Melt Myburg
op elsa se stoep II
moedswillig draai die wind
seilers vou hul oranje vleuels in
die lagune stoot hul peristalties uit
my voete skakel in trurat; ‘n kreeftegang
in die laaste lig steier ‘n trio concordes
oor die kim na ‘n watergraf digby mykonos
‘n man met sout slape arriveer
uit die see, boodskapper van golwe
ploeg hy met ‘n ski die klam sand
my gedagtes rafel uit in ligskerwe
om my enkels versplinter die oseaan
in ‘n vlak asemhaling
as laaste toegif doen die son ‘n knieval in my branding
as afskeidsgeskenk sou ek graag
as afskeidsgeskenk sou ek graag
vir jou ‘n borsplaat bied
versreëls uit die koran daarop graveer
arabiese krulle al langs die afgronde wat jou tepels
in twee netjiese hamme verbind
trooswoorde om die onrus te tem
met aan die binnekant, die voering bo jou ribbekas
liefling, lêplek vir ‘n dosyn dinamietkerse
laer af, om die span van jou heupe
behoorlik gelus bo jou islamitiese knop
‘n koord wat jou hart ten hemele ruk
‘n beeld raak los
‘n stowwerige uitklop van vere
in miss helen se agterjaart
wring ‘n uil sy voete van die pedestal los
en laat in stram hale
‘n tuin vol pelgrims agter
rakelings oor die ogiesdraad
op ‘n roete oor nagblink dakke
bespied hy met glasoë die berg wat baai
in die maan se omlynende lig
in klipplate langs die rivier
roer akkedisse lymerig;
wikkel rugstringe los uit ‘n bros slaap –
lispel tonge kalkerig
duiselend ontwaak die geel wind in die ooste
en flonkerend teen die uitspansel
waarin verbeelde wild die jagter
in wentelbane probeer fnuik
gee die skulptuur sy gestalte skitterend prys
ontplof glassplinters in vuurblomme
skuins bo die skof van kompasberg
tot net oor is:
die skarniering van ‘n bloudraadskelet in platinumvlug
privaatskool
dinge loop klopdisselboom hier
in klein engeland; buite wieg
eike anglikaans in oranje poele clivias
die dae verloop soos ‘n novelle in sierskrif
klokslag vieruur drink ons rinkelend tee
en eet ‘n beskuitjie. vistas van tennisbane,
watervore, rugbyvelde onderbenut ook
‘n krieketpawiljoen
ons velle blosend van witbrood en heuning
getoga aas die masters aan komkommer-
broodjies; hul gestelle delikaat
in die toilette kap die jongspan vlytig
lyne kokaïen om dié visioen
sonder draadwerk deur te sien
blik van agter
hierdie reël lê ek voor jou voete neer
staan dan ietwat terug
en wag vir jou om die gedig binne te tree
ek was daar
toe hulle jou verskree het
in die somber kilte van die jaglig
jy het agter jou fiets geskuil
maar die muur het jou rug gekeer
ek kon sien jy’s beangs
ek het teruggesak en my game summier weggegee
self stom van vrees
in die motor
ek het altyd geweet daardie aand
toe ek jou skild moes wees
en ek ge-opt het vir skuld
sou een of ander tyd agterhaal
dat dit juis vanaand moes wees
smiling in slow motion
oor derek jarman se tuin grynslag die maan in stadige aksie
aan die waterkant haal die kragsentrale fluitend asem
binne lê hy sterwend aan aids, sy gesig verbysterend gekapok
hartverskeurend lê sy lover vir oulaas by hom aan –
die pragtige hb, hy wat sy maanhare bo gitswart wenkbroue dra
in sy dagboek langs die bed wiebel woorde waterig
dit sak af teen die skutblad, sediment van ink
versoek
hou net verby
laat die woestyn golwend onder jou gly
laat jou skadu by die eerste oog vashaak
trek romploos saam met my
ignoreer die aanwysers
vergeet die bakens
strek jou arms wyd
trek jou tong terug
sluk jou woorde in …
laat my toe om jou te bemin
ek wil jou my kloutjiespore wys
waar ek die eerste keer vervel het
waar ek my oudste stert afgeskud het
toe ek nog ’n grondgeitjie was
laat my toe om jou te bemin
kom ruik versigtig aan my nek
kyk hoe die lyne in my palm verskuif
ek hys my vaandel aan die buiteposte
gereed vir jou heuglike aankoms
laat my toe om jou te bemin
playstation 2
die seuns bestook mekaar met skerwe vuur
omsigtig katrol die een die ander in
vonke spring bebliksemd uit hul voetsole
die seuns raak die pad heeltemal byster
doen fantasmagories mee aan slagtings
flitsend verhewe bo swaartekrag
die seuns fussileer mekaar met afstandbeheer
