natuurlik, ek weet hy hoor nie na my
En laat my gevra en gepeuter opsy —
Maar dis mos wat deurgaan vir poësie!
My siel is so wyd soos die oseaan,
En grootse gedagtes die woel daarin om,
Te groot vir woorde, my Muse is stom,
Want waar haal sy sulke woorde vandaan?
Ja, modder kan jy met jou vingers nie vat,
Diamante is klein en gereëld van bou
As jou oë maar reg is — Ek vra vir jou,
Hoe moet ek die ruim van ’n siel dan skat?
Dis newels, net newels wat warrel en vlie,
En ek is miskien nog agter die vlug
Van ou Tyd, en ken die boom by sy vrug —
Maar dis wat nou deurgaan vir poësie!
” ’N SPEELTONEEL”.
Ag, moet hul nie stoor nie, laat jou voetstap nie hoor nie,
Kom ons hulle oor die laning beloer.
Kan jy mooiers verlang dan die kindergesang
En die geestige, malle rumoer?
Met ’n blaar in sy hand staat die predikant,
Lees daaruit die formulier voor
Waarmee hy hul trou; daar word huise gebou,
Die gelag onder werke gesmoor.
Nou word daar gedoop, dan weer suiker verkoop
Vir blikkies en skerfies en blare;
’n Floue gelawe, ’n kuiken begrawe
Met luide en droewe gebare.
Kon ons maar soos hulle die wêreld verag
En spot met sy wel en sy wee;
Of die wêreld al frons — daar klink hul gelag,
En die wêreld lag hoofskuddend mee!
IN DIE HOVELD.
In die Hoveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
Staat my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
Van die winde op die Hoveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
Sawends as ek bees of skaap toe ry.
Op die Hoveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
(Die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
Staat my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
Waar die bokkies op die lei grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
Dan sweef ek na die Hoveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit,
Waar ’k kleiosse gemaak het as ’n kind.
SONDAG-MÔRE.
Dit is stil in die voorhuis
En stilte rus swaar op die bulte daarbuite,
En stoffies hang blink in die lug, waar die venster
’n Gulde balk van louter luister inlaat.
Daar word boeke gevat:
Die psalm gaat statig opruis,
Ruis weg oor die druipende wilgers,
Waar die tortels selfs luister;
’n Hiemne aan God, aan wie dit gerig is,
’n Statige hiemne van rus en van vrede,
’n Wierook-kolom.
Dis weer stil.
Luid kraai die haan in sy beurtsang —
En nou word gepraat, eers saggies dan luider,
Nou word selfs gelag… die stemming verbroke —
Die diens is verby.
DIE VERHUISING VAN CUPIDO.
Cupido het eers vry rondgedwaal
Met sy boog en sy skigtebos,
Behoudens ’n lintjie wat krul, maar skraal
In ’n Adamspak gedos.
Maar die Cherubyne mis hom nou;
Ag, die sede vervel met die tyd!
In die kas lê sy vleueltjies opgevou,
En nywer regeer nou en nyd.
Sy guitige streke het hy laat staan,
Laat met rus nou die pare in die park;
’n Hardedop keil en manel het hy aan —
Hy ’t verhuis na die aandeelmark!