reguleer ’n gesiglose armade
neem bestek op in polsende krediete
die seuns beslis vonnisse met vingerkontroles
systap elektronies verdwaalde kartetse
sterf skitterend in 3D al om die ander uur
picture this
na ’n omslag van edmund white se the fairwell ceremony
so sit gavern op ’n houtbank gekruisig
die stad hef hom ’n vaarwel oor grys nokke
stadig sterf sy arms sywaarts
’n gedruis van die hawe se kant af
waar bote soos gestringde galjoene aanlê
gavern laat die son sagkens deur sy ribbes
sy hart nog hamerend aan skemer gedagtes
’n verbygaande boeing skeur die stad se silhoeët
en laat ’n roete bedompig agter
en in sy nek
skaars sigbaar
doen ’n kaposi-stempel
opportunisties aan
Ongetiteld
so neem die digter dan pen op
om ’n oleander opnuut te laat blom
hy wil die son laat skif teen die sementdam
die lusernakkers afkoel in ink
vasberade teken hy evkom-drade aan
wat span oor slote, sluise en geel spore van kruiptrekkers
hy wil die aarde met ’n koevoet en pik oopbreek
klippe vonkend in asbosse laat spring
die digter sukkel om ’n john deere op ’n
onderpad in sy geheue te hou
hy vergeet die prys van ’n seël
as hy gedateerde munte onder poskantoortralies skuif
wanneer hy so kripvreet
raak hy telkens die bliksem in
vir die verraad wat gedagtes pleeg
en wonder: hoe lank bly mens gyselaar van jou jeug?
van elsa se stoep
in die deining tuimel die winderiges
gesuspendeer aan spinnerakke van genade
hulle speel uit die dieptes van hul souterige dye
met die lugvangers wat soos papawers blom oor die mank gety
agterna stap die seuns enkelvlerk
(half geëte skoenlappers)
al met die watermerk van die lagune
– die windseilers keer terug van ’n towerrit
op ’n klam tapyt waarin die wind ’n rombe sny
verinneweer stap hulle in mekaar se sanderige spore
terug na die gelokte kwartiere
die son ruik toutjiesrig in hul hare
hulle sien uit na die glim van stapelvure
die verweer van seisoene vanaand
– net vir vanaand –
op die langebaan geskuif
aan Jeffrey Dahmer
ek stel my voor:
jou oë skat die diepte van sy kuit
die tekstuur van die murg
wat string deur skelet
hoe intens moes jy hulle nie liefhê
om hul asems so uit hul monde te soen
pikant die eerste proe uit die ferm skag van die boarm
liggies eers, dan bedwelmend,
dan dodelik sekuur
die oorgawe waarmee jy houvas
veroorsaak word vinnig versaak
tydens die glibberige wegslag
van ’n middelgreep
ook poësie is beproef as ontroue beminde
wat gebiedend vra om wegkap
afkap verkap ontkop
en bloederig verwond laat leegpopel – die hart
Ongetiteld II
die herfs laat die laning verslete
wolke trek die kanaal styf tot ’n bleek akwaduk
(moenie weggaan nie, noudat ek jou nodig het)
in die onderpad kyk ek uit vir die vilthoed op jou kop
(komaan, gedy)
jy lyk gemaklik wanneer jy gaffel in die hand
die seisoene omdraai in ’n lusernland
(laat my toe om jou te teken)
jou voete proe die milde sooie
wanneer jy sorgvuldig mielies plant
volgens die stand van ’n nuwe maan
(ek wil probeer)
die reënseisoen meld sigself aan
met paddas in terloopse sluise
geraamtes warrelwinde ruk veldmuise uit voetpaaie
jy skrik soos ’n kind vir die weerlig
wat dadelbome soos kerse klief
(moenie keer nie)
in die jaar van die vloed
het slange hul velle prematuur verlaat
grahamstad
hoe verlang ek nie
na dié ou stadjie van sondaars
en gespykerde heiliges
wat windskeef geanker lê
aan ’n bark wat hom vasgeloop
het teen makana se drif.
berigte waai troosteloos
teen klam lamppale vas
uit die kleindruk kan ek aflei
dat my geliefdes nog wel is
en hier waar ek is sukkel ek om te besin
oor die dikte van die skil tussen vinger en lemoen
ek word bestraal van die berg se kant af
my wêreld word by die dag groter
ek aanskou die liederlike vermoedens
wat hul skuilhou in buie van padwoede
ook hier krys die hadida geveerde gedagtes
maar dis asof
asof die nagte killer is
die sterre gly deur bewolkte bane
heel teen my aard
behoef ek kerse te brand
vir ou vriende en vroeggestorwenes
my vingers fynkam indekse
vir warm nuus en leedvermaak
my dae word anders geskik